Sedert Kayla Itsines (27) op 20 Desember 2018 aangekondig het dat sy en haar verloofde, die persoonlike afrigter Tobi Pearce, ’n baba verwag, koer die Australiër oor haar oulike babamagie.

En kyk, haar byna 11 miljoen volgelinge is net so opgewonde oor die kleinding wat op pad is. Maar een ding is seker, almal verkyk hulle aan die klein magie van die beeldskone Kayla, wat natuurlik glad nie ophou oefen het nie.

“Dis hoe ek lyk nadat ek nachos geëet het,” het een van haar aanhangers opgemerk.

“Hoe is jou maag nog so plat? Toe ek 21 weke swanger was, het ek 15 kg aangesit,” het ’n ander aanhanger gewonder.

“Ek, ná ’n donut,” het nog iemand opgemerk.

By ’n “voor-en-na-foto” van haar swangermaag sê Kayla ook dat sy teen 23 en ’n half weke se swangerskap, sowat 6 kg aangesit het.

“Dis ongelooflik om te sien hoe my liggaam verander,” het Kayla by een van die foto’s geskryf.

Kayla doen nou ook moeite om met haar aanhangers oor swangerskap en oefening te gesels. “As jy verkies om deur die loop van jou swangerskap te oefen, moet dit wees om ’n gesonde leefstyl te handhaaf,” het sy in een van haar inskrywings gesê.

In ’n ander inskrywing het sy benadruk dat elke vrou swangerskap anders beleef en elke vrou moet doen wat vir haar reg en gesond voel.

Sy het ook gesê sy oorweeg dit om ’n oefenprogram vir swanger vroue te ontwikkel.

Kayla is veral bekend vir haar hoë intensiteitsoefeninge, maar het in Desember benadruk dat die oefeninge dikwels vinniger en moeiliker lyk vanweë die manier waarop die video’s geredigeer is.

“Ek oefen nou met ligte gewigte en doen die oefeninge met my liggaamsgewig baie stadig en beheersd. Ek spring glad nie. Ek wil hê ek en my babamuffin moet gesond wees,” het sy geskryf.