Dit is byna ondenkbaar, maar terwyl die kraaie nog in Suider-Afrika se snikhete somer gaap, eet mense aan die ander kant van die aardbol ysblokkies van perdebloed saam met macaroni en laat hul motorenjin in die winter heeldag luier, so nie vat dit nie weer nie.

Welkom in Oimjakon, die koudste dorpie op aarde. Net verlede jaar het hulle hier ’n groot elektroniese termometer laat installeer as ’n toeristeaantreklikheid, maar toe die kwik nou die dag tot -62 °C daal, het die ding die gees gegee.

Die winters in Oimjakon is so koud, ys bedek alle oppervlakke buite.

Hoor ’n mens selfs hul wimpers vries wanneer hulle hul neus by die deur uitsteek, kan jy skaars verstaan hoekom mense hier sal wil woon, weliswaar net ’n handjie vol van 500.

In Desember is die dae net sowat vier uur lank, maar in Junie wanneer dit somer is, darem 20 uur.

Dié Siberiese dorpie is geleë in ’n uithoek van die aarde in die Republiek van Sacha (Jakoetië), net ’n paar honderd kilometer van die Arktiese sirkel af. Dit het sy ontstaan te danke aan ’n warmbron daar naby waarheen takbokherders hul kudde gebring het vir water.

Om selfies van bevrore wimpers te neem wanneer die kwik na -50 °C mik, het ’n tydverdryf onder die sowat 500 permanente inwoners van die dorpie in Jakoetië geword.

Die lewe in Oimjakon is allermins maklik.

Hoe byvoorbeeld gemaak wanneer jy snags ’n nood kry? Buitentoe gaan, want dis waar die puttoilet is. Die bevrore grond maak dit onmoontlik om rioolpype ondergronds te lê.

Kinders wat nie van groente hou nie, sal dalk nie omgee om Oimjakon toe te trek nie, want hier word heelwinter hoofsaaklik vleis geëet. Die grond is natuurlik ook te hard om enigiets te plant. Die vleis word dikwels rou of selfs bevrore geëet.

Die inwoners hou baie van stroganina – rou, bevrore vis wat in lang linte gesny word. Nog kosse wat op die aandetetafel verwag kan word, is rendiervleis en rou, bevrore perdelewer.

Pelmeni, bekend as Siberiese ravioli, is deeg met gemaalde vleis en speserye gevul. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Jakoetiërs is dol oor koue kos, byvoorbeeld bevrore rou Arktiese vis, wit salm, witvis. Bevrore perdelewer word as fynproewerskos beskou,” sê Bolot Botsjkarjof, ’n inwoner.

“In ons daaglikse lewe hou ons daarvan om sop met vleis te eet. Vleis is ’n moet. Dit help baie met ons gesondheid.”

In 2014 het die Nieu-Seelandse fotograaf Amos Chappel die dorpie besoek om die lewe hier op film vas te vang. Hy moes sy kamera onder sy klere indruk om te keer dat dit vries en het aan sy eie lyf ervaar hoe koud sulke lae temperature regtig kan wees.

Hy wou die dorpie van bo af afneem om ’n beter idee te gee van hoe die sneeu- en ysbedekte wêreld lyk. Omdat daar geen omringende heuwels is nie, moes Amos ’n radiomas in die middel van die dorpie uitklouter. Daar sit hy toe 50 m bo die grond met die perfekte uitsig.

Maar sy handskoene was so dik dat hy nie die knoppie gedruk kon kry nie. Hy pluk toe vinnig die buitenste handskoene af en neem foto’s.

“Ek kon heel gemaklik die knoppie druk, maar toe ek onder op die grond kom, was my duim gevries,” het Amos vertel.

“Ek het my hand in my broek gedruk en na my gastehuis toe gehardloop. Die volgende twee weke het die vel van daardie vinger afgedop asof ek ’n verskriklike sonbrand opgedoen het.”

Volgens hom oorleef die inwoners die koue met behulp van Roesski tsjai, wat “Russiese tee” beteken. Dis hoe hulle sagkens na wodka verwys. Nodeloos om te sê: Alkoholisme is hier ’n probleem.

Bronne: Siberiantimes.com, Wikipedia.org, Weather.com, wired.com, Daily Mail; FOTO'S: ELITE PHOTO AGENCY, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES