Maar die 21 jarige Erick Breedt van Krugersdorp veg steeds meer as 'n maand later in die Milpark-hospitaal in Johannesburg net so verbete soos wat hy hom teen stropery beywer het.

Erick is op 1 Februarie op die Sandringham-natuurreservaat buite Hoedspruit, Limpopo, deur 'n olifant gegaffel. Hy en 'n span was besig om die grensdrade van die reservaat na te gaan toe die dier hom aanval.

Hy is na 'n hospitaal in Tzaneen geneem en later per lugambulans oorgeplaas na Milpark in Johannesburg, waar hy 'n enkel-en-beenoperasie, behandeling vir sy longe en gesigfrakture ondergaan het.

Hy is steeds in die waakeenheid.

“Erick is een van daardie spesiale mense,” skryf sy ma, Annelie Jordaan, op Support for Erick, 'n groep wat vir haar kind gestig is.

“Hy het 'n besluit geneem om sy lewe aan die bewaring van renosters en olifante te wy.

“Hy het altyd gedink sy grootste gevaar gaan gewapende stropers wees, maar hy sou nooit kon dink dieselfde diere wat hy probeer beskerm, sou hom aanval nie.”

Erick was Maandag weer in die operasiesaal vir werk aan sy stembande.

“Ons is nie seker of Erick ooit weer sal kan praat nie. Sy stembande het baie erge skade gely,” het sy ma gesê.