Sondag het haar vermeende moordenaar, ’n 27-jarige liggewigbokser wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, homself aan die polisie oorhandig.

Félix Verdejo Sánches, wat in 2012 vir Puerto Rico by die Olimpiese Spele in Engeland verteenwoordig het, is Vrydag reeds in San Juan deur die polisie ondervra.

Volgens berigte in die media het hy nie sy volle samewerking met die beamptes gegee nie.

Keishla was 'n maand swanger. Sy is aan haar tandrekords en ’n diamant-tatoeëermerk op haar rug uitgeken. Félix se bynaam is “Diamante”.

Keila Ortiz Rivera sal nooit die laaste gesprek met haar dogter vergeet nie. Dit was een waarin sy haar gemaan het om versigtig te wees. Keila het glo geweet Félix, reeds die pa van ’n dogter, wou nie die baba hê nie en hy het haar dogter volgens haar daaroor gedreig.

Keila het Félix boonop geken. Volgens haar was hy en Keishla saam op skool en was hulle deurentyd die afgelope 11 jaar in ’n verhouding betrokke.

“Hy het ’n familie, hy’s ’n bokser en hy’s ’n openbare figuur,” het Keila haar dogter gemaan. Dit was tevergeefs.

Sy vrou, Eliz Marie Santiago, is ook verskeie kere die afgelope paar dae deur die polisie ondervra. Sy was glo bewus van die affair tussen Félix en Keishla.

’n Ooggetuie, wat as ’n betroubare bron beskryf word, sê hy is op 27 April deur Félix gekontak om te help met die beëindiging van ’n swangerskap.

Volgens die getuie het Félix en Keishla mekaar Donderdagaand gesien. Dis op dié aand dat sy in die gesig bygedam en met 'n onbekende middel ingespuit is.

Keishla se hande en voete is hierna met draad vasgebind en sy is aan ’n gewig vasgemaak. Daarna is haar liggaam in haar voertuig, ’n Kia Forte, gelaai. Die motor is op 30 April gevind. Haar liggaam is daarna vanaf 'n brug in die water gegooi.

Die getuie, wat een van die twee voertuie na die brug bestuur het, sê Félix het Keishla ook met ’n pistool geskiet. Dié skoot is vanaf die brug afgevuur.

Meer as 200 polisiebeamptes het aan die soektog na Keishla deelgeneem.

Felicito a MIS más de 200 policías y a todos los fiscales, que, como un solo equipo, sin descanso y con el mayor de los...

Posted by Comisionado del Negociado de la Policía de Puerto Rico on Sunday, 2 May 2021

Keisha se suster, Bereliz Nichole was die eerste persoon wat snuf in die neus gekry het toe sy nie Vrydagoggend by haar werk opgedaag het nie. Sy het haar tot sosiale media gewend in 'n poging om haar suster te vind.

Haar ma, Keila, het dit ook as ongewoon beskryf. “Sy is baie verantwoordelik wat haar werk aanbetref. Sy het twee hondjies tuis en ook twee katjies. Sy is altyd besig om diere te red. Hierdie was vreemd vir my.”

Top Rank Boxing, wat Félix se bokspromotor tydens sy professionele loopbaan sedert 2012 was, het op Twitter ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul simpatie met Keishla se familie en vriende uitspreek.

Sy laaste boksgeveg in die kryt het hy in die negende ronde teen Masayoshi Nakatani in Desember 2020 in Las Vegas verloor. Daar was gerugte van ’n moontlike geveg teen Richard Commey later vanjaar.

Benewens ’n motorfietsongeluk in 2017, het die bokser ’n baie lae profiel gehad en skynbaar nog nie vantevore met die gereg gebots nie.

Hy word aangekla van Keishla se moord, ontvoering, kaping van ’n voertuig en die moord op ’n ongebore baba. Die ontvoering- en kapingsklagte word gesien as dade wat tot Keishla se dood gelei het.

Die maksimum straf op hierdie klagtes is die doodstraf. In hierdie stadium is dit nog onseker of die doodstraf vir Félix versoek gaan word.

Bronne: nytimes.com, upi.com, boxingscene.com, nyfights.com, newsweek.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe