Die ysingwekkende 911-noodoproep is uitgereik nadat die Amerikaanse Olimpiese skiër Bode Miller se kleuter Saterdag in ’n swembad verdrink het. 

Die 19 maande oue Emeline Miller is gevind waar sy bewusteloos in die bure se swembad dryf tydens ’n partytjie in Kalifornië, berig Express UK.

Luidens berigte het Emeline se ma, Morgan Beck, in die bure se huis gekuier toe sy skielik besef haar dogter is nie by haar nie.

“Sy het omgedraai en haar gesoek, maar nie by haar gesien nie,” het PEOPLE berig. 

Ons het nooit in ’n miljoen jaar gedink ons sou ’n pyn soos hierdie ervaar nie. Haar liefde, lig en gees sal nooit vergeet word nie.

“Sy is onmiddellik na die agterplaas waar die swembad is. Die kind was in die swembad. Die ma het haar dogtertjie uitgehaal en hulle het dadelik begin om noodhulp toe te pas.”

In die oudio-greep wat aan PEOPLE uitgereik is, maak ’n ongeïdentifiseerde vrou ’n paniekbevange oproep na die 911-noodnommer en vra ’n ambulans.
“Haal die baba asem?” vra die operateur. Sy antwoord: “Nee.”

“Komaan, hou aan,” sê die vrou vir ’n man op die agtergrond nadat sy aan die operateur verduidelik het hy pas noodhulp toe.

’n Mens kan hoor hoe ’n manstem sê: “Komaan, meisietjie. Kom nou, baba. Kom nou, baba. Kry dit uit. Kom nou, liefling.”

Sy is later in die hospitaal oorlede.

Bode het intussen sy hartseer in die sosiale media gedeel. 

“Ons is verpletter,” het hy op Instagram geskryf. “Ons babadogter Emmy is gister oorlede. Ons het nooit in ’n miljoen jaar gedink ons sou ’n pyn soos hierdie ervaar nie. Haar liefde, lig en gees sal nooit vergeet word nie.”

Hy het haar beskryf as ’n meisietjie wat lief was vir die lewe en elke dag ten volle geleef het.

Bronne: Express UK, PEOPLE, Instagram