Maar 'vir altyd' het toe nie gehou nie. En die sprokiesverhaal het ná jare saam in ’n smerige egskeidingsgeding aan skerwe gekom.

Van die begin af het die storie van die radiopersoonlikheid en die vrou wat sy knieë lam gemaak het, mense aan die hart gegryp.

Hulle het verlief geraak, getrou en die wêreld platgereis. Deur die moeilike tye het sy by hom gestaan.

Sy was sy rots en pal aan sy sy. Nie eens gesondheidsprobleme kon hulle van mekaar wegdryf nie.

Maar lees 'n mens nou deur die hofstukke van hul egskeidingsgeding, is daar nie ’n teken van die diepe liefde wat hulle eens gedeel het nie.

Die prentjie wat dié stukke skets is van sy beweerde kullery, mishandeling en drankmisbruik.

Sy het uitgevind hy het 'n affair gehad en hy het dit duidelik ontken en toe uitgetrek en nou is dit hierdie lelike ding.

“Die eiser (sy) vind die optrede van die verweerder (hy) onaanvaarbaar en onversoenbaar met ’n normale huweliksverhouding,” lees die dagvaarding.

En boonop is sy glo in groot geldnood en sonder 'n heenkome nadat hy tydens hul huwelik die enigste broodwinner was. 

'n Bron vertroud met die twee se stormagtige huwelik en bitter egskeiding sê aan Huisgenoot: “Hy het haar gebreek.”

Ten spyte van die sprokiesverhaal het ’n donkerder verhaal glo agter die mure van hul spoghuis afgespeel.

Uit die dokument voor die Noord-Gautengse hooggeregshof blyk dit dat daar deur die jare talle pogings was om die huwelik te red deur berading en rehabilitasie vir sy beweerde drankprobleem. Maar klaarblyklik sonder durende sukses.

“Tydens die laaste voorval het die verweerder nie die program voltooi nie, die plek verlaat en sy oormatige drankgewoonte voortgesit,” lees die dagvaarding. En wanneer hy dronk was, lees dit voorts, was hy glo “fisiek dreigend” en “misbruikend”.

Die vrou beweer hy is beheersugtig en manipulerend; dat hy haar verneder en emosioneel mishandel het. “Die eiser is uiters angstig by die verweerder wanneer hy onder die invloed van drank is en hulle baklei.”

Ons bron vertel: “Sy is die wonderlikste mens. Ek weet hoe sterk en wonderlik sy is. Maar sy weet dit nie van haarself nie.”

Volgens die bron is die vrou glo 'n paar keer tydens hul verhouding fisiek mishandel. “Sy drankmisbruik was die groot probleem. Hy sê in sy hofdokumente dat hy slegs na die kliniek is om haar ‘tevrede te stel’, hy dink nie hy het ’n probleem nie.”

In haar hofstukke vertel die vrou sy het 'n vaste werk gehad en eiendomme besit toe sy haar toekomstige man ontmoet het. Sy was finansieel onafhanklik.

Maar hy wou glo hê sy moes hom op sy werkreise plaaslik en oorsee vergesel. Sy het haar werk bedank en haar eiendomme verkoop. “Gevolglik het die eiser finansieel volkome afhanklik van die verweerder geraak.”

Sy kry gedurig oproepe omdat hy ophou betaal het vir alles. Hy het net padgegee en haar met hierdie gemors gelaat.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het ’n konsepbevel uitgereik wat lui dat die vrou geregtig is om in hul luukse gesinshuis te bly tot die huis verkoop word, of tot die egskeiding afgehandel is.

En terwyl sy daar bly, moet die man voortgaan om die eiendomsbelasting en die koste van water en elektrisiteit te dek. Hy moet ook haar mediese fonds, motorversekeringspaaiemente en selfoonkoste betaal tot tyd en wyl die skeisaak afgehandel is.

Maar ons bron beweer die man betaal nie dié tussentydse onderhoudsgeld soos beveel deur regter Cassim Sardiwalla nie. “En die bedrag wat hy aangedui het sy op kan leef met hul troeteldiere is lagwekkend.”

Hy was ook veronderstel om ’n lys van sy bates saam te stel en het dit glo nie gedoen nie. “Hy hoop dat die vrou se geld sal opraak,” sê die ingeligte bron oor haar groeiende regskoste.

Volgens die bron gaan dit sleg met die vrou. “Ek het haar nog nooit so moedeloos gesien nie. Ek bid net sy sal sterker hieruit kom, dat sy nie volkome sal breek nie. Want hy sal daarvan hou.”

Nog 'n bron vertroud met die vervreemde paartjie is “woedend en hartseer” oor die vrou se situasie.

“Sy het uitgevind hy het 'n affair gehad en hy het dit duidelik ontken en toe uitgetrek en nou is dit hierdie lelike ding,” beweer die tweede bron.

Die man is glo welaf, maar wil nie vir sy vervreemde vrou 'n sent gee nie. “Slegs haar regskoste is al omtrent R30 000 en hy weet sy het nie geld nie.”

En volgens die tweede bron het hy, nadat hy uitgetrek het, hul huis in die mark gesit en weer van die mark gehaal – sonder om haar daaroor in te lig.

“Sy weet nie of sy oor 'n maand nog 'n blyplek sal hê nie. Sy kry gedurig oproepe omdat hy ophou betaal het vir alles. Hy het net padgegee en haar met hierdie gemors gelaat. So dit gaan nie baie goed met haar nie.

“Hy klink na hierdie wonderlike, ongelooflike mens. Maar in werklikheid probeer hy sy vrou bedonner. Dis walglik. Wat my nog kwater maak, is dat sy so 'n sagte mens is.”

Die vrou self wou nie met Huisgenoot praat nie, en die omroeper wou nie kommentaar lewer oor die bewerings teen hom of 'n onderhoud toestaan nie.

  • In ’n gesamentlike verklaring by monde van hul regsverteenwoordiger het die egpaar bevestig dat hulle besig is om te skei en tans besig is om oor ’n skikking ooreen te kom. “In dié stadium wil albei die partye versoek dat hulle gelaat word om die persoonlike saak te hanteer en vra die media om hul privaatheid te respekteer,” sê die prokureur.