DJ Jazzy D was op die R55-snelweg in Pretoria na 'n geleentheid onderweg toe hy stilhou en ’n vrou help wat besig was om die lewe te skenk.

“Dit was 22:10 en ek het 'n kar langs die kant van die pad gesien en twee mans wat in teenoorgestelde rigtings hardloop,” het hy vertel.

Maar dit was die vrou, wat op ’n kombers langs die kar gesit en ’n wiel as steun gebruik het, wat sy aandag getrek het. “Dit was omtrent 13 grade C daardie aand, en ek het my ruit afgerol en een van die mans gevra of daar ’n probleem is,” sê hy.

Een van die mans het laat hoor: ”My vrou is besig om te kraam.”

Hy het geweet hy moes iets doen om die vrou te help. “Toe ek nader aan die vrou kom, kon ek sien sy lyk benoud, maar verbasend genoeg het sy kalm gebly."

Jazzy (46) is vertroud met die geboorteproses omdat hy sy twee kinders se geboortes aanskou het en het die vrou verseker alles sal oukei wees.

“Ek was self geskok, en het my selfoon gegryp om die nooddienste te bel, maar daar was geen ontvangs nie.”

Jazzy sê die baba se koppie het in dié stadium reeds gekroon en die enigste opsie was om die baba in die wêreld te help bring.

“Ek het vir ’n oomblik wegbeweeg van die vrou, om my kop in rat te kry en die twee mans te kalmeer. Maar oomblikke later het die vrou vir my gesê sy dink die baba is uit.”

Hy was verstom oor wat gebeur het, en het die vrou gevra of hy die kombers kon oopmaak om seker te maak die baba is oukei.

“En daar was sy, ’n gesonde babadogtertjie, met die naelstring nog aan haar ma geheg. Sy het gehuil. Ek kon my oë nie glo nie, en het in daardie oomblik soveel emosies ervaar, maar ek het veral soveel respek vir die ma van die pasgebore baba gehad.”

Jazzy sê die vrou het die naelstring self losgekry.

“Geen woorde kan daardie vrou se veerkragtigheid beskryf nie; om op haar eie die lewe te skenk en die naelstring los te kry sonder om haar baba skade aan te rig. Dit sal my altyd bybly.”

Hul paadjies het eindelik geskei en die man het sy vrou en pasgebore baba hospitaal toe geneem.

Hoewel Jazzy laat was vir sy geleentheid, kon hy nie anders as om die inspirerende oomblik met sy aanhangers te deel nie. “Toe my optrede om 05:00 klaar is, het ek die man gebel om uit te vind of hulle oukei is.”

Jazzy sê hy het gehoor die baba is gesond, maar die ma was uitgeput ná die geboorte.

“Ek was so bly. Vroue is werklik die onderskatte helde van die wêreld en dat dit enkele ure voor Vrouedag gebeur het, is iets wat ek nie kan verduidelik nie. “Moet vroue nooit onderskat nie; hulle is magtig!”

Die omroeper het mans aangemoedig om deel te neem aan geboorte-oefeninge of kursusse.

“Daar kan enige tyd, enige oomblik, iets gebeur. Dis so belangrik om as man opgevoed te wees wat dié dinge betref.”