Hy het soveel in gemeen met pres. Donald Trump dat dit skoon aardig is – soos daardie eienaardige blonde boskaas en die gewoonte om dinge kwyt te raak wat liewer ongesê moes gebly het.

Boris Johnson, voormalige Britse minister van buitelandse sake en moontlik hul volgende premier, het blykbaar ’n ewe onstuimige liefdeslewe as die Amerikaanse president.

Terwyl die 55-jarige politikus vir die derde keer op pad is kansel toe, het die sappige besonderhede oor ’n vurige rusie verlede maand tussen hom en sy meisie, Carrie Symonds (31), nie net die bure nie, maar die hele wêreld se ore bereik.

So erg het hulle kort ná middernag op Saterdag 22 Junie in haar woonstel in Londen op mekaar geskree, gevloek en breekgoed stukkend gegooi, dat die bure die polisie gebel het.

Besonderhede oor die vurige rusie, waarvan die bure ewe flink ’n klankopname gemaak het, is aan die Britse koerant The Guardian gelek.

Dit het Britse kiesers laat regop sit en vra: Is dit regtig die beste kandidaat wat die Konserwatiewe Party kon vind om premier Theresa May, wat verlede maand bedank het, te vervang?

En is dit dalk ’n voorsmakie van wat wag as Boris by 10 Downing Street sou intrek?

Hy het glo trouplanne met die veel jonger Carrie, met wie hy sy tweede vrou, Marina Wheeler (55), verkul het.

Carrie, wat as knap skakelbeampte naam gemaak het, was aanvanklik so verlief op die eksentrieke politikus dat sy hom glo “Bozzie Bear” genoem het.

Carrie word as ’n knap jong skakelbeampte bestempe
Carrie word as ’n knap jong skakelbeampte bestempel. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die eksentrieke politikus en sy vrou, Marina Wheel
Die eksentrieke politikus en sy vrou, Marina Wheeler, van wie hy nou gaan skei. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar hy was geen oulike teddiebeer nie en sy allesbehalwe lieftallig toe daardie opspraakwekkende rusie tussen hulle losgebars het – blykbaar omdat hy rooiwyn op haar rusbank gemors het.

Toe sy hom oor sy lompheid berispe, het Boris hom lelik vererg en volgens berigte op haar geskree: “Klim van my f***** skootrekenaar af!” gevolg deur ’n harde slag.

Al het sy hom luidkeels en herhaaldelik aangesê om uit haar woonstel te loop, het hy botweg geweier.

Carrie was woedend oor die skade aan haar rusbank en het hom toegesnou: “Jy gee eenvoudig vir niks om nie, want jy’s bederf. Jy gee nie ’n duit om vir geld of enigiets nie!”

Nou wonder die Britte: Het sy daarmee dalk ’n goeie opsomming gegee van die man wat hul land wil lei – en dit in dié moeilike tyd met die Verenigde Koninkryk se problematiese uittrede uit die Europese Unie?

Sy dogter Lara (26) het klaarblyklik ook nie ’n hoë dunk van haar pa nie. Toe ­Boris se affair met Carrie al­gemene kennis word, het sy blykbaar vir vriende gesê sy dink haar pa is “ ’n selfsugtige bliksem”.

Die oud­minister van buite­landse sake se oudste d
Die oud­minister van buite­landse sake se oudste dogter, Lara, is net vyf jaar jonger as haar pa se meisie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is die oudste van sy vier kinders uit sy huwelik met Marina, ’n suksesvolle prokureur.

Hulle is verlede jaar ná ’n huwelik van 25 jaar uitmekaar toe sy uit­gevind het van sy affair met Carrie, wat net vyf jaar ouer as hul oudste kind is. Die res van hul kroos is Milo (24), Cas­sia (22) en Theodore (20).

Boris en Marina se eie liefdesverhaal het ironies genoeg destyds ook as ’n affair begin terwyl hy nog getroud was met sy eerste vrou, Allegra Mostyn-Owen (55), sy studenteliefde aan die Universiteit van Oxford.

Hulle is in 1993 ná ’n huwelik van ses jaar geskei toe sy uitgevind het hy verkul haar met Marina.

Die tweede mev. Johnson was vol vertroue dat sy Boris van sy dwalende oog kon genees, maar tydens hul huwelik het hy ’n rits affairs gehad wat volgens berigte glo op minstens twee swangerskappe uitgeloop het.  

Toe sy vier jaar lange affair met Petronella Wyatt, ’n Britse joernalis en rubriek­skrywer, in 2004 op die lappe kom, het dit hom byna sy politieke loopbaan gekos. Hy is van sy pos as skaduminister van kuns en kultuur onthef omdat hy aanvanklik oor die verhouding gelieg het.

Pynlike besonderhede oor die affair het uitgelek, soos dat Boris Petronella beloof het dat hy Marina sou verlaat om met haar te trou en haar aangemoedig het om ’n aborsie te kry toe sy swanger raak.

Petronella sou later vertel hy het vir haar gesê hy vind dit “werklik onredelik” dat mans tot net een vrou beperk word.

In 2009 het nog ’n bom oor Boris, toe burgemeester van Londen, se blonde kop gebars toe koerante onthul hy het ’n affair met ’n kunskonsultant, Helen Mac­intyre, en het glo ’n kind by haar verwek.

Vir die lydsame Marina was dit een te veel en sy het haar ontroue man uit hul gesinswoning geskop. Maar Boris, wat glo op sy sjarme eerder as sy voorkoms staatmaak om vroue te bekoor, het sy vrou oorreed om hom terug te vat.

Helen het met die geboorte van haar dogter, Stephanie, in November 2009 nie die naam van die pa op die geboorte­sertifikaat ingevul nie. Die kind het glo vlasblonde hare, maar nóg Boris nóg ­Helen het al ooit ontken of bevestig dat hy haar pa is.

Die finale spyker in die doodskis van Boris en Marina se huwelik was sy affair met die veel jonger Carrie.

Toe die sappige besonder­hede daaroor verlede jaar aan die lig kom, is Marina reguit skeiprokureurs toe.

Ook premier May het die hele storie smerig gevind en Carrie, toe nog ’n beeldpoetser vir die Konserwatiewe Party, was haar werk kwyt.

Carrie kom toe agter hoe moeilik dit is om met Boris saam te leef. Al het sy hom aangemoedig om gewig te verloor en sy wilde blonde lokke korter te knip, is hy steeds ’n slonskous.

Onlangse foto’s in die Britse media wys die binnekant van sy Toyota Previa lê bestrooi met leë koffiebekers, wegneemkoshouers en klere.

En tydens sy verkiesingsveldtog teen sy skoongesig-opponent, Jeremy Hunt, het Boris die wenkbroue laat lig toe hy drie dae ná mekaar dieselfde opvallende sokkies gedra het.

Pleks van hom oor sy planne rondom Brexit uitvra, het joernaliste hom eerder met vrae gepeper oor die opspraakwekkende rusie met sy minnares. Maar hy hou vol dit was “ ’n privaat aangeleentheid”.

Sedert die relletjie die nuus gehaal het, kampeer aktiviste wat teen Brexit gekant is by Carrie se woonstel en maak dit vir die twee onmoontlik om daarheen terug te keer.

Boris se span het dié lie­fie-­liefie-foto van hom
Boris se span het dié lie­fie-­liefie-foto van hom en Carrie die wêreld ingestuur ná die rusie tussen die paartjie. Foto: Collect

Maar as Boris sy sin kry, sal sy binnekort saam met hom by 10 Downing Street intrek. Die leierstryd in die regerende ­Konserwatiewe Party behoort vandees­maand al ’n ­wenner op te lewer – en Boris is oortuig dit sal hy wees.

Ingeligtes sê wanneer sy egskeiding afgehandel is, wil hy so gou moontlik met Carrie trou.

As sy instem om die derde mev. Johnson te word, sal dit maar die tweede keer in die Britse geskiedenis wees dat ’n premier skei en weer trou terwyl hy dié amp beklee.

Die vorige keer was meer as twee eeue gelede tydens die bewind van Augustus FitzRoy, hertog van Grafton, van 1768 tot ’70.

As Boris en Carrie wel die nuwe intrekkers van 10 Downing Street word, sal hulle hulle dan so stemmig gedra soos wat die stywelip-Britte van hul premiers­paar verwag?

Soos sy twee eksvroue Carrie kan vertel, is ’n huwelik met Boris nie maanskyn en rose nie. Maar volgens aanduidings is sy self geen katjie om sonder hand­skoene aan te pak nie.

Die lewe saam met haar was “nooit vervelig” nie, het ’n vorige kêrel, Oliver Haiste, aan The Daily Mail gesê.

“Ons verhouding was taamlik onstuimig.”

Ook Boris het ’n plofbare humeur. Sy biograaf, Sonia Purnell, beskryf dit as skrikwekkend om te sien hoe hy binne sekondes van bui kan verander.

“Hy het die vurigste en onbeteuelbaarste woede wat ek nog gesien het,” sê Sonia van Boris, wat eers byna 20 jaar ’n joernalis was. Sy het in die 1990’s saam met hom gewerk.

“Boris het ’n woeste humeur,” beaam Mark Stanway, nog ’n oudkollega. “Hy is g’n snoesige teddiebeer nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.