Wim Hof bring elke dag 61 minute in ’n yskoue bad
Wim Hof bring elke dag 61 minute in ’n yskoue bad deur. Hy glo dit help hom om siekte en depressie af te weer.

Hy leef daarvoor om homself tot die uiterste te beproef. En hoe ­kouer, hoe beter. Dis dié dat Wim Hof sukkel om te besluit wanneer hy die naaste aan bokveld toe was. Die keuse is eenvoudig te groot.

Hier in sy kombuis in die nat weste van Nederland het ek vanoggend al verstom geluister na minstens 12 van sy eskapades wat ek beslis nie sou oorleef het nie.

Daar’s die keer dat hy 112 minute in ’n deursigtige boks vol ys gestaan het.

En die keer toe die kornea van sy oog gevries het terwyl hy onder die ys in ’n meer naby die Noordpoolsirkel geswem het. Met daardie geleentheid het hy sy bewussyn verloor en moes ’n reddings­duiker hom aan sy enkel uitsleep.

Die hoekom hulle hom “Die ysman” noem.

Hy het al kaalbolyf met een vinger aan ’n tou tussen twee lugballonne 1,6 km bo die grond gehang.

En in ’n hewige sneeustorm verdwaal terwyl hy in net ’n kortbroekie in die “doodsone” van die berg Everest gedraf het.

Sien, al Wim se stories behels dat hy sy klere in vriesende koue uittrek en by die dood omdraai.


Eindelik lig hy sy hemp om my die aandenking van sy nouste ontkoming te wys. Dis ’n letsel so groot soos ’n vuis bo sy derms. En dan vertel hy my die walglikste storie wat ek al ooit gehoor het.

Maar wag, kom ek vertel julle eers meer oor Wim Hof die mens . . .

Hy is ’n fisiologiese genie wat oortuig is hy kan siekte, inflammasie en depressie voorkom.

Hoe? Met sy “kuur” bestaande uit ’n asemhalingstegniek soortgelyk aan die antieke Tibettaanse praktyk tummo; yskoue daaglikse storte of ysbaddens; en meditasie.

Hy noem dit die Wim Hof-metode, oftewel WHM. Sy manier om te wys dit werk, is om herhaaldelik die dood te tart. In die proses het hy al 26 Guinnesswêreldrekords opgestel.

Sy “gewone” dagroetine begin met ’n ysbad van 61 minute: een minuut vir elkeen van sy lewensjare.

Ons gesels vandag in sy “hoofkantoor” in Stroe, sowat ’n uur buite Amsterdam, omdat hy onlangs sy nuwe boek, The Wim Hof Method, bekendgestel het. Dit gaan oor sy metode, maar ook sy lewensverhaal.

Sy geboorte (of eerste ampersterfte, as die tweelingbroer wat die dokters misgekyk het) en sy Amsterdamse kinderjare as een van nege koue en honger sibbes.

Sy vorige Britse besoeker was die akteur Joseph Fiennes, of “Finesse”, soos Wim dit in sy Nederlandse aksent uitspreek. Joseph speel Wim in ’n rolprent oor sy lewe, getiteld The Ice Man.

Joseph Fiennes berei voor om Wim in ’n fliek oor s
Joseph Fiennes berei voor om Wim in ’n fliek oor sy lewe te speel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wim het Joseph as “baie aangenaam en nederig” ervaar en was ingenome om te hoor “hy’s ’n baie goeie akteur”. Hy is veral verheug dat Joseph, wat nou diep in WHM-opleiding is, sy boodskap wil verpersoonlik.

“Mense aanvaar enigiets wat deur Hollywood uitbeeld word, en dis goed. My metode moet oor die planeet versprei sodat mense die keuse het om gelukkig, sterk en gesond te word; om meer beheer te hê. Dit is wetenskaplik bewys.”


Hy kan ure praat oor die wetenskaplike studies oor sy buitengewone vermoëns. Hy kan sy kernliggaamstemperatuur laat daal tot hipotermiese vlakke wat vir ander mense dodelik is, en skynbaar sy eie adrenalien, epinefrien, dopamien, serotonien en natuurlike opioïede beheer deur die breinstam te selfaktiveer.


Sy nuwe obsessie is covid.

“Met covid is inflammasie die skadelikste faktor,” sê hy. “Die ingebore immuunstelsel skep die sogenaamde ‘sitokienstorm’, maar ek kan dit met my asemhaling laat afneem.”

Hy verwys na ’n studie in 2014 toe hy aan monitors gekoppel en met E. coli-bakterieë ingespuit is. Hy het sy spesiale asemhalingsmetode gebruik en niks van die griepagtige koors, bewings en pyne van die beheergroep ervaar nie.

Dokters het sy vlak van bloedsuurstofversadiging na 30 sien daal; die meeste mense sterf by 50.

“Ek het opsetlik na 30 gegaan, wat die meettoestel laat afskakel het, asof ek doodgegaan het. Maar ek was springlewendig. Ek het ’n beheerde hipoksiese staat binnegegaan, wat baie voordelig vir die liggaam kan wees.”

Die deel dat hy ’n suurstoftekort ervaar het, is dalk waar, maar die deel dat dit vir almal voordelig is, dalk nie.

Om te bewys hy is nie ’n “genetiese frats” nie (hy het ’n ongewone hoeveelheid bruin vet wat hom teen die koue beskerm) het hy ’n groep van 12 manlike studente in die WHM opgelei.

Ná vier dae is hulle ook met E. coli ingespuit. Nie een het sleg gereageer nie. Sy gevolgtrekking: Ons almal kan covid met die krag van ons verstand oorwin.

Dit klink dalk vergesog. Tog het Wim miljoene volgelinge. (Ook sy hond, Zina, het 3 000 volgelinge op Instagram.)

Zina het haar eie Instagram-blad. Foto: Instagram
Zina het haar eie Instagram-blad. Foto: Instagram / @zina_brownshadow

Sy metode word tot in Nieu-Seeland en Suid-Amerika aangeleer. Hy het Oprah Winfrey en die akteur Orlando Bloom opgelei.

En Wim se dogter, Laura, is oortuig nadat hy een oggend haar ergste babelas ooit deur asemhaling genees het.

By sy Poolse plaashuis trek sy studente uit vir bibbersessies wat hiperventilering en asemophouding insluit.

“Flou raak is oukei,” sê Wim vir hulle. “Dit beteken jy gaan diep.”

Agterna staan hulle amper kaal in die sneeu. Die volledige kursus eindig met ’n tog teen die berg Sniezka (1,6 km) uit. Die studente, net in kortbroeke of bikini’s, se oë blink van openbaring.


Wim se “probeer en fouteer”-proses is nou ’n suksesvolle onderneming danksy sy oudste seun, Enahm. Daar is ’n web­tuiste, en slagspreuke soos “Haal asem, bliksem!” en “Ek is nie bang vir sterf nie; ek is bang ek het nie geleef nie!”

Wim se oudste seun, Enahm. Foto: Instagram / @enah
Wim se oudste seun, Enahm. Foto: Instagram / @enahm_hof

Daar is Wim Hof-handelsware soos plakkies, kortbroeke en T-hemde met die boodskap “Raak hoog op jou eie voorraad”.

Vier van sy ses kinders is by die onderneming betrokke, en sommige van sy agt sibbes.

“Dit verdien miljoene,” sê hy. “Maar ek bodder nie oor die geld nie. Ek is dieselfde mens as 10 jaar gelede toe ek niks gehad het nie.”

Hoeveel miljoene?

“Ek weet nie. Vier, vyf miljoen.”

’n Ander seun, Michael (na Michael Jackson genoem), kom in terwyl ons gesels. Hoe is Wim as pa?

“Ek kan enigiets met hom bespreek. Hy’s baie toeganklik,” antwoord Michael.

Wim bieg hy is soms moeilik, “maar my seuns help my weer my weg terugvind”.

Moeilik?

“Ek het glad nie ’n sakebrein nie,” sê Wim. “Ek laat mense hierheen kom wanneer hulle nie moet nie, want ons het ’n maatskappy, en mense moet iets soos R600 000 betaal om my vir ’n uur te kry. En ek laat mense kom, nie net gratis nie; hulle bly sommer ’n ruk. Dit kan nie gedoen word as jy ’n maatskappy het nie . . .”

“Ja,” sê Michael. “Jy moet sake en persoonlike dinge skei.”

Saam met die komediant Russell Brand. Foto: Instag
Saam met die komediant Russell Brand. Foto: Instagram
Die geselsprogramaanbieder Oprah Winfrey tel onder
Die geselsprogramaanbieder Oprah Winfrey tel onder sy aanhangers. Foto: Instagram
Ook Jim Carrey is 'n aanhanger. Foto: Instagram
Ook Jim Carrey is 'n aanhanger. Foto: Instagram
Wim en Jason Statham. Foto: Instagram
Wim en Jason Statham. Foto: Instagram

En dan is daar sy gewoonte om met sy “kritici” in die sosiale media te stry.

Dis onprofessioneel, erken hy. Soos die keer toe iemand hom aangevat het nadat hy met ’n bier gesien is. Wim se reaksie was hy’s g’n puritein of voorstander van deug­saamheid nie. Om dit te bewys, sluk hy toe ’n bier af, staan drie uur lank halfkaal in die “perdhouding” in die sneeu, en sluk toe nog ’n bier!

Maar deesdae probeer hy die ­kritiek ignoreer deur eerder op sy suksesverhale te fokus. Soos die Amerikaanse seesoldate en gevegskunskampioene wat hy oplei.

En Scott Carney, die ondersoekende verslaggewer vir die tydskrif Playboy, wat by sy Poolse plaas opgedaag het om Wim as ’n kwak te ontbloot – en toe so bekeerd daar weg is dat hy die boek What Doesn’t Kill Us geskryf het.

Maar kan WHM jou doodmaak?

In 2017 was daar omstredenheid oor WHM weens die verdrinking van ’n joga-­afrigter in Sacramento, asook die verdrinking van ’n Israeli in Kalifornië. Wim ontken hulle het weens sy metode gesterf.

Wim is met ’n doel op hierdie aarde, verklaar sy boek.

Terwyl sy Katolieke ma na die teater gestoot is vir ’n noodkeisersnee, het sy glo geskree: “Laat die kind leef! Ek sal hom ’n sendeling maak!” Sy het toe glo in die hospitaalgang natuurlik die lewe geskenk “deur ’n mag onbekend aan haar of enigiemand anders”.

Wim skryf in sy boek hy was pers van amperse versmoring en dat sy ma se krete “ ’n tatoe op my siel is”.

Die boek lees soos ’n professie of belydenis: Op vier jaar het hy “ ’n oomblik van openbaring gehad . . .

Ek het net lig gesien. Lig! Wat was dit? Ek het nie toe geweet nie, en ek weet nou nog nie.”


Op die ouderdom van ses was hy drie weke in die hospitaal met Weilsiekte weens rioolwater. Op sewe het hy in die sneeu naby sy huis aan die slaap geraak en is hy deur sy ouers in die beginfase van hipotermie aangetref.

Wim glo dié voorvalle was “voorlopers”.

Sy familie was Rooms, maar Wim se passie was Oosterse mistisisme. Op 13 het hy ’n vegetariër geword, later Sanskrit geleer, en leerstellings soos Yoga Sutras en Bhagavad Gita gelees.

“Ek het deur dit alles gegaan, maar kon steeds niks verstaan nie.”

Koue was sy ware leermeester.

Vir Wim is die ysige koue verfrissend. Foto: Inst
Vir Wim is die ysige koue verfrissend. Foto: Instagram

Van die ouderdom van 17 het hy in ’n verlate weeshuis in Amsterdam geplak. Dit was vir hom ’n era van vrye denke. Hy het per fiets na Spanje gereis, kaal joga gedoen, daagliks in ’n ysige poel gespring en sy eerste vrou, Marivelle-Maria, oftewel “Olaya”, ontmoet.

Sy was die ma van die eerste van sy ses kinders.

Hulle het later na ’n verlate plaashuis in die Spaanse berge getrek, en Wim het as Engelsonderwyser op die naaste dorpie gewerk. Maar Olaya het depressief geraak. “Sy het nie die kinders versorg nie.”

Toe neem hy haar terug na haar ouers en vat hul kinders, tussen een en vier jaar oud, na Nederland.

Later het hy as ’n avontuurgids begin werk. Hy het daarvan gehou, want in die berge was daar koue water en sneeu.

In die somer van 1995 is die kinders vir drie weke met hul ma in Pamplona herenig terwyl hy gewerk het. Aan die einde van daardie tyd het Olaya (35) die kinders (toe sewe tot 12 jaar oud) totsiens gesoen en van haar woonstel na haar dood gespring.

“Jy kan nie stilstaan nie,” sê Wim. “Weet jy wat my genees het? Die koue water.”

Vroeër vanjaar by ’n oord in Pole.
Vroeër vanjaar by ’n oord in Pole.

Het hy self depressie gehad?

“Ja, ek het. Maar ek is ook baie bekwaam om dit te beheer. Ek het mense met depressie behandel en hulle het daarvan ontslae geraak; beheer en balans teruggekry.”

Sy idees is uitdagend. Baie mense sal ongemaklik of kwaad wees oor hoe hy oor geestesiekte praat, asook die sinspeling dat mense wat nie met WHM beheer oor hul emosies verkry nie, misluk.

Wim is tans betrokke by twee studies: een oor DNS en depressie aan die Universiteit van Kalifornië, en een oor die behandeling van bipolêre steuring aan Michigan se Wayne-universiteit.

Ek ontmoet ook vir Erin (32), die ma van Wim se jongste kind, Eden (2). Hulle het mekaar vier jaar gelede ontmoet toe sy ’n WHM-student was.

Sy kinders se eerste reaksie toe sy by Wim intrek?

“Dit was omtrént ’n herrie; hulle wou haar eers glad nie aanvaar nie omdat sy jonger as hulle is,” vertel Wim.

“Maar dit was weens die trauma van die verlies van hul ma. Nou is hulle lief vir haar . . . En sy gee my vrede en geluk.”

Wim, sy oudste twee kinders, Laura en Michael, sy
Wim, sy oudste twee kinders, Laura en Michael, sy vrou, Erin, en hul seun, Eden.

Maar hy het ook ’n vyfde kind, nou 17, wat hy jare laas gesien het.

Hy het die kind se ma in 2003, vyf jaar ná Olya se dood, ontmoet en by haar en haar twee kinders in Amsterdam ingetrek. Saam het hulle toe ’n kind gehad.

Maar toe hy een aand van Pole af terugkeer, is hy glo die deur gewys.

“Dit was voorbedag. Dit was nie lekker nie,” sê hy. Haar twee ouer kinders het “soos ’n giftige rankplant” tussen hulle gekom. Die polisie het Wim toe weens “gesinsverstoring” aangekeer.

“Hulle neem altyd aan die man is die aggressor. Hulle het my die nag in ’n sel gesit,” vertel hy.

Sedertdien word hy toegang tot sy seun verhinder.

Daarna het hy in ’n tuinhut ingetrek en depressief geraak.

“Gewoonlik is dit vir my moeilik om terneergedruk te raak, want ek het baie hard geoefen hoe om emosies te hanteer.”

Hy ­beveel gereelde meditasie aan.
Hy ­beveel gereelde meditasie aan. Foto: Instagram


En so hoor ek die walglike storie van sy grootste dans met die doderyk.

In die jare voor hy Caroline ontmoet het, verduidelik Wim, het hy soms na Vondelpark in Amsterdam gegaan, kaal uitgetrek en op die bekende spuitfontein gaan sit om homself ’n “water-enema”
te gee.

Ek: “Het jy regtig op ’n fontein gesit?”

Wim: “Ja. Met my gat.”

Ek: “Maar hoekom?”

Wim: “Om my derms te reinig.”

Ek: “Jy maak seker ’n grap.”

Wim: “Ek is ernstig.”

Hy het dit glo 15 jaar gedoen, en toe 10 jaar nie. Tot die traumatiese skeiding van Caroline . . .

“Ek was baie gespanne en ek besluit om myself weer te gaan reinig,” verduidelik hy.

Maar toe hy daar kom, vind hy die stadsowerheid het intussen die ou, wye mond van die spuitfontein vervang met ’n dun, skerp een. Hy het gedink dit sal oukei wees, maar weens die dunner opening was die waterstroom baie sterker. “Dit het soos ’n mes deur my derms gesny.”

Ek hiperventileer terwyl ek my voorstel hoe Joseph Fiennes dit in die fliek sal uitbeeld.

Het hy sy bewussyn verloor?

“Nee, ek het na die kant geswem en in die water gebly, want dit was koel.”

Hy sê ’n chirurg moes ’n vertikale insnyding deur sy buikspiere maak en sy ingewande uithaal om dit van vuil water te reinig.

“Twee weke later was ek uit die hospitaal, met ’n oop wond. Elke dag moes ek die etter uitkry. My vel het stadig teruggegroei. Vier maande later was ek met ’n oop wond terug in die ys vir ’n wêreld­rekord. Ek is baie sterk.”

En is dit die naaste wat hy aan die dood gekom het?

“Ja.”

Die Wim Hof-kure

Vir babelas

  • Haal diep asem, hou in, en blaas dit weer heeltemal uit.
  • Herhaal 30 keer.
  • Binne 20 minute sal jou hoofpyn weg wees.

Hoe werk dit?

Die asemhaling alkaliseer die bloed en elimineer so die suur veroorsaak deur gifstowwe soos alkohol. Twintig tot 25 minute ná die oefening behoort jy beter te voel.

Hoofpyn

  • Vertraag jou pas.
  • Asem heeltemal in en ontspan om 10 keer uit te asem.
  • Staan stil of sit in ’n veilige posisie.
  • Asem heeltemal in, hou jou asem vyf sekondes lank en probeer die asem na jou kop druk of herlei.
  • Laat gaan.
  • Herhaal die stappe tot jou hoofpyn verdwyn.

Hoe werk dit?

’n Hoofpyn dui aan die brein word suurstof ontneem. Dié oefening voorsien jou brein weer van suurstof.

Maak hande en voete warm

  • Vul ’n emmer met een derde ys en twee derdes water.
  • Herlei jou geestesfokus na jou hande (of voete).
  • Plaas jou hande of voete in die ys­emmer.
  • Hou dit twee minute daar. In ’n sta­dium behoort dit warm pleks van koud te begin voel.
  • Haal jou hande of voete uit die ys­emmer, maar hou jou geestesfokus daarop.
  • Skud dit verskeie kere uit om die bloedvloei na jou nuut ontwaakte ledemate aan te moedig.

Hoe werk dit?

Jou bloedvate vernou eers in die ysemmer, maar maak weer oop wanneer jou bloedtemperatuur na 10 °C daal. Jy herstel so die fisiologie in jou ledemate.

Mense wat dikwels van koue hande of voete kla, ly aan swak vaatvernouing en -verwyding. Die spiere om die are in hande moet heropgelei word.

Doen die ysemmeroefening ’n paar dae en jou ledemate sal nie meer so koud voel nie.

© The Times Magazine/News Licensing; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, GALLO IMAGES/ALAMY, INSTAGRAM/ICEMAN_HOF
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

’n Geredigeerde uittreksel uit The Wim Hof Method – Activate Your Potential, Transcend Your Limits deur Wim Hof (Rider, R379). Teen dié prys beskikbaar by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.