Ben Coetzee, ’n elektrisiën van Jackaroo Park op dié dorp, het glo Sondagmiddag sy vlieër in ’n oop stuk veld gevlieg toe die voorval gebeur.

Jaco Coetzee, Ben se broer, vertel Woensdag aan Huisgenoot dit was ’n tragiese voorval waarvan niemand die gevolge sou kon voorspel nie.

Hy sê Ben was glo in die proses om sy vlieër van die grond af op te lig en in die lug te gooi toe die grond onder hom skielik meegee. 

“ ’n Ondergrondse vuur het vermoedelik daartoe aanleiding gegee dat die sinkgat gevorm het,” vertel Jaco.

Die toneel waar die ondergrondse vure steeds brand. Foto: Verskaf

“Nadat die grond meegegee het, het Ben in dié ondergrondse vuur beland en van sy kleintoontjie tot sy naeltjie gebrand. Die wonde is oorwegend tweedegraadse brandwonde.”

In die meeste Suid-Afrikaanse gevalle is dit ondergrondse veengrond wat brand. Veen is moerasgrond wat halfverkoolde plantstowwe bevat. In baie gevalle kan 'n mens duidelik sien hoe die grond rooi gloei.

Dit is waarskynlik daarom dat Ben volgens nooddienste op die toneel gevoel het asof hy “in warm kole gedompel is”.

Jaco vertel Ben is per ambulans na ’n hospitaal op eMalahleni gehaas. Aanvanklik is gedink sy beserings is nie ernstig nie, maar later is bepaal hy het oor meer as 20% van sy liggaam brandwonde opgedoen.

“Ek het Sondag uit Johannesburg gejaag om by hom te wees,” vertel Jaco.

“Hy is in ongelooflike pyn. Ons stoei nou om hom na ’n privaat hospitaal oor te plaas omdat hy nie ’n mediese fonds het nie. Ons sal waarskynlik eers later in die week weet hoe die pad vorentoe lyk, maar in dié stadium lyk dit of hy sy tone kan verloor.” 

Gavin Cooper, ’n lid van Legacy Emergency Specialists, wat eerste op die toneel was, sê hy kon nie met die ambulans na die presiese plek ry nie omdat die grond onstabiel was.

Ben Coetzee word deur paramedici behandel nadat die die sinkgat onder hom meegegee het. Foto: Verskaf

“Ons het Ben onmiddellik aan ’n drup gesit om binneaarse toediening van vog te begin omdat die brandwonde groot vogverlies veroorsaak het,”  verduidelik hy.

“Sy kortbroek was geskroei en albei sy bene het tweedegraadse brandwonde opgedoen. Die hoë intensiteit van die hitte het sy vel stukkend gebrand.”

Maureen Scheepers, ’n woordvoerder vir SA Community Crime Watch op eMalahleni, sê ’n proses is reeds aan die gang gesit om te bepaal aan wie die stuk grond behoort. Sy sê daar is met onder meer eMalahleni se rampbestuur, wetstoepassingsagentskappe en die Hero burn-stigting vergader.

“Ons is bekommerd, want hierdie stuk grond is net sowat 300 m van huise in die omgewing,” vertel sy.

“Met Dinsdag se besoek aan die toneel het ons ’n stuk hout in die grond gedruk en die hout het onmiddellik vlam gevat. Dit is ’n ongelooflike groot veiligheidsrisiko en omdat dit geskiedkundige grond is, is dit effens moeiliker om te bepaal aan wie dit behoort.”

’n Ondersoek na die voorval duur steeds voort.