Dit kon kwalik op ’n slegter tyd gebeur het. Ten minste het ons die internet om ons deur die inperking te dra, het baie mense verlig gesug toe pres. Cyril Ramaphosa aankondig almal moet drie weke by die huis bly. Maar toe kom die waarskuwing van internetdiensverskaffers: Daar is “ondersese kabelprobleme” en ons kon daarom trae internet ervaar.

Ja, daar was wéér fout met die West African Cable System (WACS) en die South Atlantic Telecommunications 3 (SAT-3). Dié twee kabels help om Suid-Afrika met Europa, en so met die res van die wêreld, te verbind.

Dieselfde kabels het ook in Januarie gebreek. Die jongste probleme is gelukkig betreklik gou deur kabelskipsendings reggestel. Maar hoe werk dié kabels? En hoekom is ons so afhanklik van iets wat myle ver gebeur – en dit nog onderwater ook?

Wat is ondersese kabels?

“Die ‘wolk’ waarin mense dink hul data rondsweef, is eintlik in die oseaan aangesien 99% van internasionale dataverkeer vandag deur ondersese kabels gaan,” verduidelik Fanie Pretorius, ’n ondersesekabelbedryfkenner en die Suid- Afrikaanse hoof van die multinasionale maatskappy Angola Cables.

Daar is vyf groot kabels wat Afrika bedien, maar altesaam 406 kabels wêreldwyd.

Optiese vesel versprei oneindig meer inligting as
Optiese vesel versprei oneindig meer inligting as konvensionele koperlyne, voorheen die hoofmiddel vir telekommunikasie.

“Dis ’n glaskabel wat byvoorbeeld heelpad van Suid-Afrika tot in Europa, en meer onlangs ook Suid-Amerika, strek”, sê Steven Ambrose, tegnologiesektor-ontleder van Strategy Worx.

Datatransmissie met ’n ondersese kabel is tot agt keer so vinnig as wanneer dit per satelliet gedoen word.

Die kabels is verbasend dun: Die deursnee wissel van sowat 8 cm tot dié van ’n tuinslang. Die kern bestaan uit stringe optiese vesel (’n soort glas of glasagtige materiaal) wat elk omtrent so dik soos ’n haar is.

Dié vesels is in verskeie lae gehul, soos waterbestande silikonjellie, koper om elektrisiteit te gelei om die data aan die beweeg te hou, en ook beskermende en waterwerende polikarbonaat, aluminium, ’n gevlegte staaldraadhulsel en plastiek.

Kabelstelsels is lank hoofsaaklik deur konsortiums en telekommunikasie-instellings aangelê. WACS is byvoorbeeld deur ’n konsortium van 12 maatskappye en instellings daargestel, insluitend MTN, Vodacom, Angola Cables en Telecom Namibia.

Tegnologiereuse soos Google, Microsoft en Amazon laat toenemend hul eie kabelstelsels die lig sien.

Die kern van optiese ­vesels word goed ­gepantser
Die kern van optiese ­vesels word goed ­gepantser.

Hoe werk die kabels?

Daar is omskakelaars aan elke punt van die kabel, verduidelik Steven. Dit skakel die elektriese digitale seine na lig om, wat dan in dié vorm met die kabel langs beweeg tot aan die ander punt, waar dit by ’n landingstasie weer na elektriese seine omgeskakel word.

Die ligpulse kan groot hoeveelhede data verbysterend vinnig karwei – en optiese vesel versprei dus oneindig meer inligting as konvensionele koperlyne, voorheen die hoofmiddel vir telekommunikasie.

Fanie maak die som so: ’n Standaard-langafstand-ondersese kabelstelsel dra 60 golflengtes op ’n enkele optiese vesel. So ’n golflengte het tipies ’n kapasiteit van 100 gigabisse per sekonde (Gbps). Dis gelykstaande aan die stuur van omtrent 65 twee uur lange hoëdefinisieflieks per sekonde tussen twee punte op ’n ondersese kabelnetwerk – dit net vir één van die 60 golflengtes in één van die optiese vesels!

’n Seekabelploeg word gebruik om kabels in die see
’n Seekabelploeg word gebruik om kabels in die seebodem te begrawe.

Wanneer die data op land grondvat, sluit dit via die landingstasies by datasentrums en bestaande landnetwerke aan – en sien jy dit in die vorm van ’n webtuiste, e-pos of aanlyn video op jou elektroniese toestel.

Al gebruik jy die internet dus deur middel van Wi-Fi en selfoondata, is dié stelsels eindelik steeds aan fisieke kabels gekoppel.

“Alle kommunikasie van mobiele netwerke en internetdiensverskaffers vloei deur dié kabels,” sê Steven. ’n Kabelbreuk beïnvloed nie ons toegang tot plaaslike webtuistes met byvoorbeeld ’n “.co.za” aan die einde nie.

Maar baie van die sosialemediablaaie of stromingsdienste soos Netflix se data word oorsee geberg, en daarom voel ons die impak veral wanneer ons dit gebruik. Ons diensverskaffers moet dan ook hul stelsels aanpas om langs ’n ander roete te verbind, wat ontwrigting veroorsaak.

Hoe word die kabels gelê?

Spesiale skepe met massiewe kabeltenks wat meer as 2 000 km kabel kan dra, word vir die lê van kabels gebruik, sê Fanie.

“Rekenaarstudies word vooraf gedoen van alle roete-inligting en om landingspunte te identifiseer.”

Daar word ’n studie van die seebodem gedoen om die roete met die laagste risiko te kies: onder meer waar die seebodem gelyk en stabiel is. “Daarna word die kabelsisteem in seksies vervaardig, wat dan volgens GPS-koördinate op die beplande roete aangelê word.”

Die landingspunte van WACS, ’n ondersese ­kabelste
Die landingspunte van WACS, ’n ondersese ­kabelstelsel wat deur optieseveseltegnologie ­hoëspoedinternetdienste aan Afrika lewer.

By vertrek lê die kabel opgerol in die tenks. Vir die lêslag word dit versigtig om ’n kabeldrom aan die boeg of agterkant van die vaartuig gedraai sodat dit uitgerol kan word – soos ’n verlengstuk of tuinslang – verduidelik Steven. Dié proses is tydrowend, veral aangesien ’n kabelskip maar teen 9 km/h vaar terwyl dit die kabel afrol en dit na die seebodem afsak.

Daar is in Julie 2010 met die aanlê van WACS begin, en dis in Mei 2012 – 22 maande later – in bedryf gestel. Die kabels is op hul kwesbaarste in vlakker water – vanaf die strand tot by omtrent 1 000 m diep, verduidelik Fanie.

Daarom word dit met behulp van ’n soort ondersese ploeg tot ’n meter diep begrawe tot waar dit omtrent 1 000 m diep is.

“Maar weens rotsagtige bodems of sand wat migreer, is dit soms onmoontlik om kabels te begrawe of begrawe te hou en steek kabels wat aanvanklik begrawe is dus mettertyd uit. Daarom word kabels meestal gepantser om dit te beskerm. Namate die kabels in dieper water in strek, word dit geleidelik dunner.”

Hoekom breek die kabels?

Kabelbreuke word meestal deur eksterne faktore veroorsaak, sê Fanie. Tot op omtrent 1 000 m kan dit byvoorbeeld vistreilers en skepe se bedrywighede wees, byvoorbeeld wanneer ’n skeepsanker daaraan trek.

Ondersese aardskuddings, tektonieseplaatverskuiwings en vulkaanuitbarstings is ook oorsake. Die kenners krap nog kop oor wat presies tot die onlangse kabelprobleme gelei het.

Maar die SAT-3- en WACS-foute in Januarie vanjaar is veroorsaak deur tonne sediment wat enorme druk op die kabels uitgeoefen het. Dit het kortsluitings en gevolglik breuke veroorsaak.

Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, WWW.ROYALIHC.COM

Ondersese kabels in syfers
  • 200 000 km/sekonde – So vinnig beweeg ’n digitale ligsein deur standaard- optiese vesel.
  • 208 terabisse per sekonde – Algehele potensiële kapasiteit van nuwer kabelstelsels soos die Marea-kabel tussen Amerika en Spanje. As die dataoordrag-tempo 20 Tbps is, kan 4 miljoen HD-flieks deur slegs een optieseveselstring van dié kabel gestroom word.
  • 8 000 meter – Die diepste punt onder seevlak waarop ’n ondersese kabel tussen Amerika en Japan loop; amper so diep as wat die berg Everest hoog is.

Blitsoorsig van sa en afrika se kabels

WACS en SAT-3 is nie al kabelstelsels wat ons vasteland bedien nie.

  • 1969 – SAT-1 vanaf Melkbosstrand tot Portugal in gebruik geneem; koperkabel wat 360 telefoonverbindings kon dra.
  • 1993 – SAT-2, optieseveselkabel en die eerste wat internetgebruik in SA moontlik maak, vervang SAT-1.
  • 2002 – SAT-3/WASC, of bloot SAT-3, verbind Suid-Afrika met Portugal en Spanje. Ontwerpkapasiteit van 340 gigabisse per sekonde (Gbps). Beduidend opgegradeer.
  • 2009 – Seacom, die eerste ondersese optieseveselkabelstelsel wat SA via die Afrika-ooskus met Europa verbind, met ’n ontwerpkapasiteit van 1 280 Gbps. Sedertien grootliks opgeradeer.
  • S2010 – EASSy, Eastern African Submarine Cable System, verbind SA met Soedan via landingspunte in Mosambiek, Madagaskar, die Comore, Tanzanië, Kenia, Somalië en Djiboeti.
  • 2012 – WACS in gebruik. 14 530 km lank en strek vanaf Yzerfontein langs die Afrika-weskus op tot by Portugal en verbind eindelik ook met Brittanje. Kapasiteit van 14 500 Gbps.
  • 2018 – SACS, South Atlantic Cable System, deur Angola Cables in bedryf gestel. 6 160 km lank, tussen Angola en Brasilië met ’n ontwerpkapasiteit van 40 000 Gbps.
Het jy geweet?
Die eerste trans-Atlantiese kabel tussen Brittanje en die VSA is in 1858 voltooi. Koningin Victoria het dit gevier met ’n telegram aan pres. James Buchanan wat hom ná omtrent ’n dag bereik het.