David Green (31), ’n geskiedenisonderwyser en Amerikaanse voetbal-afrigter by die Hoërskool Mae Jemison in Huntsville, se betaalde siekverlof het opgeraak terwyl hy sy eenjarige dogter versorg het by wie kanker in Oktober verlede jaar gediagnoseer is.

Akute limfoblastiese leukemie, ’n kanker van die bloed en beenmurg, is by baba Kinsley gediagnoseer.

Die meisietjie se ma, Megan (29), het ’n roerende Facebook-plasing geskryf waarin sy ander onderwysers in Alabama vra om hul eie betaalde siekverlof te skenk nadat haar man s’n amptelik opgeraak het.

“David het nie meer siekdae by die werk nie,” het sy geskryf.

“Ons wil hê hy moet aanhou om saam met ons by die hospitaal (in Birmingham sowat 160 km van die gesin se huis) te kan wees terwyl Kinsley chemoterapie kry. As jy dus ’n onderwyser in die staat Alabama is en in ’n posisie is om ’n siekdag te kan skenk, sal ons dit baie waardeer!”

“Kinsley is die grootste pappa-se-dogtertjie en het nodig dat hy so dikwels moontlik hier moet wees,” het Megan verder geskryf.

“Sy sal baie dankbaar wees vir enige geskenkte dae sodat sy tyd saam met haar pappa kan deurbring.”

Megan se emosionele plasing het tientalle onderwysers in Alabama se hart geroer en David het altesaam 110 dae betaalde verlof gekry. Die deelstaat laat onderwysers toe om siekverlof aan ander te skenk.

Anna Kachelman, 'n gr. 1-onderwyser aan die Laerskool Goldsmith Schiffman het gesê hulle wou woorde van bemoediging aan die gesin stuur, maar hierdie is 'n tasbare manier waarop hulle kon help.

Die adjunkhoof van Lakewood-skool, Wilma De Yampert, weet uit ervaring waardeur die gesin gaan. Sy het twee dae van haar verlof aan die gesin geskenk terwyl sy self chemoterapie ontvang.

“Borskanker is op 21 Februarie by my gediagnoseer. As ek meer dae gehad het om aan hom te skenk, sou ek,” het Wilma gesê.

“Dankie dat julle ons ’n gesin laat wees,” het Megan in reaksie op die onderwysers se gebaar gesê.

“Dankie vir die klein bietjie normaliteit wat die dae gebied het. Dankie dat julle so onbaatsugtig gegee het. Dit is eerlikwaar ’n groter seëning as wat ek in woorde kan uitdruk.”

Danksy onderwysers en administratiewe personeel, k
Danksy onderwysers en administratiewe personeel, kan David nou met meer gemoedsrus tyd met Kinsley deurbring. Foto: Facebook (Megan Saindon Green)

Kinsley het reeds drie rondes chemoterapie as binnepasiënt voltooi en sal na verwagting nog twee rondes ondergaan, waarna sy vir nog sowat twee jaar as buitepasiënt chemoterapie sal kry, berig ABC Arizona.

Hoewel die Greens net sowat 40 dae verlof nodig het, kan David nou met vrymoedigheid dae afneem om by hul baba te wees wanneer en waar nodig.

Bronne: fox59.com, abc15.com, people.com, goodmorningamerica.com