Verbeel jou jy sit in die verkeer en kyk na die motor langs jou. Skielik kyk jy vas in die oë van 'n beer - nie 'n donserige, oulike teddiebeer nie,  maar 'n lewende, reusebeer wat in die passasiersitplek sit.

Moet jy in verwondering staar of van vrees skree?

Dít is die reaksie wat die Rus Veronika Dichka elke keer kry wanneer sy met Toptyzhka, 'n beer van die Himalaja, in haar motor rondry.   

Glo dit of nie, maar Veronika het 'n ongelooflike hegte band met die beer en deel gereeld foto's van hulle saam op die sosiale media. 

Maar hoe op dees aarde raak jy vriende met 'n lewende beer?

Veronika (24) vertel sy het in 2020 na Toptyzhka begin kyk nadat die safaripark waar hy gebly het bankrot gespeel het.

Sy was vriende met die eienaars van die park, wat naby die Siberiese stad Novosibirsk geleë is, en het toe reeds 'n sterk band met die beer gesmee.

Toe hulle vir hom 'n nuwe huis moes kry, het Veronika hom met ope arms verwelkom.

"Hulle het hom vir my gebring, want hulle kon nie na hom kyk nie en het hom nie meer nodig gehad nie. Toe word ek sy beskermer," sê sy. 

Nou is Veronika en die beer onafskeidbaar.

"Hy beskou my as 'n lid van sy familie. Ons deel ons kos met mekaar, hy slaap in my arms wanneer hy bang is en hy kruip agter my weg."

Voor Toptyzhka by die safaripark beland het, is hy in 'n sirkus gebruik waar hy glo uitgehonger en mishandel is. Hy is in aanhouding gebore en dit is een van die grootste redes waarom hy nie nou in die natuur vrygelaat kan word nie, want hy sal waarskynlik nie op sy eie kan oorleef nie," sê Veronika.

"Hy was sy lewe lank in aanhouding."

Nou bring Toptyzhka baie tyd buite deur waar hy gereeld boom klim of om saam met sy nuwe eienaar te gaan stap (of om saam met haar te ry).

Al het hierdie soort bere 'n reputasie dat hulle aggressief kan wees, sê Veronika dié siening is onregverdig teenoor die spesie en daarom deel sy graag foto's van hulle saam in 'n poging om mense se mening daaroor te verander.   

"Ek dink dit is belangrik dat mense besef enige dier is tot 'n vriendskap en vertroue met mense in staat - soos hierdie beer. As jy hulle behoorlik versorg en met respek behandel, kan 'n merkwaardige verhouding ontvou."

Of hy nou visvang, dans of saam met Veronika in haar motor ry, Toptyzhka is nes enige ander troeteldier – net veel groter. 

"Terwyl Toptyzhka in die motor ry, gedra hy hom taamlik kalm, al is hy lief daarvoor om met die sitplekgordel te speel deur dit uit te trek," sê sy. 

Veronika beskryf Toptyzhka as 'n nuuskierige beer. "Hy het in 'n stadium in die stuurwiel belanggestel en dit ook geniet om die ligte met sy neus aan en af te skakel.

"Toptyzhka is mal oor water en hou daarvan as ons in die kar klim en ek hom na nuwe plekke neem."

Veronika meen omdat sy 'n sterk band met die dier gevorm het, is sy nie bang vir hom nie.

"Ek voel veilig, want daar is 'n verbintenis tussen ons,” sê sy.

"Hy is geheg aan my en dit stel my in staat om hom af te rig. Ek versorg hom elke dag. Ek gee vir hom kos en drinkgoed, ek gaan stap saam met hom en bad hom selfs."

Al kan dit soos 'n eienaardige verhouding tussen mens en dier klink is Veronika nie die enigste vrou wat die wenkbroue laat lig oor haar ongewone vriendskap met 'n wilde dier nie.

Lisa van Kula Donovan word 'n hedendaagse Steve Irwin van die insekwêreld genoem. Lisa, 'n entomoloog (wetenskaplike wat in insekte spesialiseer) van Australië, deel gereeld inligting oor haar ongewone interaksies met spinnekoppe, sprinkane en selfs kakkerlakke.

Sy gebruik haar Instagramblad om bisarre feite oor die insekte te deel en mense in te lig hoe belangrik dit is om hulle lewend te hou. Sy het onlangs inligting gedeel oor die ontwikkeling van 'n jagspinnekop wat sy Charlie noem. 

"Ek wou die baba-jagspinnekop van begin tot einde grootmaak sodat mense kon sien hoe lank dit vat om te groei en vervel tot hy volwasse is," skryf sy in een van haar plasings.

Bronne: Magazine Features, The Sun, The South African, Daily Mail , Instagram