'n Amerikaanse seuntjie van die deelstaat Tennessee het op 'n video vertel hoe hy by die skool geboelie word – en nou kan hy van die beroemdste Hollywood-sterre onder sy ondersteuners tel.

Talle A-lys-sterre het hulle agter Keaton Jones geskaar nadat sy ma, Kimberly, Vrydag op Facebook 'n video gedeel het waarin 'n huilende Keaton vertel hoe hy by die skool geboelie word. Die video het vinnig versprei en is meer as 20 miljoen keer gekyk.

Kimberly moes Keaton Vrydag vir die soveelste keer vroeg by die skool gaan haal omdat hy bang was om middagete saam met die ander kinders te eet. 

In die video vertel hy hartroerend dat kinders hom lelik noem en met sy neus spot. Die boelies sê hy het nie vriende nie en gooi melk oor hom uit. “Hoekom boelie hulle? Wat is die punt daarvan?” wil Keaton weet. 

“Dis nie oukei nie. Mense wat anders is, hoef nie gekritiseer te word nie. Dis nie hulle skuld nie. Maar moenie dat dit jou pla as jy geboelie word nie. Staan sterk. Dit gaan seker eendag beter word,” sê ’n hartseer Keaton.

Sy ma skryf op Facebook: “Ons almal weet hoe dit voel om nie in te pas nie, maar net 'n klein minderheid weet hoe dit voel om nêrens in te pas nie.”

Die video het miljoene mense se hartsnare geroer – ook dié van glansryke sterre.

Chris Evans, wat Captain America in die Avengers-fliekreeks speel, het Kevin op Twitter bemoedig: “Ek belowe jou dit word beter.” En toe nooi hy Keaton en sy ma uit na die première aanstaande jaar van die derde Avengers-fliek in Los Angeles!

Mark Ruffalo, wat ook in dié fliek speel, het Keaton genooi om sy gas by Avengers: Infinity War se première te wees. “Ek dink jy is een van die coolste kinders wat ek nog gesien het,” skryf hy. 

Die voormalige Amerikaans-Kanadese WWE-stoeier Chris Jericho het ook op Twitter laat weet dat Keaton hom ’n vriend kan noem. Hy waarsku hy sal dalk na Keaton se tuisdorp moet gaan om met daardie boelies te praat. 

Die sanger Katy Perry sê die video het haar hart gebreek. “Wees asseblief vriendelik met mekaar," pleit sy.

Enrique Iglesias het getwiet dat Keaton sterk is om hierdie dinge te sê en boonop soveel vir ander om te gee. Hy sê die video is hartverskeurend.

Die Amerikaanse rapper Snoop Dogg het op Instagram sy steun vir Keaton uitgespreek. “Liefde is die enigste manier om haat te oorwin,” skryf hy.

“Weet net dat jy nie alleen is nie. Daar is so baie mense wat soveel sterker uit bullebakkery kom en jy sal een van hulle wees! God seën jou, liefling,” twiet die Amerikaanse sanger en aktrise Demi Lovato.