Eindelik spreek die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, die ouers toe. “Ek stem saam daar is ’n krisis in die skool. Die probleem is dat mense te lui was om besluite te neem,” sê hy. Dan voeg hy dramaties by: “Ek het vandag die besluite geneem.” 

Hy rits dié besluite op Dinsdagaand 2 April af: Tommie Stolz, die hoof van die Laerskool Glenview hier in Alberton, word drie maande lank vervang en in dié tyd moet hy ’n kursus voltooi oor hoe om met alle rassegroepe te werk.

Denise Potgieter, die departementshoof van grondslagfase, word na die Gautengse onderwysdepartement se distrikskantoor verplaas en sal dissiplinêr ondersoek word. Laastens word die hele skoolbeheerraad ontbind . . . 

“Yes, yes!” juig die ouers oor elke aankondiging en klap hande.

Lesufi verseker die ouers: Hy stem met hulle saam dat dinge in dié skool nie “normaal” is nie. Dan benadruk hy: “Politiek hoort nie in ’n skool nie.”

Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi. Fo
Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar wat steek agter die gemors by die laerskool – hoe het dit gekom dat die hoof, ’n departementshoof en sommer ook die hele skoolraad gelyk weggeraap word?

En hoekom was meer as 20 van die 37 onderwysers – die skoolhoof ingesluit – onlangs tegelyk sowat twee weke lank met siekteverlof weens “ernstige angs, stres en depressie”? 

Probeer ’n mens die skoolmoles ontrafel, word allerlei bewerings oor en weer geslinger. En aan die hart van die gemors is die vete tussen Tommie (58) en Denise (43). 

Hy en die beheerliggaam het haar in 2018 by die provinsiale onderwysdepartement verkla omdat sy glo lyfstraf toepas en na bewering kinders gehelp het om met ’n vraestel te kul. 

Op 5 Februarie vanjaar het sy weer ’n klagte van seksuele teistering en naamskending teen hom by die polisie ingedien.

Onderwysers is belet om met die media daaroor te praat, maar van hulle het anoniem aan Huisgenoot vertel die gure klimaat by die skool het die hele onderwyserkorps afgerem. “Ons is casualties of war,” sê een.

Dis Denise se “onvanpaste” kleredrag wat pla, se t
Dis Denise se “onvanpaste” kleredrag wat pla, se twee van die onnies. Foto verskaf

Volgens die sogenaamde “siekteverlofonnies” skaar die meeste onderwysers hulle by Tommie. “Hy is ons werk-pappa,” verduidelik een.

Oor Denise is hulle minder vleiend – en dis haar “onvanpaste” kleredrag wat pla, sê een van die onnies en nóg ’n bron na aan hulle. Hulle het vir Huisgenoot foto’s gewys van Denise in skrapse kleredrag in die klaskamer.

Dis Denise se “onvanpaste” kleredrag wat pla, se t
Dis Denise se “onvanpaste” kleredrag wat pla, se twee van die onnies. Foto verskaf

Die foto’s is glo verkry van Denise se Facebookblad, maar is intussen verwyder.

“Ek sal na haar as die Satan met die pienk slippers verwys,” sê een onderwyser met verwysing na die aktrise Meryl Streep se karakter in die fliek The Devil Wears Prada.Toe Denise van dié gemene beskrywing hoor, het die trane begin loop.

Van al dié onmin tussen die skoolhoof, sy onderhoof en die onnies was ouers skynbaar salig onbewus – tot hulle kort voor die onlangse skoolvakansie agtergekom het die meeste onderwysers was lanklaas op hul pos. 

Toe die leerders boonop g’n rapporte kry nie, was die gort gaar. Ouers wou weet wat aangaan. Omdat die meeste “siekteverlofonnies” wit is en die meeste kinders swart, het ouers bekommerd geraak rassisme het sy nare kop uitgesteek.

En so het dit gekom dat die LUR vanaand hier sy dramatiese aankondigings gemaak het. Maar terwyl ouers die stappe verwelkom, soek hulle steeds antwoorde. 

“Ek het gedink Lesufi gaan vir ons kan kom verduidelik wat hier aangaan,” sê een ouer. “Ek wil steeds weet wat die probleem was. Wie het dit veroorsaak? Hoe lank gaan dit al aan?”

Dinge roer by Glenview Primary in Alberton. Foto v
Dinge roer by Glenview Primary in Alberton. Foto verskaf

Dit was Woensdag, 6 Maart toe een van die Glenview-ma’s haar dogter in gr. 6 vra hoe haar skooldag was. Haar dogter antwoord toe haar jufrrou was nie die dag by die skool nie. “Ek het aanvanklik nie veel daarvan gedink nie,” vertel die ma. 

“Maar die volgende dag was dit weer dieselfde storie.” Die Vrydag vra sy haar dogter hoekom haar skooluniform so vuil is.

“Sy’t vir my gesê: ‘Ons het heeldag buite gespeel, mamma.’”

Dis toe dat sy uitvind altesaam 23 onnies was gelyk afwesig – almal met siekteverlof. “Ek het dringend navraag gedoen. Ek wou wéét wat aangaan.” 

Ouers het vir mekaar e-posse oor die situasie begin stuur. ’n Klankopname van ’n beheerliggaamsvergadering waar onder meer Denise se beweerde gedrag bespreek word, is toe aan ouers gelek.

Die ma van die gr. 6-leerder het tot in daardie stadium nog nooit van Denise of enige van die aantygings teen haar of Tommie gehoor nie.

Sy is is woedend omdat sy glo onderwysers het laer getrek om Tommie en daardeur haar kind benadeel. Hoekom is almal gelyk afgeboek; wat van die kinders? wou sy weet.

“Ek gee nie om wie my kind onderrig nie, wit of swart. Maar hoe was hulle almal toevallig siek en dit op dieselfde tyd? Hoekom moes my kind daaronder ly?” 

Denise en Tommie wou by navraag nie oor die bewerings teen hulle praat nie. 

“Ek sal graag my kant wil stel, maar ek mag nie kommentaar lewer nie,” het Denise telefonies aan Huisgenoot gesê. Sy het toe afgelui. 

Weens Denise se klag is Tommie op 5 Februarie op die skoolterrein in hegtenis geneem. Huisgenoot het verneem Denise se klagte spruit uit ’n gesprek oor haar kleredrag by ’n beheerliggaamvergadering waar sy nie aanwesig was nie. 

“Die onderwysers was baie verbouereerd om weer terug te gaan skool toe ná die vakansie. Dis erger as ’n spinnekopweb.”

Tommie het aan Huisgenoot bevestig hy sou op 15 April in landdroshof in Palm Ridge verskyn weens die klagte van seksuele teistering en naamskending teen hom, maar wou nie daaroor uitwei nie. 

Dis nie Tommie se enigste regsprobleem nie. Hy verskyn op 3 Mei in dieselfde hof weens die beweerde verdwyning van R1 750 uit die skoolfonds. Huisgenoot verneem dié klag is deur twee administratiewe werkers by die skool ingedien.

“Die waarheid sal in die hof uitkom,” is al wat Tommie oor albei sake wou sê.

Volgens ’n bron in die Gautengse onderwysdepartement is Tommie op Donderdag, 7 Maart – ’n week voor die skoolvakansie op 15 Maart begin het en byna ’n maand voor die LUR se ingryping – na die Gautengse distrikskantoor ontbied.

Maar hy is terug na die skool en nie toe geskors nie “omdat die departement geen oortuigende redes vir skorsing kon vasstel nie”.

Party mense na aan Tommie glo hy is die slagoffer van ’n veldtog gesteun deur beweerde korrupte elemente binne die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (Sadou) sodat Denise hom as hoof vervang.

Hulle vertel Tommie is al 36 jaar in die onderwys en is ook ’n voormalige Wiskunde-hoofeksaminator van die nasionale matriekeksamen. 

Die onderwysdepartement sê hulle kan nie reageer op gerugte nie, maar bevestig dat Sadou vir Denise verteenwoordig. 

Maar sommige ouers met wie Huisgenoot gepraat het, glo weer Tommie moet aan die pen ry weens beweerde ongerymdhede wat die skool se geldsake en aanstellings op die beheerliggaam betref. Tommie het dit ontken. 

Uit navrae deur Huisgenoot blyk dit Denise was betrokke by omstredenheid by minstens een ander skool in die streek: die Laerskool Edenpark, waar sy tot einde 2016 gewerk het. Sy het in Oktober 2017 by Glenview begin.

Hamilton Jacobs, die voormalige beheerliggaamvoorsitter van Edenpark, sê Denise is uit haar pos “verwyder” nadat sy Edenpark se hoof van aanranding aangekla het.

Die skoolhoof kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar ’n bron binne die Gautengse onderwysdepartement het bevestig hy is van die klag vrygespreek. 

Denise is nooit ondersoek weens Tommie se 2018-klagtes teen haar nie. 

Of sake ná Lesufi se ingryping gaan verbeter, weet nog die onderwysers nog die ouers.  “Ek het nog nooit so iets in my hele loopbaan beleef nie,” vertel ’n bron in die departement. “Die onderwysers was baie verbouereerd om weer terug te gaan skool toe ná die vakansie.”

“Dis erger as ’n spinnekopweb.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!