Op die oggend van Woensdag 4 September het Dawid Esterhuizen (’n skuilnaam) ’n donker gevoel in sy hart gehad wat net nie wou wyk nie.

Dit het al die vorige dag aan hom begin karring. Hy was skielik bekommerd oor sy jare lange vriendin Tharina Human.

Die twee ken mekaar al 14 jaar – van die dae lank voor Tharina onlangs ’n gr. RR-onderwyseres aan die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark geword het.

Dawid (26) werk aan die Oos-Rand, maar woon in Vanderbijlpark, nie ver van die hoewe buite die dorp waar ­Tharina (27) ’n huisie huur nie.

“Ek het die middag huis toe gery van die werk af en skielik die gevoel gekry ek moet haar bel om te hoor of sy oukei is. Ek kom agter as dinge nie lekker is nie; as daar ’n bietjie hartseer is of iets in haar lewe gebeur,” vertel hy aan Huisgenoot.

“Sy het gesê ek moet saam met haar kom koffie drink; sy sal dan met my praat. Ek sê toe dis reg; ek is op pad.”

Kort voor seweuur daardie aand het Dawid by Tharina se huis aangekom, vertel hy. Hy kon aanvoel sy is gespanne.

“Wat is fout?” het hy gevra.

“Ek het aangejaag,” het Tharina toe glo vir Dawid gesê.

“Wat bedoel jy? Hoe aangejaag?”

En toe sê sy: “Jy weet, Amy’Leigh wat ontvoer is . . .”

“Ja, wat daarvan?”

Toe sê Tharina: “Ons het aangejaag.”

Dawid het vroeër die week gehoor van die ontvoering van die sesjarige Amy’­Leigh de Jager, ’n gr. R-leerder aan die Laerskool Kollegepark, maar nie geweet Tharina is deesdae ’n onderwyseres by dié skool nie.

Hy vertel hy het vir Tharina gesê: “Moenie vir my jok nie; sê my wat regtig aangaan.” Tharina het toe “snot en trane begin huil”, sê hy.

’n Groot skok

En dit was toe dat die polisie by die hoewe opdaag.

“Dit was ’n groot skok. ’n Mens verwag dit nie,” onthou hy daardie oomblik kort ná seweuur die aand.

“So vyf of ses polisiebeamptes het daar aangekom. Hulle het haar gevra: ‘Is jy Tharina Human?’

“Toe vra een ek moet asseblief haar dogtertjie wegvat. Ek het haar weggevat en kalm gehou, want ek het geweet wat volgende gaan gebeur.”

Die Vanderbijlpark-gemeenskap is verpletter oor di
Die Vanderbijlpark-gemeenskap is verpletter oor die nuus dat dié onderwyseres by misdaad betrokke kan wees. Foto: Facebook

Dawid sê hy het Tharina se ma, Christa Stols, om 19:20 gebel en haar gevra om Tharina se ­dogter te kom haal. Die kind mag ingevolge die wet nie geïdentifiseer word nie, en oor die besonderhede wil Dawid nie uitbrei nie.

“Haar broer het toe haar kind kom haal.”

Dawid is verslae oor die bewerings dat Tharina ’n dwelmprobleem gehad het en daarom in ’n geldelike verknorsing was.

“Ek het nie daarvan geweet nie. Toe ek dit hoor, het ek probeer dink of ek tekens daarvan gesien het, maar ek kan aan niks dink nie. Ek kan dit nie glo nie. ’n Mens sien mos sulke dinge raak. En ons het gereeld kontak gehad. Minstens een keer per week. Ek verstaan dit nie.”

Die Tharina wat ek ken vandat ek 12 of 13 jaar oud is, is nie die mens oor wie almal nou praat nie.

Hy vertel hy en Tharina het mekaar vroeër by ’n kerk ontmoet waar hulle saam by die musiekgroep en jeugaktiwiteite betrokke was.

“Die Tharina wat ek ken vandat ek 12 of 13 jaar oud is, is nie die mens oor wie almal nou praat nie. Dis nie hoe ek haar ken nie, en dis hoekom ek so geskok is.

“Ek ken haar al die jare as ’n liefdevolle mens – iemand wat omgee vir haar mede­mens, wat altyd bereid is om te help en te gee, al het sy niks. Die mens wat jy drieuur die oggend kan bel en sê: ‘Kom help my; ek het hulp nodig.’ Dan jaag sy deur vir jou.

“Haar ma-hulle, almal, is groot kinders van die Here. Al dié goed is ’n groot skok.”

Die privaat speurder Ben Calitz van die firma Spectrack was op Woensdag­middag 4 September besig om inligting vir ’n ­ander saak in te samel toe sy selfoon lui.

Al die beskikbare inligting het dadelik gedui op ’n inside job – dis mos nou nie my eerste of tweede ontvoering nie; ’n mens weet dadelik.

Dit was ’n polisiekontak wat hom oor Amy’Leigh se ontvoering gebel het, en dié het glo aan Ben gesê: “Kom help ons met die ondersoek; hierdie ding is veel dieper as wat enigeen van ons besef.”

Ben sê hy het onmiddellik vermoed iemand na aan die De Jagers was by die ontvoering betrokke.

“Al die beskikbare inligting het dadelik gedui op ’n inside job – dis mos nou nie my eerste of tweede ontvoering nie; ’n mens weet dadelik.”

Tharina het volgens vriende en familie ’n hegte ba
Tharina het volgens vriende en familie ’n hegte band met Amy’Leigh gehad. Foto verskaf

Hy was een van die eerste mense op die hoewe waar Tharina vasgetrek is.

“Dit was donker buite; ons het geweet ons moet gou toeslaan, anders kom die mense dalk weg.”

Ben beweer die oproepe wat ’n losprys van die De Jagers geëis het, is van die hoewe of in die omgewing gemaak.

Ben beweer die ontvoerders het eers R200 000 geëis, “en later het hulle in nog ’n oproep R10 000 gevra omdat Amy’Leigh glo te veel gehuil het”. Die losprysbedrag was eindelik glo R2 miljoen.

Ben sê met sy besoek aan die hoewe kort voor die inhegtenisnemings het hy ’n wit Toyota Fortuner in die motorhuis gesien. Tharina was tuis.

Die twee vroue se vriendskap het glo twee maande g
Die twee vroue se vriendskap het glo twee maande gelede versuur. Foto verskaf

“Sy was so koel en kalm. En sy het so onskuldig voorgekom. ’n Mens sou dit nooit van sulke mense verwag nie. Dit was al laataand buite en pikdonker, en ek was skaars weg by die hoewe toe my kontak my bel en sê Amy’Leigh is af­gelaai; dinge het te warm geraak.”

Die naeltegnikus Laetitia Nel (40), wat glo saam met Tharina op die hoewe gebly het en haar vriend Pieter van Zyl (50) wat glo op ’n hoewe daar naby gebly het, is daarna ook in hegtenis geneem. Dit was na bewering op sy hoewe waar Amy’­Leigh aangehou is.

Die hoofbrein agter daai ou dogtertjie se ontvoering was my eie kind gewees: Tharina.

Teen die Donderdagmiddag ná Tharina se inhegtenisneming die vorige aand het ’n stemboodskap soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei waarin ’n gebroke manstem aan ’n familielid vertel: “Ek wil net gou vir jou sê sodat jy dit nie uit ’n ander oord hoor nie: Die hoofbrein agter daai ou dogtertjie se ontvoering was my eie kind gewees: Tharina. Sy het die hele ding gereël en beplan saam met die ander, maar sy was die hoofbrein.”

Die stemboodskap lui voorts: “Hulle het hulle laas nag toegesluit. Ek het nooit geweet nie . . . Sy is op verdowings­middels. En . . . sy moes geld in die hande kry om die mense te betaal.

“Ek wou jou net sê dat as jy dit sien, dat jy nie met ’n skok agterkom dis my kind nie.”

Tharina se ouers

Aan Huisgenoot erken Tharina se pa, Riaan Botha (66), nou dit was hy wat daardie stemboodskap opgeneem en gestuur het.

Hy is verpletter oor sy dogter se inhegtenisneming en tas ook rond na antwoorde, maar probeer moed hou.

“Ek was gister nog sag en broos. Vanmôre het ek opgestaan in oorwinning, want my koning leef,” sê hy, maar begin toe snikkend huil.

Sy familie gaan “hierdie ding tot op die been oopvlek”, sê hy.

Riaan Botha, Tharina se pa, in die hof. By hom is
Riaan Botha, Tharina se pa, in die hof. By hom is Anneke Taljaard, ’n familievriendin. Foto: Fani Mahuntsi

“Ons bid baie, en ons bly moedig. Ons dien ’n groot God.”

Hoe haar dogter glo by so ’n gemors kon betrokke raak, is vir haar ’n skokkende raaisel, sê Tharina se ma, Christa Stols. Riaan en Christa is van mekaar geskei.

Christa het op die Woensdagaand, twee dae ná Amy’Leigh se ontvoering, gehoor haar dogter is in verband met die ontvoering in hegtenis geneem.

“Ons mag haar nie gesien het nie, en hulle het haar foon gekonfiskeer,” vertel die emosionele Christa oor haar dogter se inhegtenisneming.

Dit is vir ons almal ’n groot trauma. Ek het eintlik net vir haar gaan bid, net vir krag.

Sy vertel sy het vir haar dogter gebid toe sy haar daarna die eerste keer in die aanhoudingselle by die Boipatong-­polisiekantoor in Vanderbijlpark sien. Sy het saam met haar ander dogter daarheen gegaan.

“My dogter het bestuur; ek het heelpad gehuil. Ek was so ontredderd. Maar ek was daar; ek het haar gesien agter die ruit. Sy is mooi behandel. Sy is nie vol bloukolle nie en sy is net verskriklik hartseer. Dit is vir ons almal ’n groot trauma. Ek het eintlik net vir haar gaan bid, net vir krag.

“Ons is verpletter; dis nou maar net so. Dit is iets wat gebeur het, iets wat ek in my wildste drome nie gedink het nie. Ons weet niks van tronke nie. Ons ken dit nie.”

Dan sê sy verslae: “Die wêreld is kwaad vir Tharina, maar die waarheid gaan uitkom. Ek bid dat die waarheid seëvier.”


Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl het op 9 September in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn.

Die saak is tot 19 September uitgestel. Die polisie se ondersoek na die saak duur voort.

Emosies het hoog geloop toe Tharina Human (27); Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50) Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn het. Foto: Fani Mahuntsi
Tharina (links), Laetitia Nel en Pieter van Zyl ka
Tharina (links), Laetitia Nel en Pieter van Zyl kan op 19 September om borgtog aansoek doen. Foto: Felix Dlangamandla
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.