Ons Mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, het Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Las Vegas die tweede Suid-Afrikaner geword om as die Mej. Heelal gekroon te word. Margaret Gardiner is 39 jaar gelede, in 1978, in dié gesogte skoonheidskompetisie gekroon.

Die 22-jarige was van die begin af een van die gunstelinge om met die kroon weg te stap. 

Demi-Leigh het teen 91 deelnemers regoor die wêreld meegeding – die grootste aantal deelnemers in die geskiedenis van die kompetisie. Die SA skoonheid is opgevolg deur Mej. Colombia, die eerste prinses, en Mej. Jamaika, die tweede prinses.

Demi-Leigh kan nie glo haar droom het waar geword nie.

“Ek resoneer met alles waarvoor die Mej. Heelal-kompetisie staan, veral vir die bemagtiging van vroue regoor die wêreld. Ek het nog altyd probeer om die voorbeeld te wees vir die verandering wat ek in die wêreld wil sien, en dié platform gee my die geleentheid om ’n verskil te maak. 

“Ek hoop ek het Suid-Afrikaners trots gemaak en dat ek sal aanhou om dit te doen terwyl ek Mej. Heelal is,” het sy in haar aanvaardingstoespraak gesê.

Demi-Leigh het op die aand die beoordelaars bekoor met ’n vleeskleurige, langmourok met kralewerk deur Anel Botha. Die uitrusting is geïnspireer deur die sterrestelsel en het 50 000 Swarovski-kristalle opgehad wat ’n span van agt mense 168 uur geneem het om met die hand op te werk.

Voor sy as Mej. SA aangewys is, het Demi-Leigh haar graad in B.Com Sakebestuur en entrepreneurskap voltooi terwyl sy ’n deeltydse model was.

Haar pa en stiefma, Bennie and Elzabé Peters, asook haar ma en stiefpa, Anne-Mari en Johan Steenkamp, was in die gehoor en totaal oorweldig toe die aankonding gedoen is

“Demi-Leigh het ontsettend hard gewerk oor die laaste paar jaar om hierdie droom te bereik en ons is almal baie trots,” vertel ’n betraande Elzabé.

Ons is net so trots – het sy nie pragtig gelyk nie!

Kyk die kroningsoomblik

  • Vir dié van julle wat nie kans gesien het vir die vroeg opstaan nie, die Mej. Heelal-kompetisie word Dinsdag 28 November 20:00 op Vuzu (DStv Kanaal 116) uitgesaai en weer Saterdag, 2 Desember,15:00.