Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is al sedert Desember
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is al sedert Desember in sake­redding. Sedertdien het die covid-19-pandemie en die inperking die lugdiens se finan­siële verknorsing verder vererger. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was Andrew*, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se kajuitpersoneel, se laaste werkdag ná nege jaar by dié sukkelende staatsonderneming.

Want terwyl die brandsiek lugdiens bly spartel om oorlewing, moes Andrew soos honderde ander werknemers met die belofte van ’n vrywillige skeidingspakket as valskerm uit die nes spring.

“Ek was die hele dag by die werk. Ek het my uitgangsonderhoud gehad; ek het my uniform en al my toegangskaarte ingedien. Toe ek daardie middag huis toe ry, was ek so emosioneel,” vertel Andrew.

“Ek het besef: Dit is dit. Jy werk nie meer by die SAL nie. Jy is nie meer deel van hierdie droom nie.”

Dit is die enigste werkgewer wat hy ooit geken het; die enigste werk wat hy al sy hele “volwasse lewe” doen. En hoewel hy nog altyd geweet het hy sal die lugdiens iewers in die toekoms verlaat, het hy nie gedink dit sal so skielik en so traumaties wees wanneer hy moet groet nie.

Andrew en baie van sy kollegas moes meestal in die media – en dít dikwels op vlugte – uitvind wat met hul werkgewer aangaan, vertel hy.

“Jy deel koerante aan passasiers uit, dan is daar nuus van die SAL se probleme op die voorblad.

Die lugdiens is al jare lank in ’n verlies gedompel en die belastingbetaler se geld is keer op keer as reddingsboei gebruik.

“Maar jy hou aan glimlag; jy bly professioneel. En wanneer passasiers jou vra hoe jy daaroor voel, kan jy niks sê nie. Jy sê: ‘Ja, daar gebeur baie dinge in die maatskappy, maar ek is vandag hier om seker te maak jy is veilig en gemaklik.’ ”

Al het die inperking soos ’n swaar gewig aan die lugdiens se vlerke gehang en daartoe gelei dat minder en leër vliegtuie die afgelope paar maande deur die lugruim kon blits, was dit eintlik die minste van die SAL se probleme – die staatsonderneming se gesukkel strek al veel, veel langer terug.

Die lugdiens is al jare lank in ’n verlies gedompel en die belastingbetaler se geld is keer op keer as reddingsboei gebruik.

In Desember verlede jaar is dit in sakeredding geplaas, maar politici soos Pravin Gordhan en Tito Mboweni, die ministers van openbare ondernemings en finansies, stoei steeds met mekaar oor die lugdiens se lot.

Die sakeredders Siviwe Dongwana en Les Matuson was teen druktyd nog besig met ontledings om vas te stel of die lugdiens gesluit of gelikwideer moet word.

Van die departement van openbare ondernemings se beloftes om R10 miljard te lewer vir onder meer skeidingspakkette vir werknemers wat afgelê word, en om ’n “nuwe” SAL met minder personeel te begin, het dadels gekom.

Die departement het bevestig die lugdiens sal nie gelikwideer word nie en die regering sal geld “herprioritiseer” om die lugdiens se herstrukturering te finaliseer en die sakereddingsplan deur te voer.

Maar waar dié geld vandaan sal kom, is onduidelik. En agter die amptelike persverklarings en voorbladnuus is daar hoeveel grondvlakwerknemers soos Andrew wat passasiers vir oulaas met ’n moedige glimlag moes groet terwyl hulle jare se beweerde wanbestuur moet ontgeld.

Die afgelope ses maande was vir Andrew en sy kollegas ’n wipwarit van emosies en onsekerhede.

Hy het voorheen tussen R23 000 en R25 000 per maand verdien, maar vertel hy het in Maart die laaste keer sy volle salaris gekry.

“Sedertdien was dit sulke lukrake bedrae: R483 een maand; R600 ’n ander maand. Maar selfs al doen jy navraag om te hoor hoe dié bedrae bereken word, kan niemand jou antwoord nie,” beweer hy.

Teen einde Julie was die spaargeld op wat hy deur die jare bymekaargeskraap het.

Skielik was Andrew, wat voorheen sy ouers en broer finansieel ondersteun het, die een wat bakhand by familie en vriende moes aanklop. Hy kan nie meer ’n mediese fonds bekostig nie en vertel hy het geen idee wanneer en óf die beloofde skeidingspakkette wel ’n werklikheid sal word nie.

‘Wanneer passasiers jou vra hoe jy voel, kan jy niks sê nie’

Sy oudkollega Lerato*, ’n lugwaardin en veiligheidsbeampte, het 22 jaar vir die SAL gewerk. Nes Andrew was 31 Augustus haar laaste dag.

“Ek was werklik lief vir my werk, want dit het nooit vir my soos werk gevoel nie. Dit het amper soos ’n betaalde vakansie gevoel,” vertel die ma van twee wat die enigste broodwinner in haar gesin is en ook na haar ma moet omsien.

“Ek was gaande oor al die bestemmings waarheen ons gevlieg het. Die verskillende kulture, kos en argitektuur wat elke stad vir toeriste gebied het.”

Baie van my kollegas maak op kospakkies van ’n kerk in Kempton Park staat.

Lerato het einde Maart haar laaste salaris ontvang. “Toe word dit ’n speletjie van ‘wat trek jy dié maand uit die hoed?’ ”

Sedertdien help haar broers en susters met geld vir kos, elektrisiteit en brandstof om die nodigste te gaan koop. Van haar spaargeld is niks oor nie.

“Ek is maar net een van ’n paar mense wat deur familie ondersteun word. Baie van my kollegas maak op kospakkies van ’n kerk in Kempton Park staat,” vertel sy.

Lerato het gewoonlik op sowat drie internasionale vlugte en ’n week se plaaslike en streekvlugte per maand diens gedoen. Sedert die SAL in sakeredding geplaas is, is baie van die vlugroetes gestaak.

“As jy gelukkig was, het jy een internasionale vlug en een plaaslike of streekvlug per maand gehad. En omdat ons salaris op die ure wat ons werk gegrond word, is ons ure tot die minimum verminder,” vertel sy.

Die streng nasionale inperking en landsgrense wat sedert Maart maande aaneen gesluit was, was die laaste strooi. Die lugdiens se vlugte is byna almal tydelik opgeskort, behalwe enkele repatriasievlugte na die buiteland.

Lerato meen die herhaalde beloftes van ruim skeidingspakkette is net nog praatjies en dat talle werknemers wat nes ander Suid-Afrikaners belasting betaal het nou hul werk verloor.

“Ons lewensbrood hang nou af van ons pensioengeld wat uitbetaal moet word,” sê sy.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die lugwaardin Bianca*, ’n enkelma, het in April op ’n repatriasievlug na Europa gewerk, min wetend dat dit haar laaste vir die lugdiens sou wees.

“Ek was mal daaroor om aan boord te wees; ek kan nie aan ’n lekkerder werk dink nie. En ek mis dit verskriklik.”

Sy en haar kollegas het mekaar in die verlede al keer op keer moed ingepraat wanneer hulle oor die lugdiens se toekoms gewonder het.

“Ons het geweet die SAL se probleme is nie die passasiers se skuld nie. Ons moes professioneel bly, want dit was danksy die passasiers dat ons ons brood en botter kon verdien.”

Tog is sy woedend oor die bewerings van jare van wanbestuur by die lugdiens.

“Ek is kwaad; dis so onregverdig. Dit voel vir my ons – die werknemers – word gestraf vir iets wat ons nie gedoen het nie.”

Haar seun, ’n tweedejaarstudent, moes opskop omdat sy nie meer sy studie kan bekostig nie.

“Ek het baie opgeoffer en alles moontlik gedoen om seker te maak my seun het ’n opvoeding,” sê sy hartseer.

“Ek moes nou uit ons huurwoonstel trek; ek is terug by my bejaarde ma in Springs.”

Bianca het einde Maart haar laaste salaris ontvang. Daarna het sy maandeliks sowat R6 000 van die tydelike werkloosheidsversekeringsfonds ontvang. Haar laaste “werkdag” was 31 Augustus.

“Ek het intussen geld gaan leen en ’n braaier gaan koop. Ek en my seun gaan nou elke oggend uit en gaan braai en verkoop hamburgers op straat, want ek kan nie van my ma verwag om met haar pensioen na ons om te sien nie. Ek moet haar help,” sê Bianca.

“Ek is nie iemand wat net kan sit en niksdoen nie; ek kan nie net dae lank op die bed lê en huil nie. Maar ja, dit gebeur ook.”

‘Ons betaal nou die prys vir wanbestuur en korrupsie wat baie jare teruggaan’

Die kajuitbemanningslid Greg* sê hy is verpletter en weet nog nie wat die toekoms inhou nie. Boonop woon hy weer by sy ouma en oupa omdat hy nie sy eie blyplek kan bekostig nie.

“Ek is in rou. Dit was my droomwerk,” vertel hy oor die werk wat hy sedert 2009 doen. “Ek het voorheen in kantore gewerk, maar om met mense te werk was wonderlik.”

Dis vir hom swaar om te hoor hoe mense sê almal by die SAL moet afgedank word, want hulle mors net belastingbetalers se geld.

“Ek het ook belasting betaal. Ek het my werk gedoen so goed ek kan; ek het gedoen wat van my verwag word en waarvoor ek betaal is. Ons betaal nou die prys vir wanbestuur en korrupsie wat baie jare teruggaan. Dit is nie covid-19 of die inperking se skuld nie.”

* Skuilname. 

Meer as 3 200 SAL-werknemers het om vrywillige skeidingspakkette aansoek gedoen, en dié aansoeke is goedgekeur, sê Tlali Tlali, die lugdiens se woordvoerder. Hy sê die geherstruktureerde lugdiens sal op ’n kleiner skaal bedryf word met minder roetes, vliegtuie en werknemers

Volgens Tlali het die covid-19-pandemie die lugdiens se finansiële verknorsing vererger en het hulle toe besluit om personeel op onbetaalde verlof te plaas.

“Slegs werknemers wie se dienste benodig is met repatriasievlugte en die vervoer van noodsaaklike goedere in terme van die covid-19-pandemie, is vergoed vir die spesifieke werk wat hulle gedoen het.”

Louise Brugman, woordvoerder van die sakeredders, sê hulle wag nog op bevestiging van die R10,3 miljard wat nodig is vir die lugdiens se herstrukturering. “Ons hoop om binnekort met die partye te kommunikeer wat hierdeur geraak word.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe