“My skattebol!” Nadya Roos is gebore met vog op haar brein wat haar kop erg vergroot. Sy is ouma Christa Roos se hart se punt. Foto: Corrie Hansen

Klein Nadya is amper drie jaar oud. Sy het op 12 Desember ’n nuwe dreineringspypie vanuit haar kop gekry by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad. Christa en Nadya se ma, Melissa (24), het van Stellenbosch na Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad getrek om nader aan die hospitaal te wees.

Die pypie loop van die onderkant van haar skedelholte deur haar nek en borskas tot in haar magie en dreineer vog van haar brein sodat haar liggaam dit vandaar natuurlik kan uitskei.

Twee dae ná haar geboorte op 30 April 2016 het dokters by die Tygerberghospitaal in Kaapstad ook so ’n pypie ingesit, maar dit is nie meer voldoende om die drukking te verlig nie.

Melissa Roos en klein Nadya wat met 'n waterhofie gebore is. Foto: Facebook

Hulle het so gewens dit sal die vog vinniger herlei om die drukking op haar brein te verlig sodat sy ál minder epileptiese toevalle sal kry. Maar net voor tweeuur gistermiddag het sy ’n kwaai een gehad, vertel Nadya se ouma Christa. "Haar ogies flikker voor dit verstar; haar lyfie trek styf. Dis hartverskeurend om te aanskou. Sy het einde verlede jaar nog ’n dreineringspypie gekry. Daar was baie beskadigde weefsel in haar magie,” onthou Christa. 

"Sy was in verskriklike pyn, het opgegooi en nie geëet nie en ook twee dae lank niks geslaap nie,” voeg Melissa by. Die dokters het die sist gedreineer en ’n spesiale dreineringstoestel ingeplant. 

Melissa Roos (middel) saam met haar dogter, Nadya (regs), en haar ma, Christa Roos.Foto: Facebook

Op 14 Desember het hulle ’n skandering van haar kop gedoen en gesien dat daar baie lug om haar brein was weens al die water wat skielik weg is en dis hoekom sy so siek was, verduidelik Melissa. 

Nadya is drie dae later, op 17 Desember, ontslaan. “Sy was heel orraait tot 1 Januarie. Toe sien ons die water maak ’n sakkie by die snye aan haar kop en druk ál meer na buite uit en sy kry ’n seizure. Die volgende dag het sy weer begin opbring en glad nie geslaap nie."

Hulle het vermoed ’n stukkie droë bloed sit dalk in die pypie vas wat ’n blokkasie veroorsaak. Sy is die middag van 2 Januarie terug teater toe vir nog ’n nuwe dreineringspypie, waar hulle vasgestel het dat die sist heeltemal platgeval het en die pypie het sy eie way gegaan.”

Dit sal haar nog ’n rukkie neem om heeltemal te herstel. "Sy het dae wat sy haar ou self is en ander dae is sy baie huilerig. Vandag het sy weer ’n toeval gekry,” vertel Melissa verder.

Intussen is Nadya by die huis. Sy moet 6 Februarie weer vir ’n ondersoek gaan. “Ons hoop en bid die nuwe dreineringspypie sal sy ding doen,” sê haar ouma, Christa.