Sy onthou duidelik die oomblik toe sy waarlik besef het daar is geen omdraaikans nie – dat sy van die sosiale norme losgebreek het en amptelik ’n wilde vrou is. “Dit was toe ek die idee gekry het om my hare met urine te was,” vertel Miriam Lancewood.

Weke lank het sy ’n teken gesoek – enigiets wat vir haar sou wys sy en haar man, Peter, het die regte besluit geneem om van byna al hul aardse goed ontslae te raak; dat sy taai genoeg was om buite bereik in die boendoes van Nieu-Seeland te oorleef. En toe Miriam ’n hardnekkige skilferprobleem ontwikkel, het sy eindelik haar bewys gehad.

Sy het onthou van ’n oeroue raat waaroor sy gelees het. Dit behels dat jy jou hare in vars urine was, en sy was desperaat genoeg om dit te beproef. “Ek het vir ’n aaklige, stink halfuur in die son gesit om dit te laat intrek,” vertel sy vir my. Al was dit onaangenaam, was dit doeltreffend; sy beweer haar skilfers was genees en het nooit teruggekeer nie.

Ek het verwag Miriam (34) sou verslons lyk, dalk met ’n paar ontbrekende tande, maar sy is onberispelik en glimlag breed met blinkwit tande (sy maak dit gewoonlik met as skoon); geen skilfers, bene geskeer en sy ruik na kampvuur. Sy is sterk gebou; amper die ewebeeld van Sarah Connor van The Terminator – ’n Nederlandse Sarah Connor, want sy is in Holland gebore.

Peter (64) vertel trots vir my sy sal die meeste mans in ’n geveg kan klop. “Miriam is die jagter en ek is die kok. Sy is veel sterker as ek. Vroue is beter skuts,” sê hy. “En hulle is versigtiger,” voeg Miriam by. “Vroue is minder ingestel op trofeejag, want hulle het nie so ’n sterk behoefte om hulself te bewys nie.”

Wanneer hulle wel iemand anders in die wildernis raakloop, is dit gewoonlik ’n jagter, en altyd ’n man.

Ná hul nomadiese lewe van vyf jaar in Nieu-Seeland het Miriam besluit om ’n boek oor haar ervarings te skryf. Die egpaar het sedertdien na Europa verhuis, waar hulle nou besig is met ’n jaar lange staptog na Turkye; deel twee van hul lewensdroom om nooit na die “beskawing” terug te keer nie. Hier sit ons nou in Bulgarye, drie uur wes van die hoofstad, Sofia, stroomop van ’n rivier waar die egpaar kan was, om ’n kampvuur in ’n woud.

Ek is vir aandete genooi en Peter staan by ’n gietysterpot met ’n borrelende bonebredie. Ons voorgereg is verrimpelde pruime wat hulle self in die veld gaan soek het. Dit is vir hulle ’n groot geleentheid, want hulle het 11 dae laas ’n ander mens gesien.

Dis vyfuur die middag. Wat het hulle heeldag gedoen? “Nie veel nie. Vir jou gewag.”

In die eerste paar maande van hul primitiewe lewe het Miriam gedink sy gaan gek raak van verveling, maar sy het gou in pas met die natuur geraak. Die helfte van enige gegewe dag word gebruik om brandhout te soek. Hulle slaap so lank as wat dit donker is en sê hulle het nog nooit meer energie gehad nie.

Dis ’n skrille kontras met die tyd toe Miriam nog as onderwyseres vir kinders met spesiale behoeftes in Nieu-Seeland gewerk het. Dit was aaklige dae: “Ek was altyd gespanne. En so verveeld. En depressief daaroor om te dink ek gaan dit vir altyd en altyd doen.”

Sy het so baie geleer sedert sy hier buite is, maar een vraag bly onbeantwoord: “Waar is al die vroue?”

Wanneer hulle wel iemand anders in die wildernis raakloop, is dit gewoonlik ’n jagter, en altyd ’n man.

Sy dink vroue het dalk hul verbintenis met die natuur verloor, “selfs meer as mans. En ook,” voeg sy passievol by, “hoekom tree vroue so swak op? Soos: ‘Ek kan dit nie optel nie’, ‘Ek kan nie buite poef nie’, ‘Ek kan nie my maandstonde in die bos hê nie’.”

Sy dink hulle loop dalk iets mis – en dit blyk baie vroue stem saam. Haar boek is pas in Engels uitgereik, maar is vroeër reeds in Nederland gepubliseer, waar dit ’n klein sensasie geword het.

“Vroue skryf vir my en sê: ‘Jy het my geïnspireer,’ ” vertel sy. “Hulle is verwonderd dat dit moontlik is om hierdie primitiewe lewe te lei. Maar hulle is bang: ‘Wat is daar buite?’ ” Sy sê vroue is bekommerd dat wilde diere hulle sal opvreet of ’n geestelik onstabiele mens hulle sal vermoor, soos in sombere Nordiese noir-misdaadverhale.

“Een vrou het gesê: ‘Jy het my geïnspireer om ’n egskeiding te vra.’

Interessant genoeg is die vroue by haar voorlesings in Nederland gewoonlik tussen 40 en 50 jaar oud. Dalk is hulle aangetrokke tot Miriam se storie, want hulle beskou hare as die alternatiewe lewe wat hulle kon gelei het as hulle maar net dapperder en minder inskiklik was.

Vir jonger vroue lê die groot besluite – en spyt – nog voor.

Tot watter dinge het Miriam se boek vroue geïnspireer? Wat skryf hulle vir haar?

“Een vrou het gesê: ‘Jy het my geïnspireer om ’n egskeiding te vra.’

As jy meer tevrede wil wees, moet jy soms jou lewe heeltemal verander.”

Die saadjie vir hul idee is in Indië geplant, waar hulle mekaar 12 jaar gelede ontmoet het.

Peter (toe 52) was ’n voormalige skaapboer, boomkweekkundige en universiteitslektor, en Miriam (toe 22) wou die wêreld sien. Hulle het ’n paar jaar saam gereis voor hulle na Peter se geboorteland, Nieu-Seeland, getrek het.

In 2010 het hulle van die meeste van hul goed ontslae geraak en hul dapper van-die-netwerk-af-eksperiment aangepak deur op die uitgestrekte, afgeleë platteland te swerf en te kampeer. Dit was Miriam wat die groot jagmes gedra en geweet het hoe om hul Steyr Mannlicher-.308-geweer te gebruik.

Die eksperiment sonder elektrisiteit, digitale tegnologie of ’n horlosie was veronderstel om ’n jaar te duur.

“In Europa is dit moeilik; jy kan nooit ver genoeg van mense af wegkom nie,” brom Peter. “Gelukkig is ons absolute meesters van in woude in verdwyn.”

Miriam se klagte is dat jy nie in Bulgarye ’n vuurwapen kan gebruik of dra sonder ’n lisensie nie – anders sou sy vir aandete ’n haas geskiet en afgeslag het.

Hulle wys my rond. Hul huis is ’n kakiegroen buisvormige driemenstent met twee slaapsakke in, slaapmatjies en twee rugsakke netjies vol basiese voorraad gepak. Kos en eetgerei is op die gras gerangskik: emaljebekers, ’n swart prospekteerdersbord wat deels oorbodig geword het, want hulle het besef “panwas vir goud is die miserabelste ervaring wat jy kan hê”.

Miriam wys vir my haar pyl en boog – dis pragtig gepoleer en kolossaal. Sy erken sy het gesukkel om haar eerste dier dood te maak: ’n buidelrot.

“Ek was van geboorte af vegetaries, maar het ál swakker geword. Ons het met pyne in ons maag wakker geword van probeer warm bly.”

Sy erken sy het gesukkel om haar eerste dier dood te maak: ’n buidelrot.
Peter en Miriam het hul leefstyl in 2010 begin en sê hulle wil nooit terugkeer na die “beskawing” nie.

Sy het ’n strik gestel, maar die doodmaak van die buidelrot lelik verbrou. Terwyl dit gebeur het, het sy siek gevoel, en tog het die gebraaide buidelrot heerlik gesmaak.

“Later het ek baie trots op myself gevoel.” Sy het haar pyl en boog ingespan om bokke te jag; die egpaar het ook dooie takbokke geëet wat jagters agtergelaat het.

As jy die “beskawing” verlaat, is voorbereiding deurslaggewend. Miriam en Peter het maande lank voorberei vir daardie eerste winter in die suide van Marlborough, Nieu-Seeland: lang, uitdagende togte aangepak; noodhulpkursusse gedoen; boeke oor oorlewing en kos soek gelees – tot die teelepel uitgewerk presies hoeveel meel, peulgroente, teesakkies hulle sou nodig hê.

Hulle het geoefen om in die donker te sien deur in die nag te gaan stap. Miriam glo nie in samesweringsteorieë nie, maar is trots daarop dat sy oorlewingsvaardighede geleer het, in geval van Armageddon.

Hulle keer wel soms na die “beskawing” terug om ’n e-pos te stuur of voorraad aan te vul of (in Miriam se geval) ’n boek te skryf. Is dit nie kul nie?

Peter ontken dit. “Omdat ons buite die samelewing leef, is daar geen reëls nie. Ons kan van die Steentydperk na die groot stad en terug beweeg. Dis ’n unieke kombinasie van primitief leef en moderniteit.”

En as hul verhouding skeefloop? Miriam sê sy sal ’n ander maat vind wat soos sy leef; Peter laat val heel koel en kalm hy sal in elk geval dan al dood wees.

Gewis wil nie een van hulle terugkeer na ’n lewe met al die moderne geriewe nie: kunsmatige lig is te helder, die geraas is te raserig, slaap is te onderbroke, die kos maak hulle hardlywig. Die vraag wat Miriam se lesers haar gereeld vra, is hoe hulle kan bekostig om so te leef.

“Ons het spaargeld; ons leef baie goedkoop, op sowat NZ$5 000 (R45 000) per jaar.”

Maar sy wou haar boek om ander redes skryf – “om te wys ’n ander leefwyse is in die 21ste eeu moontlik”, een waarin langtermynverhoudings kan werk.

Die Hooker Valley-gebied van die Mount Cook- Nasionale Park. Hier het die Lancewoods weke aaneen niemand raakgeloop nie.

“Baie mense skryf: ‘Ek is bly om te lees iemand leef in harmonie. ’n Getroude paar wat 24 uur saam deurbring!’ ”

“Ek was twee keer voorheen getroud,” onthul Peter. Miriam hou van sy wêreldwysheid en avontuurlustigheid. Haar enigste ander ernstige kêrel wou die groot huis en kinders hê – sy nie.

Sy dink die geheim tot ’n goeie verhouding is ’n begeerte na selfkennis: “As hy iets sê en ek sien dit as ’n belediging, dan dink ek: ‘A, hoekom sien ek dit as ’n belediging?’ Ek gebruik dit as ’n metode om meer oor myself uit te vind.”

“Ons weier om te baklei,” voeg Peter by. Wanneer hy haar irriteer, sê Miriam, gee sy voor dat sy nie luister nie. Dwing die lewe in sulke fisieke omstandighede hulle nie tot afhanklikheid van mekaar nie?

“Ons noem dit onafhanklike interafhanklikheid,” verduidelik Peter. “Onder uiterse spanning raak ons soms ’n bietjie happerig . . . ” Miriam voltooi die gedagte: “ . . . so jy word meer bewus van hoe eksterne faktore jou gemoedstemming raak.”

Die boek sinspeel daarop dat hulle ’n oop verhouding het, maar ek weet nie hoe dit ’n verskil kan maak nie aangesien hulle nooit ander mense raakloop nie. Hulle hoop hulle kom Roma (Europese nomades) in Bulgarye teë om ervarings uit te ruil.

Ervaar die armes nie hul eksperiment as neerbuigend nie? “Nee, dis die middelklas wat nie van ons hou nie,” sê Peter – veral mans.

“Baie van my ou vriendskappe verbrokkel as gevolg daarvan. Die meeste mans van my ouderdom is reeds oor die muur. Hulle kan nie op die grond slaap nie, hulle is vet, hulle kan nie ver stap nie. Hulle is jaloers. Meestal is hulle jaloers op haar,” sê hy, en kyk na sy vrou.

“Hulle wil weet hoe doen jy dit.” Hoe trou jy met ’n vrou wat 30 jaar jonger is? Die ouderdomsgaping is moeilik om te ignoreer; Miriam noem dit verskeie kere in haar boek, hoofsaaklik omdat ander mense dit gedurig ophaal. Vir hulle is dit nie ’n kwessie nie.

Maar sou Peter werklik met ’n vrou van sy ouderdom hier gewees het? “Ek het nog nooit ’n vrou in haar 60’s ontmoet wat wil leef soos ek leef nie,” sê hy.

Miriam en Peter gebruik dikwels die woord “vasgevang” om te beskryf hoe ander mense leef.

Hulle is nie van plan om ooit kinders te hê nie en maak staat op nog ’n moderne uitvindsel – Miriam se intra-uteriene toestel – om te sorg sy word nie swanger nie. Hulle sê dit sou onmoontlik gewees het om met kinders in die wildernis te bly.

Is kinders dan ’n strik?

Miriam gedurende haar eerste winter in die wildernis van Nieu-Seeland.

“Vir ons sou dit ’n strik gewees het,” sê Miriam. “Jy moet ’n gereelde inkomste hê. Jy moet huis opsit.” Sy lag: “Dit maak my bang net om daaraan te dink.”

Sy beskryf hoe mans wat hulle op hul reise ontmoet skielik hul hart sal uitstort oor hul persoonlike lewe: “Hulle sê hulle wens hul vroue wou saam met hulle kom jag. Of hulle bieg as hulle weer kon kies, sou hulle nooit kinders gehad het nie. Dit was die einde van hul vryheid, sê hulle.”

Sy kyk na Peter: “Ons het ’n ou ontmoet – onthou jy hom? Hy het gesê: ‘Ek kan nie wag dat my kinders oud genoeg is om die huis te verlaat nie.’ En ek het gevra: ‘O, hoe oud is hulle?’ En hy het geantwoord: ‘Drie en vyf.’ ”

Hulle is verwonderd dat dit moontlik is om hierdie primitiewe lewe te lei.

En ’n vlieënier het vir haar vertel van sy herhalende fantasieë om sy vrou uit sy helikopter te stamp.

“Die moderne samelewing, die voorstedelike lewe, pas net nie mans se aard nie,” sê Peter. “Dit laat mans gedurig onuitgedaag voel. Ek sou sê ’n derde van die samelewing is uiters ongelukkig.”

Hy vind dit skokkend dat die meeste vroue steeds kies om kinders te hê. “Ek het baie interessante vroue in hul 20’s ontmoet, dan kom 30 en hulle swig onder die druk. Jy dink: ‘Hoekom het jy niks anders met jou lewe gedoen nie?’ ”

Die eintlike probleem, dink Peter, is dat almal te obsessief is met sekuriteit, tot die punt waar dit inmeng met hul vermoë om logies te dink of geluk te vind: “Mense sê vir ons ons leef hul droom, en ek sê vir hulle: ‘Doen dit.’ Maar hulle sê: ‘O, ek kan nie,’ en ek sê: ‘Wat bedoel jy jy kan nie? Natuurlik kan jy.’

"En hulle lyk ’n bietjie verward oor die stelling – want dit is waar.”

Dalk, sê ek, is dit omdat hulle ’n tydeliker wegbreek van die samelewing verkies: Wanneer jy eers jou werk gelos en al jou goed verkoop het, is daar geen omdraaikans nie.

“En dit,” sê hy met genoegdoening, “is presies die punt.” Miriam knik in ooreenstemming. “Want wanneer jy eers van jou vervelige, ongelukkige lewe afgesny is, kan ek jou waarborg jy sal nooit wil teruggaan nie.

© Stefanie Marsh/Guardian News & Media

Terug na die natuur

’n Ontsnapping van die dolle gejaag – dis waarvan die egpaar gedroom het toe hulle hul groot avontuur aanpak. Maar in hierdie uittreksel uit haar boek onthul Miriam hoe vreesbevange sy aanvanklik gevoel het toe hulle by hul uitwykplek in die Nieu-Seelandse wildernis aankom en sy besef presies hoe afgesonder hulle is.

Geen fone of spertye of mense om hul aandag af te lei nie – net eindelose dae wat voor hulle uitstrek met amper niks om te doen nie.

Peter draai om en sit my arms oor sy skouers. “Nou’s dit net ons,” sê hy en omhels my. Ek neem ’n diep asemteug. “Ek voel of ons eindelik tuisgekom het.” Peter knik. “Dit is die wêreld waarin ons almal gebore is.” Ek vat sy hand en kyk uit op die vallei.

“Wonderlike gevoel om so alleen op so ’n afgeleë plek te wees, nie waar nie?” sê ek.

Die naaste huis is ’n goeie drie dae se stap hiervandaan. Terug by die hut blaas ek die vuur weer aan en maak tee. Ek dra dit na Peter waar hy op ’n rots naby die rivier sit.

“Dit is absoluut pragtig, is dit nie?” Ek kyk na die kristalhelder water wat van die berge af neerstort. Maar ná my aanvanklike opgetoënheid wel ’n ongemaklike gevoel in my op, ’n soort besef wat ’n flits van paniek deur my liggaam laat skiet. Dit is die een gedagte wat bots met al my fantasieë van vreedsaam in die wildernis bly: die “Wat nou?”-gedagte.

Wat gaan ek volgende doen? Ek dink aan goed om te doen en onthou ek het nie die toiletgeriewe gesien nie. Die puttoilet is 70 m van die hut af. Dit is ’n diep gat met ’n houtstruktuur bo-op; die enigste ding daaraan wat na ’n moderne toilet lyk, is die wit sitplek.

’n Deurweekte rol papier staan in die hoek. Ek lig die deksel op en kyk in die gat af. Die reuk is so aaklig dat ek die deksel vinnig toemaak. As ek op daardie toilet sit met die deur toe, sal ek versmoor, dink ek.

Dit is erger as wat ek verwag het, en ek dwing myself om nie aan die maande vorentoe te dink nie. Ek gaan eerder tot aksie oor. Ek gaan haal ’n emmer water uit die rivier, kry ’n ou handdoek en begin was die smerige mure, vuil vensters en selfs die vlekke op die matrasse.

Verskeie kere bied Peter aan om my te help, maar uit vrees vir die oomblik wanneer al die take afgehandel is, verkies ek om alles self te doen. Dit is vir my nodig om die leë dag te vul.

Dit is die een ding waarop al ons staptogte en opleiding my nie voorberei het nie: verveling. Ek sluit by Peter aan, wat rustig ’n ou koerant in die son lees.

“Ek dink dit sal aan die begin ’n bietjie van ’n aanpassing wees, en jy?” Ek klink veel samehangender as wat ek voel. “O, ja, ’n groot aanpassing.” Peter knik.

“Die verstand moet kalmeer. Dit kan dae neem om die ritme van die plek aan te neem. Dalk weke.”

Sy voorstel is dat ons net die verveling en rusteloosheid ervaar en ’n ruk lank niks doen nie. Niks. Dit is die laaste ding wat ek wil doen. Niks beteken verveling, die gevreesde vakuum, aaklige leegheid. Niks is die onbekende en ek ontdek ek is bang daarvoor – dit is die vrees wat ek sal moet trotseer in die baie weke wat voorlê.


Woman in the Wilderness deur Miriam Lancewood (Piatkus) is beskikbaar teen R244 by takealot.com.

* Die boek se prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

Foto's: Lottie Hedley, Miriam Lancewood