Die polisie probeer steeds om die legkaartstukke bymekaar te sit ná die dood van die vryskutskrywer Dianne Ayres (35) van Pretoria wie se vernielde lyk ’n week gelede onder raaiselagtige omstandighede langs die N1-hoofweg naby Kilnerpark, noord van die stad, gevind is.

"Ons probeer nog tot verhaal kom met alles wat gebeur het," het Dianne se ma, Rose, Dinsdag aan Huisgenoot.com gesê.

"Ons lewe 'n nagmerrie."

Haar enigste hoop nou is in die polisie om die tragedie te probeer oplos.

Kapt. Coba Brits, plaaslike polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Huisgenoot bevestig die polisie het nog geen deurbraak in die saak gemaak sedert Dianne se lyk in die oggendure van Donderdag 29 November langs dié pad in ’n noordelike rigting naby die Lynettestraat-brug gevind is nie.

Geen ander moontlikhede, insluitend moord, word uitgesluit nie.


Sy het ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting om na vore te kom.

“Die polisie ondersoek in die stadium steeds ’n klag van strafbare mansslag. Ons volg alle leidrade op en is in die proses om al die verklarings af te neem.

“Daar is ’n magdom. Geen ander moontlikhede, insluitend moord, word uitgesluit nie,” het Brits gesê.

Volgens Brits is bewerings dat Dianne se lyk opgekap en in stukke gevind is, onwaar. Haar gesig is na bewering vergruis. Sy glo die familie moes erg geskok gewees het om hul geliefde in so ’n toestand in die lykshuis te vind.

Huisgenoot het vroeër berig Rose en Dianne se vriende het geglo haar dogter is gekaap, doodgekap en uit 'n voertuig geslinger.

“Al die slagoffer se ledemate was nog in plek, maar dit is wel so dat sy baie verniel is. Haar gesig was onherkenbaar,” het Brits hieroor gesê.

Die polisie vermoed in hierdie stadium dat Dianne in ’n tref-en-trap-ongeluk doodgery is, vermoedelik tussen middernag en omstreeks 01:45. ’n Verbyganger het die polisie ontbied nadat dié haar lyk 01:54 langs die pad gevind het.

“Die polisie het dadelik begin om ’n identikit op te stel om te probeer vasstel wie die slagoffer is,” sê Brits.

Dit sou eers op 5 Desember duidelik raak wie die slagoffer was toe Dianne as vermis aangegee is. Die polisie het daarna die twee sake met mekaar verbind.

Dianne is die laaste keer op Woensdag 28 November gesien nadat ’n vriendin haar ná ’n vriend van hulle se begrafnis by die huis afgelaai het. Toe haar lyk in die nag langs die snelweg gevind is, was sy steeds in dieselfde swart romp en bloes wat sy die dag vir die begrafnis aangehad het, gevind.

Hulle het gister haar oorskot aan ons oorhandig, nou kan ons haar ter ruste lê.

Rose vertel sy moet nou elke dag met die skuldgevoelens rondloop dat sy nie haar dogter dadelik as vermis aangemeld het nie. Die verpletterde ma vertel hulle het eers dae lank self naarstigtelik onder familie en vriende vir haar gesoek.

En toe gebeur die ergste.

"Hulle het gister haar oorskot aan ons oorhandig, nou kan ons haar ter ruste lê," het Rose gesê.

Die familie was Dinsdag nog besig om begrafnisreëlings te tref.

Het jy meer inligting?
Enigiemand met inligting kan die Villieria-polisiekantoor by 012 403 8600 of speurder-ao. Paul Mamabolo, die ondersoekbeampte, dringend by 078-421-8254 kontak.