Eksomfalos, ’n seldsame toestand wat lei tot ’n buikwanddefek waar die naelstring by dit aansluit, is by hom gediagnoseer. 

Die vyf maande oue Ephraim Maleho.
Die vyf maande oue Ephraim Maleho. Foto: Verskaf

Hierdie defek veroorsaak dat die inhoud van die maag, meestal die ingewande en lewer, buite die liggaam in ’n los sak rondom die naelstring uitsteek. Ephraim se ouers, Beneline Maleho (27) en Melvory van Wyk (33), het tydens ’n skandering op 13 weke die eerste keer ontdek daar is fout.

Die egpaar, wat albei vir Transnet werk, is die opsie gegee om die swangerskap te termineer, maar Beneline het geweier. “Ek het vir die dokter nee gesê, absoluut nie. Ek sal hierdie kind ’n kans gee om te lewe. 

“Ek en Ephraim se pa het geweet daar is iets spesiaals omtrent hierdie kind."

Hoewel die dokter die toestand in die baarmoeder kon diagnoseer, kon hulle eers vasstel hoe ernstig dit was met sy geboorte. 

Ten spyte van die bekommernis sê Beneline, wat ook ’n 10-jarige seun, Lyle, het, was die swangerskap heel normaal. “Dit het dieselfde gevoel as my eerste swangerskap. Ek was kalm en dit het seepglad verloop.”

Die gesin is in die wolke om hul kleinding tuis te
Die gesin is in die wolke om hul kleinding tuis te hê. Foto:Verskaf

Maar sy was bekommerd toe haar baba deur middel van ’n keisersnee gebore moes word. “Ek het gehuil vandat ek die huis verlaat het tot by die hospitaal en terwyl hulle my vir die keisersnee voorberei het,” sê sy.

Beneline moes ook ’n toestemmingsvorm onderteken waarin sy bevestig sy weet dis ’n hoërisiko geboorte. Dokters het Ephraim gelukkig sonder komplikasies in die wêreld ingebring, maar toe het die kleinding se stryd begin. 

Dr. Ricky Dippenaar, hoofneonatoloog by die Netcare Blaauwberg-hospitaal waar Ephraim gebore is, sê die seuntjie se dun- en dikderm en die helfte van sy lewer het deur sy buik “binne die deursigtige borrel” uitgesteek. 

Omdat sy buikholte nog nie ontwikkel het nie, moes dokters twee maande wag om te opereer om sy organe in hul regte plekke te plaas. 

Beneline Maleho en Melvory van Wyk by hul kinders,
Beneline Maleho en Melvory van Wyk by hul kinders, Lyle en baba Ephraim. Foto: Verskaf

“Ons moes wag vir die vel om te groei om genoeg ruimte in sy maag te maak,” sê Ricky en voeg by Ephraim is in ’n streng beheerde omgewing in die neonatale intensiewesorgeenheid gehou om infeksie te voorkom.

Ricky het ook tydens die geboorte die amniotiese sak – die deursigtige sterk membraan wat binne die ma se baarmoeder vorm en die ongebore baba en amniotiese vloeistof bevat – bewaar.

Dit het eindelik Ephraim se lewe gered. Toe die borrel met van sy organe op twee plekke begin breek het – wat hom ’n hoë risiko vir lewensbedreigende septiese komplikasies gemaak het – het Ricky die bewaarde amniotiese weefsel gebruik om die membraan te versterk. 

“Die amniotiese weefsel het die borrel rondom Ephraim se organe versterk en begin saamtrek.” 

“Saam met die vernouende verband het die borrel drasties verklein en die organe is sagkens tot in sy buik gedruk, wat Ephraim se buikholte in staat gestel het om te groei,” verduidelik die dokter. 

Trotse pa, Melvory.
Trotse pa, Melvory. Foto: Verskaf

Spesialiste kon tydens ’n ingewikkelde operasie al Ephraim se organe veilig in sy lyfie pas.

"Ephraim het vir ons gewys wat dit beteken om ’n klein held te wees,” sê dr. Beelke D’hondt, ’n pediatriese chirurg wat gehelp het om na die pasiëntjie om te sien. 

Ná 100 dae in die hospitaal is Ephraim eindelik ontslaan, en dit was nie ’n oomblik te gou vir Beneline nie. 

“Ek was so opgewonde. Ek het van oor tot oor geglimlag. Ek kon nie slaap nie, want ek was opgewonde om my baba te sien.”

Ephraim het nie gewig opgetel of sy bottel gedrink nie, en moes met ’n voerbuis huis toe gestuur word. Maar dit het vinnig verander ná ’n paar dae tuis. 

“Hy drink sy bottel en eet sy pap en tel mooi gewig op soos ’n normale baba,” sê die verheugde ma. 

Beneline by haar pragtige spruit.
Beneline by haar pragtige spruit. Foto: Verskaf

Sy en sy pa, Melvory, hou hul kleinding fyn dop tot die spiere en lae onder sy vel groei. 

“Hy mag nie val nie, want dit kan sy lewer of ander organe seermaak. In sy geval is dit net sy vel wat sy organe bedek – die spiere onder sy vel en die vet gaan nog ontwikkel namate hy groei; daarom is dit ’n bietjie kwesbaar op die oomblik,” sê Beneline. 

Ten spyte van die ekstra sorg sê sy die gesin is in die wolke om hul baba tuis te hê, veral ouboet Lyle. 

“Ephraim is baie aktief en hou van brabbeltaal praat. Ek dink hy gaan ’n baie borrelende seuntjie wees – hy is baie vriendelik en glimlag met almal.”