Die strafpuntestelsel – demerit points of points demerit system – behoort nou oplaas aan die einde van die nasionale departement van vervoer se 2017/'18-boekjaar landwyd in werking te tree.

Dit volg nadat die parlement 'n wysigingswetsontwerp aanvaar het wat hiervoor voorsiening maak, die Wetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto). Die wetsontwerp moet nou nog net ook die groen lig kry van die nasionale raad van provinsies en deur die president onderteken word.

Die meeste motoriste het waarskynlik al van Aarto gehoor, want die beplanning, ontwikkeling en verfyning van die stelsel het met heelwat omstredenheid en haakplekke gepaardgegaan. Van motoriste tot verkeersowerhede was bra ongelukkig oor hoe proeflopieprojekte in byvoorbeeld Gauteng verloop het.

Maar die oogmerke van die Aarto-stelsel, wat ooreenstem met een wat al baie lank in Australië in bedryf is, is wel lofwaardig. Volgens die departement van vervoer is die wetsontwerp 'n regstreekse uitvloeisel van die ondraaglike Suid-Afrikaanse padveiligheidsituasie.

"Suid-Afrika gaan gebuk onder geweldige lewensverlies sowel as voortdurende veronagsaming van padverkeerswette. Verlede jaar was daar byvoorbeeld 14 071 padongeluksterftes,'' sê Joe Maswanganyi, minister van vervoer.

"Die strafpuntestelsel sal gewoonteoortreders help identifiseer sodat hulle toepaslike strawwe kan kry. Diegene wat die wette aanhou oortree, kan eindelik hul rybewys deur opskortings en kansellasie verloor." Hy voeg wel by dit maak ook voorsiening vir die rehabilitasie van bestuurders.


'n Paar hooftrekke van die Aarto-strafpuntestelsel:

  • Die vernaamste meganisme is dat strafpunte toegeken word aan bestuurders wat verkeersreëls veronagsaam, wat eindelik herhaaldelike oortreders hul rybewys kan laat verloor.
  • Die wysigingswetsontwerp sal dit hopelik makliker maak om oortreders vinniger vas te vat. In dié opsig sal 'n appèltribunaal 'n groot rol speel  – deur die uitskakeling van die las op howe en gepaardgaande vertragings.
  • Alle bestuurder begin met 0 strafpunte agter hul naam.
  • 'n Verkeersoortreding kan jou tussen 1 en 6 punte besorg, na gelang van die erns daarvan.
  • Wanneer jy 12 punte bereik, word jou rybewys opgeskort vir drie maande en jy dus tydelik verbied om te bestuur. Elke punt bo 12 voeg drie maande by die opskortingstydperk. Maar terselfdertyd word 'n strafpunt ook afgetrek vir elke drie maande dat jy geen oortredings begaan nie.
  • Ná drie opskortings word 'n rybewys gekanselleer.
  • Die wetswysiging beteken strafpunte word nie net per voorval – elke keer dat jy vasgetrap word – toegeken nie, maar per oortreding.
  • Gemeet aan die waarskynlike puntetal vir elke oortreding in dié stadium, kan jou rybewys dus byvoorbeeld al opgeskort word as jy, in een voorval, dronk bestuur het sonder jou rybewys, met 'n selfoon teen jou oor en 'n nommerplaat wat nie sigbaar is nie.

Bestuur onder die invloed, spoedoortredings en oorlading van 'n voertuig gaan 'n mens veral punte op die hals haal. Hier is paar voorbeelde van hoe strafpunte waarskynlik toegeken sal word:

LISENSIES & ANDER
Ongelisensieerde voertuig: 1
Nommerplaat nie sigbaar nie: 1
Selfoongebruik terwyl jy bestuur: 1
Bestuur sonder 'n rybewys: 4
Bestuur onder die invloed: 6

STOPTEKENS, VERKEERSLIGTE ENS.
As jy 'n stopteken of rooi lig veronagsaam: 1
As busse, taxi's en vragmotors dit doen: 2
Voetgangeroorgang veronagsaam: 1

VERBYSTEEK EN OORLADING
Verbysteek oor vaste streep: 1
Oorlading van vragmotor: tot 5 

SPOEDOORTREDINGS
81-85 km/h in 60 km/h-sone: 2
100 km/h+ in 60 km/h-sone: 6
106-110 km/h in 80 km/h-sone: 3
120 km/h in 80 km/h-sone: 6
121-125 km/h in 100 km/h-sone: 2
131-135 km/h in 100 km/h-sone: 4
140 km/h+ in 100 km/h-sone: 6
141-145 km/h in 120 km/h-sone: 2
151-155 km/h in 120 km/h-sone: 4
160 km/h+ in 120 km/h-sone: 6

Bronne: transport.gov.za, lawforall.co.za