Die skilder wou wegkom, want op die dorp het hy ingehok gevoel. Sy vrou raai hom toe aan om ’n kleinhoewe te koop. Hy het so gemaak, en hier op Grootdrink loop hy toe die meisie raak wat hom 10 jaar later glo met ’n mes in die hart sou doodsteek.

Onlangs het Sophia Meyer (27) in die hof op Upington verklaar sy het uit selfverdediging ’n mes in die kombuis gaan haal en die skilder gesteek. So het die loopbaan van een van Suid-Afrika se grootste landskapskilders, Walter Meyer, op 52 tot ’n einde gekom.

Die huise in Victoriasingel in Augrabiespark, Upington, is eenvoudig. By nommer 15 skep heldergeel sonneblomme ’n valse verwagting, want die huisie is troos­teloos, met twee verwaarloosde honde wat in ’n koeltekolletjie probeer ontsnap aan die versengende hitte van oor die 40 grade.

Twee verwaarloosde honde op die erf van die huis waar Walter vermoor is.

In dié huis is Walter op 22 Desember vermoor. Aan die vaal hek is ’n tuisgemaakte waarskuwingsteken teen die honde en ’n briefie aan ’n draad gehaak.

In potlood het iemand geskryf: “Casino. Joël.” En ’n nommer. Ons bel die nommer. Joël antwoord. Later vind ons uit dit is Joël du Mont, ’n Belgiese tatoekunstenaar.

Ons vra of Sophia by hom is en of ons met haar kan praat. Hy antwoord met ’n swaar aksent: “Ja, sy is by my.”

Op die agtergrond skree Sophia: “Nee, nee, ek gaan met niemand praat nie! Hulle kan met die lawyer praat.”

Joël sê nóg hy nóg Sophia sal kommentaar lewer voor die saak afgehandel is. Gevra of Sophia vir Walter aangerand het, sê Joël herhaaldelik: “Dit kan nie wees nie; dit is nie waar nie.”

Joël is Sophia se skelmpie, sê die bure, wat nie een hul naam genoem wil hê nie uit vrees vir viktimisasie. Hulle sê ook daar was gereeld rusies in nommer 15.

Joël du Mont (naas­links), Sophia se Belgiese kêrel, in die hof.

Walter en Sophia, wat sowat 10 jaar bymekaar was, waarvan vier jaar getroud, het so luid baklei dat almal in die straat dit kon hoor, vertel hulle; veral wanneer die drank gevloei het. Hulle het soms selfs buite die huis staan en stry en dit het nie altyd by woorde gebly nie.

Dié bakleiery het sommer voor die paar se drie minderjarige kinders af­gespeel. En dis glo nie al kere dat die kinders aan gesinsgeweld blootgestel is nie. Die Meyers se dogtertjie het glo gesien hoe haar ma haar pa na bewering doodsteek. Die staat het juis tydens Sophia se borg­aansoek gesê die kind sal bes moontlik in die hof teen haar ma moet getuig.

Die meisie en haar sewe maande oue sibbe is nou in ’n plek van veiligheid. Die derde kind, ’n ouer seun wat Walter en Sophia aangeneem het, is in pleegsorg geplaas. Volgens Sophia se borgtogvoorwaardes mag sy net haar baba sien en mag sy geen kontak maak met haar ander twee kinders of met Gert en Sonja nie. Dis die volwasse kinders van Walter en sy eksvrou, Catharina Scheepers.

Dit was Catharina wat destyds toe hulle op Upington gewoon het vir Walter gesê het hy moet vir hom ’n “plot” kry toe die dorp hom begin vasdruk. Ons staan en gesels met ’n buurvrou. Sy vertel hoe Sophia in September vir Walter uit die huis gejaag het. Joël, wat destyds saam met Sophia en Walter daar gewoon het, het toe sommer Walter se plek in Sophia se lewe oorgeneem.

“Joël is haar skelmpie. Hy woon steeds hier in hul huis.”

Nadat Walter uitgeskop is, het hy 30 km buite die dorp gaan hulp soek by sy vriendin Suzette Kriel. Hy moes duimgooi na haar en het hier aangekom met net ’n tassie in die hand.

“Hy het my ’n drukkie gegee en gesê hy het geen heenkome nie,” vertel Suzette. Sy het hom ’n kamer gegee.

Walter het gereeld by haar gekla oor Sophia. “Hy het ’n litteken bokant sy linker­oog gehad en twee bytmerke aan sy regtervoorarm. Hy het vertel dit is hoe Sophia hom aangerand het.”

Sy sê hy was die laaste tyd gelukkig. “Walter wou hom regruk. Hy het saam met ’n vriend kerk toe gegaan en sy Bybel­tjie het pal langs sy bed gelê. Soms sou hy onder die boom sit en Bybel lees, maar hy het gesukkel om die drank te los.

Hy het ’n litteken bokant sy linker­oog gehad en twee bytmerke aan sy regtervoorarm. Hy het vertel dit is hoe Sophia hom aangerand het.

“Walter was baie vrygewig al het hy self niks gehad nie. Toe my krag begin November afgeskakel word, het hy ’n gas­stofie vir die huis gekoop,” sê sy.

Die Vrydag voor sy dood het hy weer van die dorp af met die Groblershooppad langs na Suzette gestap. Dié dag wou niemand hom oplaai nie. Toe dit te donker word, het hy onder die Gifkloofbrug geslaap. Teen die kant van die brug is ’n skets van ’n groot geboude vrou.

“Saartjie Baartman,” staan daar geskryf. Wie weet wie se werk dit sou wees . . .

Die volgende dag het hy rooigebrand by Suzette aangekom. Hy het verskriklik baie water gedrink en daarna drie dae lank geslaap.

“Dit moes van hitte-uitputting gewees het,” sê Suzette.

Sy onthou die dag dat sy hom laas gesien het soos gister. “Daai laaste Vrydag het ek vir ons tuna-en-mayonnaise-broodjies gemaak. Hy’t gesê dit was die lekkerste visbroodjie wat hy al gehad het.

“Hy is die middag seker so net ná twee hier weg. Hy het nog vir my gewaai en geskree: ‘Sien jou later!’ toe iemand stilhou en hom ’n geleentheid dorp toe gee. Ek het hom nooit weer gesien nie,” sê sy en die trane wel op in haar oë.

Haar oë word rooi toe sy vertel van Walter se plan om sy bakkie en sy laaste goedjies by Sophia te gaan haal. Die volgende wat sy gehoor het, was die dag toe Catharina kom sê hy is dood.

Suzette wys ons Walter se kamer. ’n Enkelbedjie en plastiekstoel staan in die hoek. In die middel is sy esel met verfmerke en ’n prentjie van Van Gogh daarop. Op ’n tafel is sy kwaste en palet; in ’n boksie op die vloer buisies verf.

Sy kamer in Suzette se huis.
Suzette Kriel wys waar Walter op ’n keer oornag het op pad na haar. Hy het ’n heenkome by haar gevind.

By die kamerdeur staan leë Gordonia Special-wynbottels met klippies in. Dié wyn was Walter se gunsteling, vertel Suzette. Nou gebruik sy dit maar as deurstoppe.

Sy vertel hoe mense die skilder uit­gebuit het. “Iemand sou hom ’n bottel brandewyn gee vir ’n skildery . . .”

Beezy Bailey, Kaapse skilder en jare lange vriend, vertel telefonies aan ons drank het altyd groot probleme in ­Walter se lewe veroorsaak. “Ek ken hom seker al 15 of 20 jaar. Ons het dikwels bymekaargekom en saam geskilder.

“Hy was ’n groot skilder met ’n sensitiewe siel. Sy dood is ’n groot verlies.” 

Wat daardie middag in Victoriasingel 15 gebeur het, moet die hof nog bepaal. Volgens Sophia se verklaring wat haar regsverteenwoordiger, Chris Wessels, tydens haar borgaansoek voorgelees het, het sy uit selfverdediging opgetree. Sy voer aan Walter het haar met ’n mes gedreig, waarna sy ’n mes uit ’n kombuislaai gepluk en hom in die hart gesteek het.

Sophia Meyer pleit selfverdediging ná die moord op haar man.

Nadat haar verklaring voorgelees is, het Sophia na die hofgalery omgedraai. Sy het reguit na haar suster, Maria Engelbrecht (39), gekyk waar sy in die tweede ry van voor gesit het.

“Jy moet aanhou en vasklou aan jou geloof,” het Maria saggies gesê.

Buite die hof het Sophia se ma, Willemina Skeffers (57), gesê: “Sy is eintlik ’n baie saggeaarde mens.”

Toe draai sy om en stap weg sonder om nog ’n enkele woord te uiter. 

Foto's: Onkgopotse Koloti, waltermeyer.co.za