Die polisie het in Februarie ’n soortgelyke klopjag gedoen nadat kliënte begin kla het dat hulle ’n uitslag aan hul vel kry. Ná die klopjag het die produkte positief getoets vir hoë vlakke van bakterieë. Ook is ontlasting van diere en urine in die produkte gevind. 

Nog klagte is deur die polisie ontvang en hulle het weer toegeslaan.

Volgens Usatoday.com het die polisie in Los Angeles in die jongste klopjag op produkte ter waarde van sowat R8,4 miljoen beslag gelê in die modedistrik Santee Alley nadat hulle daar tydens 'n klopjag op sowat 21 winkels toegeslaan het, berig die Los Angeles-televisiestasie KABC

Kapt. Marc Reina het Vrydag 'n foto gedeel van die nagemaakte produkte wat tydens die klopjag gekonfiskeer is.

Onder die handelsmerke wat geraak is, is produkte van die werklikheidster Kylie Jenner (20) se grimeerreeks Kylie Cosmetics en die handelsmerke Anastasia en MAC.

Die verpakking van die produkte lyk nes die ware Jakob. Mense wat die produkte gekoop het, het glo 'n uitslag aan hul gesig gekry.

Die produkte is later vir toetse gestuur en die resultate was allesbehalwe mooi: Hoë vlakke van bakterieë en ontlasting is in die produkte gevind. 

“Die feses word basies op die een of ander manier in die produk gemeng wat hulle in hul motorhuis of badkamer vervaardig, of waar hulle die goed ook al vervaardig," het die ondersoekbeampte Rick Ishitani aan KABC gesê. 

Kylie se ouer halfsuster Kim Kardashian (37), wat ook haar eie reeks grimeerprodukte het, het ook op Twitter kommentaar op die vonds gelewer. 

“Die nagemaakte Kylie Lip Kits waarop die LAPD tydens ’n klopjag beslag gelê het, het positief getoets vir feses. Dis so walglik! Moet nooit nagemaakte produkte koop nie!” het die ma van drie getwiet.

Luidens ’n berig is ses mense in hegtenis geneem. Hulle gaan glo van handelsmerkskending aangekla word. Nog 15 mense is beveel om onmiddellik die onwettige verkoop van die produkte te staak.

Bronne: Usatoday.com, CNN.com