Soos ’n koning op sy troon sit hy agteroor op sy groot, opgestopte rooi leerstoel. Net sy baritonstem versteur die stilte tussen die stinkhout­panele van sy kantoor.

En Ben Deysel is inderdaad ’n koning – die koning van die kruispad. Hy regeer oor Highway Junction, die tweede grootste en wins­gewendste vragmotorhalte in die ganse Afrika.

Sy vragmotorhalte is die tweede grootste in Afrika
Sy vragmotorhalte is die tweede grootste in Afrika. Foto: Fani Mahuntsi

Sy onderneming, wat langs die strategiese kruising van die N3- en N5-­hoofweg by Harrismith hurk, is ’n miernes van bedrywigheid.

Of jy nou van noord na suid tussen Gauteng en Durban se hawe ry, of van oos na wes tussen Lesotho en die Noord-Kaap – Ben se plek is waar jy stop vir brandstof, kos, ’n warm stort en ’n veilige oornagplek.

Eens die juweel van die Vrystaat

Dis g’n verrassing om te hoor Ben (63) is die afgelope 12 jaar ook voorsitter van Harrismith se sakeforum nie. Maar dinge is al ’n geruime tyd nie lekker in die Oos-Vrystaatse koninkryk nie.

“Harrismith was eens die juweel van die Vrystaat, lank voor Clarens die ­titel verower het,” vertel Ben. “Maar nou is die dorp in ’n toestand.

Die strate is vol rioolvuil. Slaggate in die strate verwoes motors se wiele. Rioolvuil vloei in die riviere in en die water uit die krane lyk soos modder. As mense nou van Harrismith praat, praat hulle net van die Wimpy langs die pad,” sê Ben.

Boonop het Eskom gedreig om die dorp se krag af te sny omdat die plaaslike Maluti-a-Phofung-munisipaliteit se krag­rekening met sowat R4 miljard agterstallig was. Dít terwyl die dorpenaars en die ondernemings volgens Ben getrou betaal het.

“Die geld wat aan die munisipaliteit betaal word, verdwyn net. Dit kom nooit by Eskom uit nie,” beweer hy.

Eskom en Sanral

Toe besluit die koning van die kruispad en sy ridders van die sakeforum om sommer self orde in die koninkryk te herstel.

En ná ’n uitmergelende regstryd van twee jaar kon hulle verlede jaar triomfantelik ’n hofbevel omhoog hou – een wat die dorp se 100 grootste kragverbruikers toelaat om hul krag regstreeks van Eskom te koop.

“Daarmee skakel ons die munisipaliteit as middelman uit,” sê Ben.

Die wind, altyd rusteloos hier aan die voet van die besige Van Reenenspas oor die Platberg, pluk-pluk aan die ruite. Maar vir Ben is dit die soete winde van verandering.

Dit is nie die eerste keer dat Ben en die sakeforum die wapen opneem vir hul dorp nie.

In 2015 wou die Suid-­Afrikaanse Nasionale Pad­agentskap (Sanral) die roete van die N3 tussen Johannesburg en Durban ver­ander – weg van die dorp af.

“Dit sou Harrismith in ’n spookdorp verander het,” sê Ben. “Niemand sou meer op Harrismith gestop het nie. Ons lewensaar sou af­gesny gewees het.” Hy reken die dorp sou 1 600 werkgeleenthede verloor het.

Die sakeforum se prokureurs het met Sanral en die minister van vervoer ver­gader. Ná talle meningspeilings, open­bare vergaderings en navorsing deur ekonome is die planne vir ’n nuwe N3-­roete oor die Drakensberge, asook ’n peperduur tolhek, laat vaar.

“Die minister het besluit om die N3 so te hou en dit eerder op te gradeer,” verduidelik Ben.

Uitstaande elektrisiteitsrekening

Maar hulle kon nie op hul louere rus nie. Die probleme met die munisipaliteit se betalings aan Eskom het ál erger geraak. Die Maluti-a-Phofung-muni­sipaliteit, wat maandeliks sowat R180 miljoen se krag verbruik, se uitstaande elektrisiteitsrekening is die grootste in die land, vertel Ben.

“Ons (die 100 grootste kragverbruikers) het getrou ons munisipale rekenings betaal. Maar die geld gaan nie na Eskom toe nie, en hulle het verlede jaar verskeie kere gedreig om die kragtoevoer na die dorp heeltemal af te sny.

“Daar is 164 000 voorafbetaalde elektrisiteitsmeters op die dorp, maar Eskom ontvang maandeliks slegs 32 000 van dié meters se geld,” beweer Ben.

Ingevolge die hofooreenkoms sal die dorp se nyweraars steeds hul krag deur die munisipale netwerk ontvang – maar die rekening dan regstreeks aan Eskom betaal. Die betrokke kragverbruikers sal nuwe, afsonderlike kragmeters en verwysingsnommers van Eskom kry.

Ben Deysel en die Harrismith-­sakeforum het ’n opl
Ben Deysel en die Harrismith-­sakeforum het ’n oplossing ­gekry vir die munisipaliteit se reusekrag­rekening. Foto: Fani Mahuntsi

Onder die 10 sake-instansies wat reeds hul nuwe meters het, is Ben se Highway-­groep, en die res van die sakegemeen­skap sal na verwagting teen einde November ook by die nuwe stelsel ingeprop wees.

Maar dis nog nie die einde van die saak nie. Volgens Ben doen die sakeforum nou aansoek dat die munisipaliteit se krag­lisensie deur die Nasionale Energie­reguleerder onttrek word.

Die doel is dat die hele dorp – gewone huiseienaars ingesluit – eindelik regstreeks krag van Eskom sal kan koop.

’n Nuwe munisipaliteit

“Ons wil ook hê die munisipaliteit moet ontbind. Die sakeforum en departement van plaaslike regering moet ’n gesamentlike herstelplan vir die dorp opstel en ’n nuwe munisipaliteit moet in plek gekry word,” sê Ben.

“Daar is so baie kundige mense op die dorp wat wil hê die gemeenskap moet vooruitgaan en selfstandig wees.”

Hy noem as voorbeeld die sogenaamde “Water Heroes”, ’n groep vrywilligers uit die kontrei. “Dit is boere en inwoners wat waterpompe en pyplyne op die dorp uit hul eie sak herstel of vervang, want die muni­sipaliteit doen dit nie.”

Ben het ook al sommer self elektrisiëns uitgestuur om verkeersligte en straat­ligte op die dorp te herstel, en hy reël ook skoonmaakprojekte op die dorp.

Ben saam met sy elektrisiën, Corrie Lottering. Hy
Ben saam met sy elektrisiën, Corrie Lottering. Hy stuur gereeld kundiges soos Corrie uit om probleme soos verkeersligte wat nie werk nie op die dorp te herstel. Foto: Fani Mahuntsi

“Ons het al ’n paar keer ’n bloutjie geloop met die munisipaliteit, wat sommer die polisie bel en sê ons saboteer of beskadig hul eiendom. Maar eintlik wil ons net help om ons dorp tot sy vorige glorie te herstel.”

Arm grootgeword

Ben is al 25 jaar lank ’n krag op Harrismith. Voor dit was hy in Johannesburg, waar hy ’n logistieke onderneming bedryf het. Maar hy het dit nie altyd breed gehad nie.

“Ek het arm grootgeword,” vertel hy. “My pa was ’n predikant, en ons moes maar plan maak om kos op die tafel te kry.”

Maar as jy hard werk en als vir jou gemeenskap gee, sal jy die vrugte daarvan pluk, glo hy. Dit is vir hom belangrik dat sy onmiddellike omgewing vir hom en sy familie veilig en volhoubaar moet bly. ’n Mens pak nie net op wanneer dit nie goed gaan nie, glo hy; jy maak ’n plan om dit beter te maak daar waar jy reeds is.

En vir hom is dit hier, langs die kruispad van die besige vervoerare tussen noord en suid, oos en wes; hier waar die vragmotors met brullende dieselenjins en sissende lugremme stilhou en wegtrek.

Ek wil nie hê my kinders moet iewers oorsee gaan weens die uitdagings in ons land nie. Ek wil hulle naby hou.

Hier op Harrismith, en ook hier in Suid-Afrika. Ben het immers ook drie kinders en agt kleinkinders.

“Ek wil nie hê my kinders moet iewers oorsee gaan weens die uitdagings in ons land nie. Ek wil hulle naby hou. Hulle is my alles, en as ons nie nou iets doen nie, gaan ons nageslag daaronder ly,” sê hy.

“Ek wil hê my kleinkinders en agterkleinkinders moet eendag kan sê hul oupa het nie net gepraat nie – hy het gedóén.”

  • Teen druktyd het die plaaslike munisipaliteit en Eskom nog nie kommentaar gelewer nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.