Julie Rohrdanz (45) van Iowa, Amerika, ly aan polimorfe ligerupsie – sy is erg allergies vir die son. Wanneer haar vel aan sonstrale blootgestel word, kan sy gou 'n rooi uitslag en pynlike jeukbulte ontwikkel. Dit kan tot 'n week duur voor laasgenoemde weer opklaar. Sowel haar ma, Sally Riedell, as haar ouma Sally Ontiveros het ook die toestand, maar Julie het dit in 'n ernstiger mate.

Facebook

"Ek dra groot wyerandhoede, serpe om die gesig en nek, langmoue, handskoene en natuurlik 'n langbroek," het sy onlangs aan Metro vertel.

Haar vel het oor die jare toenemend fotosensitief geraak, tot waar dit vier jaar gelede selfs in die flouste sonlig "sou brand asof ek te naby aan 'n vuur staan. My toestand het so vererger dat my vel selfs al op sommige ligte binnenshuis (wat daglig naboots) gereageer het."

Sy's allergies vir sowel UVA-strale, wat die vel se diepste laag binnedring, as UVB-strale, wat die veloppervlak kan brand.

Gelukkig het sy onlangs verligting vir haar simptome gevind toe dokters vir haar 'n middel voorskryf wat tradisioneel vir die behandeling en voorkoming van malaria gebruik word. Vir die eerste keer in jare kon sy dit op 'n warm dag vir 'n rukkie lank in 'n kortmouhemp buite waag. "Dit was wonderlik. Ek voel die son is sterk, maar ek kan sterker wees. Tog weet ek ook 'n lang pad lê voor.”

En oor een ding is die verkoopsbestuurder en haar ingenieurman, Nick, baie dankbaar: Hul dogter Grace (17) het blykbaar nie haar ma se 'vampier-gene' geërf nie.

Bronne: Metro, skinsupport.org.uk, tv3.ie, Facebook