Die Metropolisie het bevestig die voorval word as 'n daad van terreur hanteer.

Een vrou sê sy het ’n helder lig en ’n ontploffing gesien, en toe sy terugkyk het sy ’n sak daar sien lê.

Dit is deur nog ’n ooggetuie bevestig. Hy sê hulle het dadelik uit die trein gespring.

Luidens berigte het verskeie mense brandwonde aan hul gesig opgedoen.

Ene Emma het op Twitter gesê sy is veilig nadat sy “vir haar lewe moes vlug”.  

Talle is beseer toe hulle van die moltrein probeer vlug het.

Die Londense brandweerdiens en polisie het omstreeks 08:20 op die toneel aangekom.   

Robyn Frost het aan die BBC gesê sy het bloed op die vloer gesien en mense hoor gil om pad te gee.

Richard Aylmer-Hall (53), ’n mediategnologiekonsultant, was ook op die trein toe die chaos uitbreek.

“Daar was baie paniek, gille, baie gille . . . ”

“Sommige mense is omgestoot en op getrap. Ek het twee vroue gesien wat deur ambulanspersoneel behandel is,” het hy gesê.

Sham, nog ’n ooggetuie, het vertel van ’n man met ’n bebloede gesig.

“Ek het ’n man gesien, sy gesig was bebloed. Ek het nog nooit so iets gesien nie.

“Daar was talle mense wat gehuil het, en ook baie wat met bloed bedek is.”


James Jackson, wat op pad na die trein was, sê hy het gesien hoe ’n vrou met verbande om haar bene na ’n kafee gedra is. Die enigste rede dat hy nie op die trein was nie, is omdat hy Vrydagoggend ’n bietjie laat geslaap het.

  • Op 11 Augustus 2017 moes duisende pendelaars, ook op 'n Vrydagoggend, ’n moltreinstasie in Londen ontruim toe rook uit een van die treine by die Oxford Circus-stasie begin borrel het.

Bronne: telegraph.co.uk, independent.co.uk, nypost.com