Lydia en Ryan Carneson met hulle kinders Kenzi, Pa
Lydia en Ryan Carneson met hul kinders, Kenzi, Payten en Reef. Foto: Facebook

Die Carneson-gesin se huis in Newcastle upon Tyne in Engeland was veronderstel om hul ‘vir altyd’-tuiste te wees, en die gedagte dat hulle weer moet ontwortel, is amper te veel om te verwerk.

“Om Reef se begrafnis te beplan, is die ergste ding ooit,” sê Lydia Carneson. “En toe vind ons Vrydag (11 Junie) uit die huis gaan onder ons uitverkoop word.

“Ons het ons laaste geld in die huis gesit,” sê Lydia. “Ons het gordyne opgehang, die huis versier en die kinders se kamers spesiaal ingerig. Ons het gedink ons gaan vir altyd hier woon.

“Ons wou so graag vir die dogters 'n bietjie stabiliteit gee, en ons wou ’n bakkery vanuit die huis op die been te bring. Dit het twee oonde en ’n wassery. Dit is perfek daarvoor.

“Maar om iets te begin en dan weer te trek. . . ”

Boonop was Reef net vir 10 dae in die kamer wat hulle vir hom ingerig het, voor hy in die hospitaal opgeneem is. So dit is nie asof hulle eindelose herinneringe van hom in die huis het wat dit vir hulle ondraaglik maak om daar te woon nie. 

Mense reg oor die wêreld is aangegryp toe Reef Carneson (12), ook bekend as Baba Reef, op vyf maande met leukemie gediagnoseer is. Vir jare het hy kliphard teen die siekte baklei, maar op Vrydagaand 4 Junie is hy in sy ouers se arms oorlede. 

Die Carnesons, wat oorspronklik van Johannesburg af is, het in 2011 Amerika toe getrek het om beter behandeling vir Reef te kry.

Aanvanklik het hulle in Los Angeles gewoon, maar in 2014 het hulle Ohio toe getrek toe Reef velkanker op sy kopvel en gesig ontwikkel. Hy is by die Cincinnati-kinderhospitaal behandel.

Dit was een van sy wense om na ’n winkelsentrum to
Dit was een van sy wense om na ’n winkelsentrum toe te gaan. Foto: Verskaf

In Februarie vanjaar is hulle gedwing om Amerika te verlaat weens ’n wysiging aan Amerikaanse immigrasiewetgewing. Hulle het Engeland toe getrek aangesien Lydia ’n Britse burger is en Reef se Amerikaanse dokter bande gehad het met ’n Britse hospitaal. 

Hulle het ’n verbale ooreenkoms met die huiseienaar aangegaan dat hulle die huis sou koop, verduidelik Lydia.

In Februarie, toe hulle in Engeland aangekom het, het hulle nog nie ’n kredietrekord gehad nie en hulle het ’n jaar se huur vooruit betaal. Die plan was om die huis te koop sodra hulle kredietwaardig is. 

Lydia is Vrydag na die verhuringsagentskap om hulle in te lig dat Reef oorlede is, en dit is toe dat sy die nuus kry. 

Die huiseienaar is van plan om die huis aan ’n familielid te verkoop en is glo nie van plan om anders oortuig te word nie.

“Ons wil nie weer trek nie,” sê Lydia. Ons het so baie uitgegee op immigrasiekoste en onkoste vir die trek. 

“Nie ek of Ryan werk op die oomblik nie en ons kan dit nie bekostig om weer op te pak en êrens ’n deposito te betaal en te huur nie.”

“Ons het geen idee wat ons gaan doen nie,” sê sy moedeloos.

Reef het vir die grootste deel van sy lewe in die
Reef het vir die grootste deel van sy lewe in die hospitaal deurgebring. Foto: Facebook

Baba Reef

Leukemie is op vyf maande by Reef gediagnoseer.

Op 11 maande was hy die jongste kind in Suid-Afrika was wat ’n beenmurgoorplanting gekry het, maar ná die oorplanting het hy aan ’n ernstige vorm van transplantaat-versus-gasheer-siekte (TVGS) begin ly.

TVGS het Reef se immuniteit erg afgetakel, en Lydia en Ryan het in 2011 besluit om Amerika toe trek, aangesien dokters daar meer ervaring het om die toestand te behandel. 

Die TVGS het ’n veltoestand tot gevolg gehad wat pynlike sere en littekens aan sy liggaam veroorsaak het. 

Die newe-effekte vir die behandeling van die outo-immuuntoestand het tot aggressiewe velkanker gely, en ’n deel van sy skedel moes verwyder word om te keer dat die kanker versprei. 

Dit was ongelukkig vergeefs, en in April vanjaar het die Carnesons gehoor die kanker het na Reef se longe versprei.

Hy is op 4 Junie omstreeks 20:00 oorlede. 

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
  • Reef word op Woensdag 16 Junie veras wanneer daar ook ’n privaat diens vir die familie gehou sal word. Op Saterdag 26 Junie sal daar ’n openbare diens vir vriende, familie en kennisse reg oor die wêreld gehou word, wat regstreeks op Facebook uitgesaai sal word.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe