In die lewe was hy ’n kolos, ’n Amerikaanse oorlogsheld en patriot wat diep spore in die politiek van sy land gelaat het.

Nie almal het altyd met John McCain saamgestem nie, en hy was soms omstrede, maar selfs die teenstanders van die Republikeinse senator van Arizona het sy waardes en morele kompas gerespekteer.

Dit was met sy dood, en die roudiens wat hy self haarfyn beplan het, dat die politikus sy sterkste boodskap nog aan Amerika en die wêreld gestuur het.

Hy het nou wel sprekers soos oudpress. George W. Bush en Barack Obama gebruik om sy boodskap aan ’n verdeelde Amerika te bewoord, maar dit was onmiskenbaar McCain se stem wat uit die graf gesê het: Ons land moet bo die kleingeestige, verdelende politiek van die Donald Trump-era uitstyg en oor partypolitieke grense heen hande vat om ware Amerikaanse waardes te laat herleef.

Oudpres. Barack Obama het aan hom hulde gebring. Foto: Gallo Images/Reuters

Die feit dat McCain voor sy dood streng opdrag gegee het dat Trump nie sy roudiens in Washington se nasionale katedraal mag bywoon nie, laat min twyfel oor wie hy as die grootste vlieg in die salf van Amerikaanse eenheid beskou het.

En Trump?

Terwyl politieke vriende en teenstanders, oudpresidente soos Bush en Obama, en die voormalige minister van buitelandse sake Henry Kissinger hulde gebring het aan McCain as die verpersoonliking van Amerikaanse waardes, het Trump gholf gespeel; skynbaar min geskeel deur die stekies wat sprekers na hom inkry op die staatsbegrafnis waar hy nie welkom was nie.

Trump was smalend oor McCain se status as ’n oorlogsheld toe dié hom oor sy opruiende uitsprake kritiseer kort nadat die magnaat homself as Republikeinse presidentskandidaat verkiesbaar gestel het.

Hy wat Trump is, beskou dit nie as dapper om jou deur die vyand te laat gevangene neem nie, het hy laat hoor. In die lewe het McCain twee keer sonder sukses sy naam in die hoed gegooi vir die Withuis.

Maar min mense sou stry dat hy waarlik presidensieel was in die ongelooflike wyse waarop hy afskeid geneem het van die land wat hy so onselfsugtig gedien het en waaroor hy in sy laaste dae duidelik bekommerd was.

DINGE WAT BO POLITIEK VERHEF IS

“Hy het verstaan bepaalde beginsels en waardes is bo politiek en party verhewe,” het Obama in sy huldeblyk benadruk.

“Soveel van ons politiek, ons openbare gesprek, blyk gemeen en kleinlik te wees, deurspek met bombasme, beledigings, valsheid en gemaakte woede.

“Dis ’n politiekery wat kastig dapper is, maar in werklikheid uit vrees spruit. En John het ’n beroep op ons gedoen om groter en beter as dit te wees.”

Volgens Obama was McCain “’n taamlik konserwatiewe ou” van wie hy oor baie kwessies verskil het.

“Tog het ons saamgestaan oor Amerika se rol en die geloof dat groot mag en seëninge met groot verantwoordelikheid gepaardgaan. Ná alles het ons nooit getwyfel dat ons in dieselfde span is nie,” het Obama gesê oor die man wat hy in 2008 se presidentsverkiesing verslaan het.

“Die beste manier om aan hom eer te betoon is om te erken sekere dinge is groter as party, ambisie, geld, roem of mag.”

En Bush, wat McCain in 2000 se Republikeinse benoemingstryd geklop het, het beaam: “Ons het mekaar frustreer, maar hy’t my ook ’n beter mens gemaak. Hy was eerlik, ongeag wie hy dalk aanstoot kon gee. Maar hy het altyd sy teenstanders as medemense en patriotte erken.”

By pres. Richard Nixon nadat hy uit Viëtnam teruggekeer het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ook Bush het bedekte kritiek jeens Trump in sy toespraak verweef: “John het bowenal magsmisbruik verfoei. Hy kon nie vooroordeel en windmakerige despote verdra nie.”

Kissinger (95) het vertel hoe McCain, ongeag sy jare lange lyding as krygsgevangene, gewerk het om verhoudings tussen Amerika en Viëtnam te herstel.

“Sy naam word vereenselwig met ’n Amerika wat uitgereik het.” McCain het volgens Kissinger altyd verdeeldheid en konflik met optimisme en hoop begroet en ’n beroep op Amerika gedoen om dieselfde te doen.

“Ons land was gelukkig dat groot geeste in tye van nasionale beproewing na vore gekom het om ons aan ons eenheidsgevoel te herinner en ons te inspireer om ons waardes uit te leef. John was een van daardie gawes aan ons. Eerbaarheid was sy Noordster.”

TRUMP KAP TWIETEND TERUG

Vir talle politieke waarnemers het McCain se begrafnis die kloof tussen Trump-ondersteuners en die res versinnebeeld. Dit het glo mooipraat gekos om enige vorm van erkenning vir McCain se reusebydrae tot die Amerikaanse politiek uit die presidentskantoor te kry.

McCain was nie eens in sy graf by die Vlootakademie in Annapolis, Maryland, nie, toe twiet Trump sy verkiesingslagspreuk: “Make America great again.”

Trump wou blykbaar daardeur McCain se dogter Meghan op haar plek sit omdat sy hom by die roudiens gekritiseer het. “Die Amerika van John McCain hoef nie weer groots gemaak te word nie, want daardie Amerika was nog altyd groots,” het sy gesê.

En ook: “Ons rou oor die heengaan van Amerikaanse grootsheid, die ware Jakob; nie die goedkoop retoriek van mans wat nooit naby sal kom aan die opofferings wat hy (McCain) so bereidwillig gemaak het nie.”

KRYGSGEVANGENE

In sy huldeblyk het Obama gesê McCain het nooit sy energie of lewenslus verloor nie, al was hy in meer as een opsig “hel toe en terug”. As vlootvlieënier tydens die Viëtnam-oorlog is hy in 1967 oor Hanoi neergeskiet.

Hy het sy uitskietstoel geaktiveer, maar in die proses albei sy arms en regterknie gebreek. Op die grond het Noord-Viëtnamese soldate ook sy skouer met ’n geweerkolf vergruis en hom met ’n bajonet in die enkel gesteek.

Sy breuke is nooit behoorlik gespalk nie en gedurende sy byna ses jaar in die tronk bekend as die “Hanoi Hilton” is hy dikwels gemartel.

Toe die Noord-Viëtnamese mettertyd agterkom sy pa is ’n vlootadmiraal, het hulle hom ’n vroeë vrylating aangebied.

Maar McCain het geweier, tensy van sy landgenote wat al langer as hy aangehou is ook vrygelaat word. Gevolglik is hy opnuut aangerand en altesaam twee jaar lank in afsondering opgesluit.

John word as krygs­gevangene in Hanoi onder­soek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is eindelik in 1973 vrygelaat, maar weens sy beserings kon hy nooit weer sy arms hoër as sy skouers lig nie. Familielede of assistente moes al die jare die pa van sewe se hare vir hom kam en hom sy baadjie help aantrek.

Omdat hy nooit gekla het nie, het min mense die omvang van sy beserings besef. Bush wou jare gelede, gedurende ’n verkiesingsveldtog, van ’n McCain-assistent weet of die senator nie saam met hom wou gaan gim nie.

Toe dié hom vertel McCain “kon nie eintlik gim nie”, het hy verbaas gevra: “Maar waarom nie?”

LEIER IN AMERIKAANSE KONGRES

McCain is in 1983 die eerste keer tot die huis van verteenwoordigers verkies. Hy het in 1987 senator van Arizona geword, ’n pos wat hy tot sy dood beklee het.

Die ouskoolse Republikein het dikwels betreffende buitelandse beleid en militêre kwessies die leiding in die Amerikaanse Kongres geneem.

Nadat Bush hom in 2000 as Republikeinse presidentskandidaat getroef het, was McCain wel in 2008 die party se kandidaat om die Demokrate se nuwe ster, Obama, aan te vat. In ’n poging om meer regse populistiese steun te werf, het John die grootste fout van sy loopbaan begaan deur die omstrede Sarah Palin as sy verkiesingsmaat te kies.

Hy het later sy groot spyt daaroor uitspreek. Obama se program vir verandering het hom, ná agt jaar van die Bush-regime, laat wen.

VEGTER TOT DIE EINDE

McCain was altyd bereid om met teenstanders saam te werk oor omstrede politieke kwessies soos immigrasie-hervorming. In 2005 het hy en wyle senator Ted Kennedy, van die Demokratiese Party, saam wetgewing bekragtig oor beter grensbeheer, maar wat Amerikaanse burgerskap moontlik sou maak vir ongedokumenteerde maar verdienstelike immigrante.

Simbolies van John as ’n morele leier was die keer toe ’n oningeligte vrou by ’n verkiesingsaamtrek sê sy wantrou Obama “omdat hy ’n Arabier is”.

Hy het haar dadelik kortgevat: “Nee, mevrou, hy’s nie ’n Arabier nie. Hy’s ’n eerbare man van wie ek bloot oor fundamentele kwessies verskil.”

’n Aggressiewe vorm van breinkanker is in Julie verlede jaar by hom gediagnoseer ná chirurgie om ’n bloedklont bo sy linkeroog te verwyder.

Maar skaars twee weke ná sy breinchirurgie het hy weer by die Amerikaanse Kongres ingestap om Trump se poging te help kelder om “Obamacare”, die Amerikaanse gesondheidsplan, ongedaan te maak.

Sodoende het hy Obama se gesondheidsplan help red, wat miljoene Amerikaners toegang tot beter mediese sorg sal gee.

Sy laaste groot daad was om met sy keuse van sprekers by sy roudiens self die draaiboek vir sy begrafnis te skryf; een wat Amerikaners herinner aan wie en wat hulle as ’n nasie moet wees.

Bronne: Johnmccain.com, Mccain.senate.gov, CNN, Reuters, Slate.com, APnews.com, Politico.com