Jayme Closs is op 15 Oktober ontvoer na ’n verdagte, Jake Thomas Patterson (21), haar ouers, James (56) en Denise (46), in hul huis in  Barron in Wisconsin in Amerika, doodgeskiet het. Jayme is glo vir die afgelope drie maande in 'n kelder in 'n bouvallige huis in Gordon, Wisconsin deur haar beweerde ontvoerder aangehou.

Die beweerde ontvoerder, Jake Patterson, is in hegtenis geneem. Foto: Barron County sheriff's department

Die skokkende toneel is die afgelope ruk deur die polisie gefynkam nadat Jayme wonderbaarlik Donderdag ontsnap het. Jake is 'n ruk later in hegtenis geneem en staan tereg op klagte van moord en ontvoering. 

Die huis lyk soos iets uit 'n rillerfliek. In die dubbelverdiepingwoning is hope vullis, ou meubels, opgehoopte vuil skottelgoed, vuil beddegoed, leë drankbottels, 80 doeke vir volwassenes en 'n Monopoly wat nie klaar gespeel is nie, gevind. 

Die polisie glo Jake het haar in die huis in verskillende kamers laat rondbeweeg, maar haar weggesteek as hy gedink het iemand kom kuier. Jake het haar glo hier vir 88 dae gevangene gehou. 

Nadat sy Donderdag uit die woning ontsnap het, het 'n vrou haar in oorgrote skoene, vuil klere en deurmekaar hare in die straat gevind. Die vrou het Jayme na haar buurvrou, Kristin Kasinskas, gevat, wat Jamey gehelp en die polisie gebel het. “My buurvrou het gesê dit is Jayme Cross en ons moet die polisie bel,” sê Kristin.

“Sy (Jayme) het nie baie detail gegee nie. Sy het wel die persoon geïdentifiseer en gesê die man het haar ouers doodgemaak en haar ontvoer. Sy het nie detail gegee oor hoe sy uit die huis gekom het nie en het gesê sy het nie die area geken waarin sy was nie,”  sê Kristin. 'n Ruk later – nadat Jayme en Kirstin die polisie vertel het in watter voertuig Jake ry - is sy motor gestop en hy is in hegtenis geneem.

Bronne: Dailymail, CNN