So het Louise Horn, tannie van die ontvoerde Amy'Leigh de Jager (6), op haar Facebook-blad geskryf. 

“Ek het die voorreg gehad om vir Amy'Leigh vroegoggend vas te hou en te soen,” vertel sy.

Die gr.-R-leerder van die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark is Maandagoggend, 2 September, omstreeks agtuur deur vier mans ontvoer nadat haar ma, Angeline, haar by die skool afgelaai het. 


Dit het tot ’n grootskaalse soektog na die kind gelei. Die ontvoerders het glo ook haar pa, Wynand, gekontak en ’n losprys van R2 miljoen geëis. 

Dinsdagoggend om ongeveer drieuur is Amy'Leigh deur haar ontvoerders in ’n straat naby die Shakespeare Inn Hotel in Vanderbijlpark afgelaai. ’n Man en vrou het glo op die huilende meisie afgekom en haar na die polisiekantoor geneem waar haar pa haar gevind het. 

“Haar glimlag het van voor af my hart gesmelt,” skryf Louise. “Onskuldige kindertjies verdien nie dié hartseer nie.” 

Volgens Louise is Wynand en Angeline deur ’n bitter moeilike tyd. 

“Haar mamma en pappa is deur ’n hartseer wat jy nie deur die dood self kan beleef nie," sê sy.

Volgens Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, is Amy'Leigh na ’n plaaslike hospitaal geneem vir mediese toetse. Die ondersoek duur voort.