Dustin het Donderdagmiddag by ’n vulstasie in Northcliff, Johannesburg, stilgehou toe drie mans ’n motor naby hom probeer kaap.

Die drie mans het in ’n silwer Mercedes Benz van ’n roofpoging in Montgomery Park gevlug, met ’n sekuriteitswag van Suburban Control Centre kort op hul hakke.

Die mans het op die hoek van Beyers Naudérylaan en Milnerlaan in ’n motor vasgery en uitgespring. Hulle het daarna oor die pad na ’n Engen-vulstasie gehardloop, waar een ’n jong vrou in 'n blou Toyota Etios gekaap het. 

“Ek en ’n kollega het net by die vulstasie ingery vir brandstof toe ons die silwer Mercedes teen ’n swart bakkie sien bots,” sê Dustin, bedryfsbestuurder by ’n vervaardigingsmaatskappy, aan Huisgenoot.

“In daardie stadium het ons net gekyk na alles wat ontvou, maar toe die ou met ’n vuurwapen uit die motor klim en die sekuriteitsvoertuig ook op die toneel aankom, het ek net geweet ek moet my foon uithaal.”

Let asseblief daarop die video bevat geweld.

Dit was “natuurlik absoluut skrikwekkend” toe hy skote hoor afgaan, sê Dustin, maar “jou adrenalien neem oor en jy weet net wat jy moet doen".

Dustin, wat in die gebied woon en werk, sê hy het na die kapers gehardloop, want hy wou weet wat aangaan.

Nadat een van die verdagtes die Etios van die vrou by die motorhawe gekaap het, het die veiligheidsbeampte losgebrand.

“Toe hoor ek daardie laaste skoot,” sê Dustin.

“Die motor het uitgeswenk en net gebots.

“Op daardie oomblik was daar niks meer geraas nie; dit het onheilspellend stil geword. Dis toe dat ek uit die motor klim, want ek wou weet wat aangaan en ek wou die publiek perspektief gee oor wat gebeur het.”

Toe hy kom waar die Toyota tot stilstand gekom het, was mense besorg oor die bestuurder.

Om die vrees in sy oë te sien en ’n minuut later staan ek oor sy lyk . . . dit was iets anders.

“Daar was baie mense. Hulle het gedink dit was net ’n ongeluk, maar ek moes vir hulle sê hy het pas die motor gekaap.

“En toe sien ek hom oor die sitplek lê. Daar het so baie bloed by sy kop uitgekom.

“Hy was vasgekeer by die vulstasie nadat die ander ouens van die toneel gevlug het. Daar was ware vrees in sy oë.

“Hy het nie soos ’n beroepskaper gelyk nie. Hy was bang en het net probeer uitkom. Om die vrees in sy oë te sien en ’n minuut later staan ek oor sy lyk . . . dit was iets anders.”

Dit was toe dat hy die kamera afskakel en vir die ander omstanders probeer verduidelik wat aangaan. Hy het ook met die sekuriteitsbeampte gepraat wat die verdagte geskiet het.

“Ek het hom vir sy vinnige reaksie bedank. Mense sê hy het iemand vermoor, maar hy het hom ook in gevaar gestel om te verseker dat almal om hom veilig was.

“Een van daardie koeëls kon my getref het, maar dit het nie, want hy was bereid om sy eie lewe op die spel te plaas.”

Volgens kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, was die man en nog twee na bewering betrokke by 'n rooftog in 'n huis in Montgomery Park. Hy het aan News24 gesê hulle het 'n vrou by haar huis se hek van talle items, waaronder haar juweliersware, beroof en op die vlug geslaan.

'n Veiligheidswag verbonde aan 'n veiligheidsmaatskappy het gesien wat aangaan en die drietal agternagesit tot waar hulle met die bakkie gebots het.

"Die vermeende rower het skote op die veiligheidswag afgevuur, en hy het in reaksie teruggeskiet."

Minstens een van die skote het hom getref waarna hy beheer oor die motor verloor en teen 'n boom gebots het. Die man, wat bruin handskoene aangehad het, het agter die stuur van die motor gesterf. 

Kol. Kweza sê 'n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om te bepaal wat sy dood veroorsaak het.