Die ooievaar, of die “geveerde besoeker” soos Affies in ’n Facebook-plasing daarna verwys, het in ongewone styl vanjaar nie net ’n enkele draai by dié skool kom maak nie, maar sommer geskiedenis gemaak toe vyf nuwe pienkvoete tussen Maart en Julie gebore is.

Schalk Wessels, ’n Engels- en lewensoriëntering-onderwyser by Affies, vertel Dinsdag aan Huisgenoot die manne het boonop heel toevallig van mekaar se nuwelinge te hore gekom.

Schalk en Ferdi Redelinghuys, ’n biologie- en lewensoriëntering-onderwyser, werk in dieselfde departement by die skool en was op ’n dag vroeër vanjaar tydens ’n pouse aan’t gesels toe Ferdi aan Schalk vertel sy vrou verwag hul eersteling.

“Hy het nog vertel dat sy vrou onlangs vir ’n skandering gegaan het omdat hulle binnekort hul eerste kind in die wêreld gaan verwelkom,” vertel Schalk.

“Toe sê ek: Maar ons verwag ook ’n kind! Dit was heel toevallig.”

Schalk se dogtertjie, Carmi, het eerste haar opwagting gemaak. Sy is einde Maart gebore. Daarna is Ferdi se dogtertjie, Jua, en Corstiaan Vermaak, ’n wiskundeonderwyser, se dogtertjie, Nienke, in April gebore.

Gerrit Jacobs, ’n wetenskaponderwyser aan die skool, se seuntjie, Daniël, is in Junie gebore en Fanie van Wyk, wat deel is van die administratiewe span van die skool en die IT behartig, se dogtertjie, Abby, het in Junie haar opwagting gemaak.

Schalk en Corstiaan het albei vir die tweede keer ouers geword.

“Ons spot nogal so ewe en vertel Gerrit se seuntjie het die patroon gebreek. As dit nie was dat hy ’n seuntjie gehad het nie, het ons tussen ons vyf dogtertjies binne net drie maande in die wêreld verwelkom,” terg hy.

“Maar Gerrit is baie trots op sy klein Daniël. Sy borskas het omtrent sy knope getoets.”

Schalk sê hy reken die skool was baie verlig dat al vyf mans nie gelyktydig met vaderskapsverlof was nie. “Gelukkig het sommige van ons se babatjies in die skoolvakansie gekom, en ook drie weke uitmekaar, anders moes ons almal dalk gelyktydig tuis gaan doeke omruil het,” terg hy.

Hy sê die mans het skoon van vinnige motors en sportbyeenkomste vergeet en dié onderwerpe vir raad oor hul kleingoed verruil.

“Buiten dat ons nie oor ons kinders uitgepraat kon raak nie, het ons ook raad met mekaar gedeel, soos toe drie van die babas met refluks gesukkel het. Dit was vir ons lekker om pa te speel en te vergeet van die ander dinge wat ons altyd besig hou.”

Sosialemediagebruikers het behoorlik gekoer oor ’n foto van dié groep mans, elkeen met ’n baba in hul arms, op die Affies-skoolterrein wat op die skool se amptelike Facebook-blad gedeel is.

“Ek weet sommer hulle gaan eendag Affies toe gaan,” het Elsabé Combrink laat hoor. 

“Dalk sal die kleingoed nog eendag in hul pappa se beroepspore volg,” het Sake Klaus geskryf.

En die onderwysers se reaksie? Schalk lag. “Natuurlik. Eendag, ver van nou, gaan hulle saam skool aan Affies.”