Sithenkosi speel kitaar.
Sithenkosi speel kitaar. Foto: Verskaf

Vir Sithenkosi Mbuli is die prestasies van die afgelope jaar bittersoet omdat sy pa, Vuyo Mbuli, nie daar is om dit te sien nie.

Vuyo, die geliefde voormalige Morning Live-aanbieder, is in 2013 op die ouderdom van 46 skielik aan 'n longembolisme dood. Sy seun, Sithenkosi, probeer steeds om sy pa se dood te verwerk.

“Ek dink dit is die musiek waarop hy trots sou wees, maar dit sou natuurlik wonderlik wees om te hoor presies wat hy daarvan dink,” sê Sithe (21) terwyl hy na ’n skildery van sy pa teen sy slaapkamermuur kyk.

“Hy is so ’n groot deel van die rede waarom ek vandag ’n musikant is, en sy liefde vir musiek het beslis in my oorgespoel.”

Die bedrywige man, wat op ’n haar soos die uitsaailegende lyk, probeer ’n stuk van sy pa in elke aspek van sy lewe inwerk. Dit is dus geen verrassing dat hy sy pa se tweede naam in sy verhoognaam, Rudy Chalmers, verwerk het nie.

“Ek wou nie hê dat my naam verkeerd uitgespreek en verwoes word nie, en daarom het ek besluit dat ek net 'n verhoognaam wil gebruik,” verduidelik Sithe.

“Rudy is net ’n kort naam wat ek geniet. Chalmers is my pa se tweede naam, so ek het die twee saamgevoeg,” sê hy.

Sithenkosi, sy ma Savita en suster Siposihle op Ke
Sithenkosi, sy ma, Savita, en suster, Siposihle, op Kersdag. Foto: Verskaf.

Sithe het ook een van die snitte op sy debuutalbum, Fears & Fantasies, aan sy pa opgedra. In “Miss You”, sing hy oor hoe sy pa se gees in hom voortleef en hom op die een of ander manier steeds lei. Dit is sy ma, Savita (48), en ouer suster, Siposihle (23), se gunstelingsnit, sê hy.

“Ek het hul volle ondersteuning, en dit is nog ’n ding wat my nogal baie gelukkig maak. Hulle glo honderd persent in my en die musiek wat ek gemaak het.”

Hy onthou nog duidelik hoe die dinge was toe sy pa geleef het. Sithe, wat vir ’n BA in politiek en filosofie aan die Universiteit van Kaapstad studeer, sê hy en sy pa het dikwels saam opwindende dinge gedoen.

“Hy sou die dissiplinering meestal aan my ma oorlaat en daar wees wanneer ons grappe maak, Fifa speel en sport kyk. En hy het altyd op die kantlyn geskree en gesê dat ek die sokkerbal moet jaag.

“Hy het my altyd probeer laat lees – hy was ’n ywerige leser – maar dit is een ding waaroor ek nie te entoesiasties was nie,” sê hy giggelend.

Sithe sê Vuyo het baie vir hom en sy suster omgegee.

Sithenkosi en Pa Vuyo.
Sithenkosi en pa Vuyo. Foto: Verskaf

“In my vroeë skooldae het ek ernstige skeidingsangs gehad. Wanneer ek skool toe gegaan het, was ek regtig bang dat ek nie ná skool gehaal sal word nie.

“Hy het dus ook met pouse na my skool gekom, net sodat ek hom kon sien, al was hy ver. Op hierdie manier sou ek weet dat hy nog daar was,” sê hy.

Sithe, wat pendel tussen Johannesburg en Kaapstad vir sy musiekloopbaan, sê hy onthou sy laaste paar oomblikke saam met sy pa. Hulle het ’n Superrugby-wedstryd tussen die Queensland Reds en die Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein bygewoon.

“Ek was ’n groot aanhanger van Quade Cooper wat vir die Reds gespeel het,” sê Sithenkosi. Ons was in die losie in die stadion en het dus pakke aangehad. My pa was baie opgewonde.

Toe die rustydfluitjie blaas, het die destydse 13-jarige Sithenkosi die Australiese speler met Vuyo bespreek, sonder om te weet dat dit die laaste gesprek sou wees wat hulle ooit sou gehad het.

“Ons het oor kos gepraat. Hy het ’n bietjie siek en grieperig gevoel en gesê dat hy die sop geniet omdat dit sy bors warm maak. Ons het ook gepraat oor Quade Cooper en die feit dat die Cheetahs deur Quade Cooper uitoorlê word.” 

Sitenkosi.
Sitenkosi. Foto: Verskaf.

Hy het die losie binnegegaan en gesê hy voel ’n bietjie uitasem en dat hy binnekort sou terugkeer. Dit was die laaste gesprek wat ek met hom gehad het,” onthou hy.

Kort daarna het die Morning Live-aanbieder, wat bekend was vir die frase “Sharp Sharp”, binne die losie in mekaar gestort. Hy is ’n paar uur later in Bloemfontein MediClinic dood verklaar.

Nou, agt jaar later, raak Sithe en sy gesin gewoond aan die lewe sonder hul rots. “Tyd maak gesond,” sê hy. “Ons het almal op verskillende maniere sy dood begin verwerk.

“Ons het sy lig ervaar en ons weet hoe helder dit was, so ons probeer om daardie lig uit te leef en te deel met ander.

“My suster is byvoorbeeld besig met haar tweede graad, haar LLB (Baccalaureus in die regte). My pa het ook regte studeer, so sy is baie trots op die feit dat sy ’n LLB vir my pa na die gesin kan terugbring.’

Sy liefde vir musiek kom van sy familie, sê Sithe.

Hy onthou die Suid-Afrikaanse wysies wat te danke aan sy ouers deur hul huis weergalm het. "Ek dink as jy grootgeword het saam met musiekliefhebbers, sal jy ook daardie waardering ontwikkel.”

Sithe het besluit om in graad 9 ’n loopbaan in musiek te volg nadat sy vriende hom aangemoedig en geprys het toe hy sy lirieke vir hulle gewys het.

“Ek het net besluit om liedjies op SoundCloud uit te bring. Dit is toe dat ek my musiek ernstig begin opneem het. Dit is ook toe dat ek die moontlikhede begin insien en daaroor begin droom het,” sê Sithe, wat ook kitaar speel.

Hy het sy debuutalbum in 2019 begin skep. “Ek het stadig begin skryf en probeer om my stem weer deur die hele 2019 te vind, en toe ek aan die einde van die jaar kom, skryf ek die eerste liedjie vanaf my debuutalbum.”

Dit is in hierdie tyd wat hy sy huidige meisie, Georgia Hayman (21), ’n student en bakker, ontmoet het.

“Ek het die album binne drie weke opgeneem,” vertel hy oor sy debuutalbum wat uit tien liedjies bestaan.

Sithe is vasbeslote om die musiekwêreld baas te raak, maar wil ook in teater naam maak. “Sodra inperkings opgehef word, sal ek probeer om ’n gereelde aanhang te kry, optredes te hou en veral aan my opvoeringsvaardighede te werk.

“Nadat ek my voete in die musiekwêreld kon vestig, wil ek ook ander aspekte van die vermaakbedryf ondersoek; dalk teater, skryfwerk of kreatiewe regiewerk doen, of selfs ’n draaiboek skryf,” sê hy.

Sithe hoop om ’n lewe te lei waarop sy pa trots sou wees. “Ek is van plan om sy nalatenskap voort te sit deur my lewe te probeer leef soos ek hom gesien het; net deur alles met passie, eerlikheid en liefde te doen.

“Ek wil probeer om net lief te bly vir wat ek doen, want dit is soos hy was.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.