Die dae sleep eindeloos verby terwyl jy van die buitewêreld afgesny is. Skielik verlang jy intens na die mense en al die dinge wat voorheen so vanselfsprekend was. Die versugting om te kan doen wat jy wil en te gaan waar jy wil, was nog nooit so allesverterend nie.

Die lang dae word weke. Jy doen alles wat jy kan om besig en positief te bly, maar soms wil jy gek word. Hoekom moet dit met jóú gebeur? Wanneer gaan dit eindig? Sal jou lewe ooit weer dieselfde wees? Dan is daar die vrees dat net een misstap jou lewe kan kos.

Klink dit soos jy?

As daar één mens is wat weet watter warboel van emosies baie Suid-Afrikaners in hierdie onseker inperkingstyd beleef, is dit Monique Strydom, wat twee dekades gelede saam met haar eksman, Callie, ’n tropiese hel as gyselaars van ’n terreurgoep deurgemaak het.

Die fisieke bedreiging was wel anders. Vir Callie en Monique was die gesig van die dreigende dood Aboe Sajaf-militante gewapen met gewere en kapmesse. Vandag is ons as’t ware gyselaars uit vrees vir die onsigbare sluipmoordenaar bekend as COVID-19.

Maar toe pres. Cyril Ramaphosa op 9 April aankondig die aanvanklike inperking van 21 dae word tot 30 April verleng, was dit vir Monique asof sy uit die veiligheid van haar Kaapse woning geruk word – terug na die angs en on­sekerheid van haar destydse gevangen­skap op die eiland Jolo in die Filippyne.

Callie en Monique speel kaart saam met een van hul
Callie en Monique speel kaart saam met een van hul mede-­gyselaars, die Frans-Libanees Marie Moarbes, met wie sy vandag nog baie goed bevriend is.

Weens die inperking gesels ons op WhatsApp met ’n video-oproep. Mo­nique (56) is ’n gesig op ’n skerm – net soos toe die wêreld haar en Callie des­tyds leer ken het danksy videomateriaal.  

Vandag lyk sy ontspanne, ’n rooi serp om haar donker krulhare. Baie anders as die videobeelde op Jolo, waar sy en Callie tydens hul aanhoudingstyd sigbaar maer­der geword en soms net kop onderstebo in die verslete klere gesit het waarin hulle op Sondag 23 April 2000 ontvoer is. Dit het tydens ’n duikvakansie op die Maleisiese eiland Sipadan gebeur.

“In ’n sekere sin was dit (hul gyselaar­skap) tog dieselfde. Daar is nou weer ’n bedreiging teen ’n mens se lewe; die intensiteit is net anders,” sê Monique.

“Daar in die oerwoud moes ons met tye vir ons lewe hardloop; daar is op jou geskiet, en die rebelle het gedreig hulle gaan ons onthoof. Jy het niks; jy het nie kos of water nie, net die klere aan jou lyf. Toe en nou is vir my twee extremes. Maar die trauma is ewe werklik.”

Danksy bemiddeling deur die ontslape Libiese diktator Moeammar Ghaddafi het die Strydom-egpaar se eilandhel oplaas ná 127 dae geëindig.

Maar in 2016 was daar ’n nuwe hartseer vir Monique. Sy en Callie is ná hul huwelik van 30 jaar uitmekaar.

Vir die aanvanklike inperkingstyd was hul seun, Luc (18) – met wie sy kort ná hul vrylating swanger geraak het – by haar.

Vir die verlenging is hy na Callie toe. Monique deel nou haar huis met haar ouers, Henter (84) en Monica Aggenbag (83), en haar pleeghondjie, Lexi, die staffordshireterriër na wie sy tydens die inperking omsien.

Die egpaar was 30 jaar ge­troud voor hul eg­skeidi
Die egpaar was 30 jaar ge­troud voor hul eg­skeiding in 2016.

Monique, ’n motivering­spreker en stigter van Matla a Bana, ’n welsynorganisasie vir mishandelde kinders, vertel mense het al na haar uitgereik oor hul emosies in hierdie tyd.

“Mense sal die extremes miskien nie kan verstaan nie, maar ek verstaan. Ek weet hoe groot die aanpassing destyds vir ons was,” verduidelik sy.

“Ek het ’n vriendin met haar eie onderneming wat vir my sê: ‘Monique, ek het ’n week lank net gelê; ek het niks gedoen nie.’ Toe ek sê dis heeltemal oukei, toe sê sy: ‘Nee, Monique, dit is nie hoe ek is nie. Ek voel verlam.’

“En ek verstaan dit, want ewe skielik was daar hierdie shift; die mat is onder ons uitgeruk. Daar is nie ’n script nie. Net soos daar nie vir my en Callie was nie.”

Op Facebook het sy geskryf dit help nie om tydens ’n inperking vas te klou aan wanneer presies dit verby sal wees nie. Dit skep telkens teleurstelling as ’n mens dink dit gaan teen ’n spesifieke datum verby wees, veral as daardie datum dan kom en gaan en die uitdaging duur voort.

“Dit neem hoop en drome weg en soms die wil om te leef,” sê sy.

“Wat dit my geleer het, is dat jy soms net nie in beheer is nie. Dat jy nie verwagtings moet hê in ’n tyd van krisis nie, want sulke tye is nie normaal nie. Dat jy diep moet asemhaal en die lewe net moet toelaat om te gebeur. En dat jy moet vashou aan wie jy is en waarin jy glo. En dat jy moet weet dit is sterk genoeg om jou deur te dra.”

Hulle het destyds noodgedwonge daaraan gewoond geraak om net ’n bord rys met 19 ander te deel en reënwater te drink. Selfs aan die stank van urine in die hut.

Maar om positief te bly was soms die moeilikste.

Callie en Monique.
Callie en Monique.

“Ons probeer om nie met ons hart te glo nie, maar met ons verstand,” het Monique in aanhouding aan haar ouers geskryf.

“Mense verstaan nie hoekom hulle voel soos hulle voel nie. Alles in vandag se lewe is performance driven; ons het geen tyd om net tot stilstand te kom nie. En ek dink nou is ’n fantastiese tyd om dit te doen.

“Bring tyd saam met jou familie deur en fokus op die dinge wat vir jou belangrik is. Ons leef reeds in ’n samelewing waarin ons eintlik altyd in survival mode is.”

Sy glo Suid-Afrikaners sal danksy hul veerkragtigheid deur dié tyd kom.

“As ek dink aan toe ons destyds gevangenes was, het net ’n paar van ons reeds swaarkry verstaan. Die Europeërs het moeiliker as ons hul kos gedeel. Ons verstaan reeds hongersnood. Ons gemeenskappe en skole is gemobiliseer om te help.”

Haar egskeiding in 2016 het haar geruk.

“Ons was destyds 24 uur per dag saam, vier maande lank. Gestroop van alles. Vir ons huwelik daardie tyd was dit die beste ding. Maar ja, die lewe het daarna sy draaie gestap.

“Die lewe werk nie altyd soos ons wil hê dit moet nie. Daar het ons mekaar gehad, maar met ons egskeiding was die seermaak nie deur rebelle met gewere nie; hierdie seermaak was deur iemand vir wie jy baie lief was.”

Monique glo haar sterk steunnetwerk sal haar, net soos altyd in haar lewe, ook deur hierdie ontbering kry.

“Dit maak die verskil in hoe ’n mens deur ’n ding kom. Die wete jy staan nie alleen nie. Selfs toe ek geskei is, het die Here die regte mense op my pad gesit.”

Nou wil sy daardie ondersteuning aan ander gee. Sy moedig mense aan om uit te reik na mekaar, al is dit net telefonies.

Monique is ’n motivering­spreker en bedryf ’n wels
Monique is ’n motivering­spreker en bedryf ’n welsynorganisasie vir slagoffers van kindermishandeling, Matla a Bana.

“Ons moet na die groter prentjie kyk. Daar in die oerwoud kon ek net op my eie innerlike krag steun. Wie ek was, wie ek ken en waar ek gebly het, het nie meer saak gemaak nie.

“Daar was nie wêreldgoed om aan vas te hou nie; ons was daarvan gestroop. Die enigste twee plekke waarin daar vir my sekuriteit was, was watter soort mens ek is en in wie ek glo.”

Nog iets wat Monique kan deel, is dat die uitdagings nie dadelik sal eindig met die opheffing van die inperking nie.

“Ek en Callie het destyds nie geweet waarna ons sou terugkeer nie. Ons het min of meer geweet ons gaan terug na ons werk, ons huis, maar baie ander dinge het verander. Skielik het almal geweet wie ons is. Ons het verskriklik gesukkel om te fokus,” verduidelik sy.

“Ek het nou vir my sussie Veronica (Muller) gesê ’n mens moet jou kinders in ’n roetine kry, om huiswerk te doen en te oefen. Die vakansie is verby.

“Later, wanneer hulle terug skool toe gaan, sal dit makliker wees om aan te pas. Ons moet dink aan wat ons vir ons kinders sê. Wil ons hê ons kinders moet be­vrees of bemagtig hieruit stap?”

Wanneer die virus se greep verslap, wil Monique alleen na Sipadan terugkeer. Sy wil by die eiland se bekende Barracuda Point duik, wat sy en Callie nie kon doen voor hulle as gyselaars aangehou is nie.  

“Ons skryf nou elkeen ons eie draai­boek. Ek het ná alles vir myself belowe ek gaan nooit ophou reis nie. Ek het gesê die vyand gaan nie my passie by my wegvat nie; jy moet terugvat wat van jou gesteel is.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.