Ondanks die vroeë sluiting van skole, ’n verbod op groot byeenkomste en verskeie ander maatreëls vir sosiale afsondering voorspel deskundiges dat baie meer mense waarskynlik die siekte sal opdoen, wat tot dusver byna 8 000 mense wêreldwyd doodgemaak het.

Terwyl Suid-Afrikaners hulle afsonder en bekommerd is dat hulle COVID-19 sal opdoen, het verskeie oorlewendes na vore gekom om te beskryf hoe dit regtig is om besmet te wees met die gevreesde virus. 

Dr. Clare Gerada, ’n 60-jarige huisdokter van die suide van Londen, het pas teruggekeer van ’n besoek aan New York en het aanvanklik gedink sy was bloot vlugvoos.

Toe ervaar sy ná twee dae tuis haar eerste simptome, het sy aan Mail Online vertel.

“Ek was taamlik moeg, maar dit het begin met ’n droë hoes. Maar dit was aanvanklik so gering dat ek skaars twee keer daaraan gedink het en ek dit het toegeskryf aan die ‘kajuithoes’ wat ’n mens soms ná ’n lang vlug kry.

“Maar kort daarna het ek vinnig ’n vreeslike keelseer ontwikkel. Ek weet sommige mense sê dat jy nie altyd ’n seer keel met corona kry nie, maar ek het – dit het gevoel asof iemand messe in my keel gesit het.

“En toe tref die hoë koors my. Ek was koorsig en het gebewe.”

Dit was toe dat Clare begin wonder het: Kan dit COVID-19 wees?

“Ek dink ek het dadelik geweet dis dit – maar vreemd genoeg, was ek nie bang nie omdat ek geen onderliggende gesondheidsprobleme het nie. Ek’s fiks en stap baie.”

Hospitaalpersonaal het geweier om haar te toets

Sy het na ’n COVID-19-toetseenheid by ’n plaaslike hospitaal gegaan en is getoets. Personeel het aanvanklik geweier omdat dit nie as nodig geag is om iemand te toets wat van Amerika af gereis het nie.

Maar ten spyte van die personeel se twyfel was Clare oortuig daarvan dat dit nie ’n gewone verkoue was nie.

“Binne enkele ure nadat ek my eerste simptome ervaar het, kon ek nie eet nie. Ek het twee dae niks geëet nie omdat ek nie ’n eetlus gehad het nie, en het ook ’n aaklige metaalsmaak in my mond gehad wat kos onsmaaklik gemaak het. Om te eet het soos te veel moeite gevoel.

“My neus was vol sere en ek dink die agterkant van my mond ook.”

Op Vrydag 13 Maart het die hospitaal gebel met Clare se toetsuitslae: Dit was die coronavirussiekte, maar op daardie stadium het haar toestand reeds begin verbeter.

“My koors het afgekom, die hoes was weg en ek het nie meer parasetamol benodig nie. Ek kon ook weer eet, hoewel ek nie baie kon eet nie. Teen Sondag – ’n week ná my terugkeer uit New York – het ek bredies en sop geëet wat die bure vir my gebring het.”

Hoewel sy sê dis ’n “wrede siekte met ’n hoër sterftesyfer as gewone griep” het sy bygevoeg sy het ook gehoor van mense wat geringe simptome ervaar en nie eens besef het hulle het die siekte nie.

“Die meeste mense wat die virus opdoen, sal die stryd daarteen wen. Die mense wat sterwend is, is dié met onderliggende gesondheidstoestande waar die asemhalingsprobleme te veel raak.

“Ek het al gehoor mense sê dit bied nie veel troos vir mense met onderliggende siektes nie. Maar die ligpunt is dat dit beteken die meeste van ons kan wegbly van die hospitale en die beddens oop los vir dié wat werklik siek is.”

'Moet asseblief nie paniekbevange raak nie'

Elizabeth Schneider, ’n bemarkingsbestuurder van Seattle in Amerika, het die coronavirussiekte gehad en een les daaruit geleer: Moenie paniekbevange raak nie.

Elizabeth (37) het aan CNN gesê sy glo sy het die virus by ’n huispartyjie opgedoen, want ’n paar dae later was verskeie van haar vriende wat by dieselfde partytjie was, saam met haar siek. Drie dae ná die partytjie op 22 Februarie was sy by die werk toe sy siek begin voel.

“Ek was moeg, my lyf was seer, ek het hoofpyn gehad en ’n bietjie koorsig gevoel,” vertel sy. Sy het besluit om huis toe te gaan.

Toe sy wakker word ná ’n slapie, was haar koors 38° C en “teen slapenstyd het dit gestyg tot 39° C”.

Dit het nie by haar opgekom dat dit die coronavirussiekte kan wees nie omdat die simptome nie gestrook het met wat sy daaroor gelees het nie. Sy het nie ’n hoes gehad nie, was nie kortasem nie en het nie asemhalingsprobleme ervaar nie.

Sy het dit eers besef toe sy uitvind sowat ’n dosyn van haar vriende wat by dieselfde partytjie was, het op “presies dieselfde dag, rondom dieselfde tyd in die aand, met soortgelyke simptome” siek geword.

“Die simptome blyk te verskil na gelang van jou gesondheid en/of ouderdom,” het sy op Facebook geskryf.

“Die meeste van my vriende wat dit opgedoen het, was in hul laat 40’s tot vroeë 50’s. Ek is in my middel-30’s. Vir ons was dit ’n hoofpyn, koors, seer lyf en gewrigspyn en kwaai moegheid. Sommige het diarree gehad. Ek was ’n dag lank naar.

“Net ’n paar van ons het ’n ligte krapperige hoes gehad. Min het ’n toegetrekte bors of ander asemhalingsprobleme gehad,” het sy gesê en bygevoeg dat die simptome vir hulle almal tussen 10 en 16 dae geduur het.

Sy het gesê sonder die tipiese simptome of ’n hoes of asemhalingsprobleme is talle van hulle toetsing geweier.

Die Seattle-gebied is die episentrum van die coronavirus-uitbreking in Amerika. Uit die 4 740 aangemelde gevalle in die land sedert COVID-19 in Januarie die eerste keer daar kop uitgesteek het, was 904 daarvan in die deelstaat Washington, onder wie 48 gesterf het.

Tog is sy en haar vriende nie vir die coronavirus getoets nie, het sy gesê.

Een lid van die groep het afgekom op ’n aanlyn navorsingsprojek wat hulle in staat gestel het om nasale monsters vir toetsing te stuur. Al hul resultate was positief vir die coronavirus.

Elizabeth het herstel terwyl sy tuis gebly, gerus en nievoorskrifmedisyne gebruik het.

“Ek dink die groot les hier wat ek met almal wil deel, is: Moet asseblief nie paniekbevange raak nie,” het sy gesê.

“As jy gesond en jonger is, glo ek jy sal herstel as jy goed omsien na jouself terwyl jy siek is. En ek is lewende bewys daarvan.”

'Behou ’n positiewe houding'

’n Verpleegster in Wuha, China, waar die virus ontstaan het, hou vol as sy COVID-19 kon klop, kan enigeen dit doen.

Jia Na (24), wat by die Universiteit van Wuhan se hospitaal werk, het glo die siekte binne 11 dae geklop en boonop meer as 1,7 miljoen volgers bygekry op Weibo, ’n Chinese mikroblog-webtuiste.

Sy het tuis teen die virus baklei en haar ervaring in ’n reeks Weibo-inskrywings gedeel, waarvan die gewildstes meer as 300 000 regmerkies gekry het.

 Dit het alles op 23 Januarie begin toe haar ledemate swak begin voel het. 

“Ek het gedink dis omdat ek nie beskermende drag gedra het nie. Maar my kollega het gesê ons moet ’n rekenaartomografie- (CT-) skandering doen,” het sy aan die China Global TV Network vertel. 

Tot haar verbasing het die skandering letsels in haar longe gewys, wat daarop gedui het dat sy virale longontsteking opgedoen het, en die amptelike positiewe uitslae vir die coronavirus het ’n dag later gekom, berig Asia One.

 “Ek kon daardie nag nie slaap nie. Ek het heeltyd gedink aan hoe ek besmet kon geraak het,” vertel sy. “Ek het altyd geglo in my immuniteit. Ek was kwaai depressief en het in my verbeelding myself sien sterf. Ek was so bang.”

Dinge het verbeter nadat Jia by haar dokter aangeklop het, wat haar verseker het haar toestand is nie ernstig nie en vir haar die keuse gegee het om tuis te herstel eerder as in die hospitaal opgeneem te word. 

“Daar was niemand anders by die huis nie en hospitaalbeddens was beperk. Ek wou die beddens spaar vir dié wat dit nodiger het.”

Sy het haar immuunstelsel ’n hupstoot gegee met behoorlike voeding, haar etes op tyd geëet en genoeg rus gekry.

“Jy moet voedsame, gesonde kos eet,” sê Jia. “Ek het hoendersop, vissop, varkribsop, koeskoes en ryspoeding gemaak.”

Jia het haar tafels met ontsmettingsmiddel skoongevee en haar kombers en klere gewas met produkte wat 75% alkohol bevat om te versker haar huis is virusvry.

“Ek het elke aand ’n warm bad geneem om die kieme en virusse op my lyf dood te maak. Was jou hande gereeld met seep. Dis belangrik.”

Behalwe vir sanitasie is behoorlike ventilasie ook belangrik. Sy maak haar vensters af en toe oop om vars lug in te laat.

Jia sê sy het slegs algemene griepmedisyne gebruik, sowel as tradisionele Chinese middels teen verkoue en griep.

Sy het egter bygevoeg dis bloot wat vir haar gewerk het, en ander aangemoedig om hul dokter te raadpleeg voor hulle medikasie neem.

Jia waarsku teen blinde paniek en sê mense moet eerder daarop fokus “om die hart te kalmeer en ’n rasionale en positiewe houding te behou”.

En haar pogings het vrugte afgewerp, want teen 28 Januarie het ’n CT-skandering getoon haar longe is weer normaal, hoewel toetse steeds die teenwoordigheid van die coronavirus in haar liggaam aangedui het.

Sy het eindelik ses dae later gehoor sy is gesond toe haar toets negatief teruggekom het.

“My immuunstelsel is basies soos almal s’n. As ek hierdeur kan gaan en gesond word, glo ek almal se immuunstelsel kan die virus klop.”

Bronne: News24, Daily Maverick, Daily Mail, CNN, Facebook, Weibo, Asia One