Om ’n chirurg te wees beteken jy het die mag om nuwe lewe in iemand te blaas – maar as dinge skeefloop, kan jy ’n uiters pynlike en traumatiese dood veroorsaak.

Toe ek destyds ’n mediese student in my derdejaar was, het ek ’n loopbaan in die snykunde begin oorweeg. Ek kan nie sê enige aardskuddende open­baring het my daarop laat besluit nie.

Ek het gehou van die intensiteit, die idee dat jy baie hard moes oefen, maar ook dat jy eindelik ’n werklik besonderse vaardigheid sou hê om mense te kan oopmaak en dinge reg te maak.

Ek het gedink snykunde is dapper.

Vir my het dit soos ’n roeping gevoel – al is dit een wat uiterse toewyding en ’n oorweldigende verantwoordelikheid behels: om iemand se lewe in jou hande te neem en verantwoordelikheid te aanvaar vir wat volgende gebeur. Dit het bedwelmend, amper goddelik, gevoel.

Nou, meer as twee dekades ná mediese skool, voel ek nog dieselfde.

Die Amerikaanse chirurg Joshua Mezrich het al baie lewens gered, maar hy moes ook al baiekeer toekyk hoe pasiënte op sy operasietafel sterf. Foto: John Maniaci
Die Amerikaanse chirurg Joshua Mezrich het al baie lewens gered, maar hy moes ook al baiekeer toekyk hoe pasiënte op sy operasietafel sterf. Foto: John Maniaci

Ek het duisende, nee, miljoene besluite – party groot, party klein, party reg, party verkeerd – oor pasiënte geneem, en feitlik almal het die een of ander uitwerking gehad.

Die meeste van daardie besluite was reg, maar talle was verkeerd. Die meeste van my pasiënte het goed gevaar, en tog kan ek byna elkeen wat nié het nie nog helder onthou.

Ek kan onthou hoe hulle gelyk het toe hulle gely of gesterf het, die desperate hartseer van hul families.

Komplikasies is soos ’n swaar las op jou skouers en suig die vreugde uit jou lewe.

Al moet ons chirurge ons tydens operasies sterk hou, moet ons ook uitpluis hoe om komplikasies te hanteer. Om dit medies te bestuur is die maklike deel. Die uitdaging is hoe om dit emosioneel te hanteer.

Komplikasies is soos ’n swaar las op jou skouers en suig die vreugde uit jou lewe. Om alles te vererger moet ons daagliks pasiënte besoek wat swaarkry weens die foute wat ons gemaak het. Talle van hulle leef in wanhoop, kan nie eet nie.

Ek sal nooit die keer vergeet toe een van my mentors, ’n wêreldberoemde bors­chirurg, tydens my kliniese opleidingsperiode ’n string komplikasies gehad het met verskeie esofagektomies (’n operasie om ’n deel van jou slukderm te verwyder en dit dan met weefsel van ’n ander orgaan te herbou).

Hy het letterlik al duisende daarvan uitgevoer, maar om die een of ander rede het drie in ’n ry gelek.

Dit het hom verplig om die slukderms te verdeel en “spuitgate” in die nek (bekend as spoegfistels) te skep. Ek onthou nog hy het na my gedraai en gesê: “Ek maak f***** monsters.”

Komplikasies

Party komplikasies bly jou dag en nag by – soos die pankreatiese lekkasie ná ’n nieroorplanting. Ek weet tot vandag toe nie hoe dit gebeur het nie. Wat ook al die rede, die pasiënt het ’n paar dae ná die operasie vloeistof in sy buik ontwikkel.

Ek het alles probeer om die lekkasie te stop – van medikasie gee, ’n stent in die pankreas plaas tot om dele daarvan weg te sny – maar niks het gewerk nie. Ek het hierdie pasiënt maande lank elke dag gesien. Ek het hom gesien toe dit lyk of dit beter gaan, en ook toe hy duidelik ál meer agteruitgaan.

Teen die einde het hy gefrustreerd geraak met my, en ek met hom. Ek kan duidelik onthou toe hy baie siek was, het ek gehoop hy sou net sterf. Dit voel nie goed om dit te erken nie. Op die ou end is hy toe dood.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek voel aaklig dat dit gebeur het en ek voel verantwoordelik, al kan ek my nie indink hoe ek dit veroorsaak het nie.

Ek was net magteloos om hom gesond te maak, en die dood het vir ons albei verligting gebring.

Sommige komplikasies is suiwer weens denkfoute. Die skrywer Malcolm Gladwell het eenmaal ’n artikel vir The New Yorker oor ’n meesterlike neurochirurg geskryf, getiteld “The Physical Genius”.

“Charlie Wilson vertel hoe hy soggens gaan draf en dan die dag se operasies in sy kop nagaan – hy visualiseer vooraf die hele operasie en elke moontlike uitkoms. ‘Dit is ’n skynrepetisie,’ sê hy, ‘sodat wanneer ek werklik die operasie uitvoer dit is asof ek dit die tweede keer doen.’ ”

Ná ’n groot voorval kan ek nie slaap nie, want ek kan nie my kop keer om die stappe van die operasie na te gaan nie, asof ’n video al die bewegings vir my terugspeel.

Ek sit ook dikwels in my kantoor of by die skropbak en “doen” die operasie in my kop. Ek dink oor die bewegings, hoe dinge gaan lyk en watter probleme ons dalk kan teëkom.

Voor ek ’n laparoskopie (sleutelgat­operasie) doen, bekyk ek die CT-skanderings sorgvuldig, ek stel my die anatomie in 3D voor en sien hoe al die strukture gaan lyk en die verband tussen hulle. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker raak dit.

Ná ’n groot voorval kan ek nie slaap nie, want ek kan nie my kop keer om die stappe van die operasie na te gaan nie, asof ’n video al die bewegings vir my terugspeel. Ek kan onthou waarmee ek goed gevaar het en wat ek dalk beter kon doen, en dit help wanneer ek aan die volgende geval dink.

‘M-en-M’

Nog iets wat ons almal in die oor­plantingsveld help om komplikasies te hanteer is die “M-en-M”, oftewel die “morbiditeit-en-mortaliteitskonferensie” – ’n vergadering waar die week se gevalle bespreek word.

Dit word hoofsaaklik gehou met die doel om te leer, te onderrig en die gehalte van pasiëntesorg te verbeter. Maar ek dink die meeste van ons ervaar dit ook terapeuties.

’n M-en-M word gewoonlik deur ’n senior chirurg bestuur, dikwels die voorsitter of hoof van ’n chirurgiese afdeling. ’n Mededokter skets die geval en ander ­chirurge onderbreek dié met vrae, ­opmerkings, aanbevelings en dikwels kritiek.

Gewoonlik gee die chirurg wat die operasie uitgevoer het in ’n stadium sy indrukke van die gebeure, wat skeef­geloop en wat anders gedoen kon geword het.

Daar is beslis gevalle waar ek dink ek het alles reg gedoen; waar ek op grond van die inligting wat ek gehad het dinge weer op dieselfde manier sou doen.

Keuses en ’n boks

Maar daar was talle ander waar ek wens ek het ander keuses gemaak, waar ek liewer nie moes geopereer het nie, waar ek hulp moes gevra het, waar ek ’n ander keuse oor die plasing van ’n nier moes gemaak het, oor hoe om ’n slagaar aan die lewer vas te werk of die ureter (die buis tussen die nier en die blaas) te hanteer.

Elk van hierdie besluite het waarskynlik lyding vir die pasiënt veroorsaak – dalk nog ’n operasie, ’n ander prosedure, meer tyd in die hospitaal, bloedoor­tappings, die verlies van ’n orgaan, selfs die dood.

Dis gewigtige sake – maar om met ander mense in jou vakgebied daaroor te praat help ongelooflik baie, al wys hulle jou op jou foute. Ons probeer almal beter vaar met ons volgende pasiënt.

Een brokkie raad waarvan ek nog altyd gehou het, is dat elke chirurg ’n metaforiese “boks” moet hê waarin hy al sy komplikasies plaas. Hy moet toegang tot daardie boks hê elke keer wanneer hy pasiënte met komplikasies en hul families sien, en ook wanneer hy ’n geval by ’n M-en-M-­konferensie voorlê.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Terselfdertyd moet ’n chirurg daardie boks kan toemaak en wegsit wanneer hy huis toe gaan na sy gesin toe.

Diegene wat nie toegang tot die boks behou nie, word onverskillig en verloor hul deernis. Aan die ander kant kan diegene sonder so ’n boks kop verloor en bly dink aan al die slegte dinge wat dalk gebeur het of wat hulle dalk veroorsaak het.

Sulke chirurge verlaat dikwels die mediese beroep of kom nooit werklik ná hul opleiding op dreef nie. Ander beperk hulself tot klein operasies en roep die hulp in van vennote as die geringste dingetjie skeef-loop.

Wat ook al die regte strategie is, ons chirurge moet ’n manier kry om met komplikasies saam te leef, daaruit te leer en pasiënte te help om dit te bowe te kom en met hul lewe aan te gaan.

Soms gebeur daar dinge tydens ’n operasie al het jy niks verkeerds gedoen nie. En hierdie gevalle toets jou soos niks anders in jou vakgebied nie.

Nieroorplanting

Ek onthou een winter, ’n paar jaar gelede, toe ek ’n nier op ’n jong vrou oor­geplant het. Sy het IgA-nefropatie gehad, ’n outoïmmuunsiekte wat gekenmerk word deur die opeenhoping van teen­liggaampies in die nier. Die lei tot inflammasie en eindelik nierversaking.

Sy was omtrent 19 jaar oud en ander­sins blakend gesond. Sy het ’n gesonde nier van ’n skenker ontvang wat dood is. Ek onthou dit was ’n regternier, want regterniere het kort nierare en is altyd ’n bietjie ingewikkelder as linkerniere.

Wanneer dit ná ’n skenker se dood verwyder word, is ’n deel van die vena cava (die aar wat bloed na die hart neem) gewoonlik aan die regteraar vas. Dan kan dit, indien nodig, verleng word. In hierdie geval het ek gereken dis onnodig omdat die ontvanger klein gebou was.

Ek het opgemerk die aar is nogal dun waar dit die nier binnegaan, maar dis altyd die geval met are by die regternier.

Ek het ’n bietjie vloeistof in die aar gegiet om dit te rek en het opgemerk dis waterdig. Daar was geen groot vertakkings om te heg nie, geen klein bloeiende bloedvaatjies nie.

Ek en Jake, ’n indrukwekkende intern, het teen negeuur die aand begin. Nadat ons die nier ingeplant het, het die bloedtoevoer daarheen pragtig herstel en dit het dadelik begin urine vervaardig.

Ek het daardie ongelooflike gevoel van bevrediging gehad. Al was dit byna middernag, was ons nie haastig nie en het vir haar ’n mooi plastiese wond­sluiting gegee met oplosbare steke.

Die vermiste foon en daardie oproep

Later, toe ek in my oprit intrek en die motorenjin afskakel, reik ek na my foon en ontdek dis nie daar nie. Ek het na my huis gekyk, in duisternis gehul, en my voorgestel hoe lekker my dogters daar binne slaap.

Dit was reeds halfeen die nag, maar terwyl ek uit die motor klim, het ek my bedink. Sê nou hulle kry my nodig en kan my nie kontak nie?

Ek het die motor weer aangeskakel vir die rit van vyf minute terug hospitaal toe. Daar is ek reguit na die aantrekkamer by die operasiesaal op die derde verdieping.

Toe ek instap, kon ek die dowwe klank hoor van my foon wat in my sluitkas lui. Ek het dit uitgehaal en gesien ek het 10 oproepe van Jake misgeloop.

O, hel.

Terwyl ek die teks-app oopgemaak het, het ek my naam oor die hospitaal se interkom gehoor. Ek is dringend na die operasiesaal ontbied. My hart het in my keel geklop.

Ek het na die agterkant van die kleedkamer gehardloop terwyl ek my gewone klere begin afpluk. Ek het hospitaalklere gegryp en vinnig begin aantrek, alles terwyl ek Jack terugbel. Hy het geantwoord en begin skree: “Sy bloei. Ek kon jou nie in die hande kry nie!”

Joshua vertel slegte dinge gebeur soms in die oper
Joshua vertel slegte dinge gebeur soms in die operasiesaal, al het die mediese personeel niks verkeerds gedoen nie; hierdie gevalle toets dokters soos niks anders in hul vakgebied nie. Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images



Ek het in die operasiesaal ingehardloop net toe Jake en die span Betadine oor haar ontblote maag gooi. Dit was so geswel dat sy swanger gelyk het. Ek het ook opgemerk die dele sonder Betadine lyk bleek, soos aan ’n kadawer.

Terwyl ons geskrop het, het Jake my vertel wat gebeur het. Kort nadat sy in die herstelkamer gekom het, het haar bloeddruk begin daal. Sy het verward geraak en haar maag het begin swel.

Dit was duidelik dat sy inwendig bloei. Ek kon nie besluit of ek op hom moes skree omdat hy op sy eie operasiesaal toe is en of ek hom ’n drukkie moes gee omdat hy die inisiatief geneem het nie.

Ek het Jake in die middel van sy sin onderbreek en die stappe met hom begin repeteer wat ons sou doen wanneer ons terug is in die saal.

Ek het my strome bloed voorgestel. Ek het vir hom gesê om te sorg dat hy oogbeskerming het. Toe bars ons deur die operasiesaal se deure en stap na die operasietafel waar die tegnikus vir ons jurke en handskoene aangetrek het.

Ons het ’n laken oor die pasiënt gegooi en toe deur haar pragtig toegewerkte wond gesny en deur die steke wat haar bindweefsel heg.

Hoorbare bloeding

’n Straal bloed het uitgeskiet en ons byna in die gesig getref. Ek het vir Jake gesê hy moet ’n suier gryp en toe die nier ’n bietjie opgetrek en ingeloer.

Bloed het uit die sykant van ’n aar gestroom. Ek kon dit sowaar hoor – hoorbare bloeding. Ek het geweet dis uit ’n hoofaar.

Ek het my vinger ingesteek en op ’n manier reg op die gat in die aar gedruk. Terwyl Jake ywerig gesuig het, kon ek daarin slaag om sagkens ’n paar allis-­klampe aan die kant van die nierare te plaas sonder om die hele aar te blokkeer.

Die sywand het uit hierdie dun, kort regteraar losgeruk. Ek is steeds nie seker waarom dit gebeur het nie, maar ons het die bloeding onder beheer gekry. En merkwaardig genoeg het die nier steeds pienk en vol bloed gelyk. Dit het nie meer urine gemaak nie, maar dit was toe die minste van ons probleme.

Terwyl die narkosespan haar probeer bybring het, het ek my opsies oorweeg. Ná heelwat oorweging het ek besluit dit sou oukei wees om die kant van die aar toe te werk. Nadat ons die steke ingesit en die klampe verwyder het, het ek ontspan.

Die nier was nog pienk en die aar was sag. Alles was oukei.

Terwyl ek die nier terug in haar buikholte laat sak het, het ek die narkotiseur gevra hoe dit gaan. Hulle het haar vinnig agt eenhede bloed gegee, waarskynlik haar hele bloedvolume.

Ek het in die vertrek rondgekyk. Bloederige sponse het oor ’n bloedbesmeerde vloer gestrooi gelê. Ek het na my skropbroek gekyk – ek kon sien en voel hoe die bloed onder my jurk aan my bene kleef.

Die volgende paar dae het ons hierdie jong vrou met valkoë dopgehou.

Sy het met ’n asemhalingsbuis uit die operasiesaal ­gekom en is na die waakeenheid gebring.

Haar nier het stadig begin inskop en eindelik weer lewe gekry.

’n Vies pasiënt en dankbaarheid

Toe sy wakker word, was sy vies omdat ek krammetjies ingesit het – ek het ná die tweede operasie nie gedink dis gepas om tyd af te staan aan ’n mooi wond­sluiting nie.

Haar herstel was baie moeiliker as wat sy verwag het, maar toe ek haar sowat ses weke later in my kliniek sien, was haar kleur beter as wat ek dit al ooit gesien het.

Sy het haar normale lewe hervat – as ’n stralende, pragtige jong vrou met ’n werkende nier.

Sy het my gevra hoe naby sy aan die dood was. Ek het vir haar gesê omtrent so naby as wat sy kon wees sonder om werklikwaar dood te wees.

Sy het my bedank en selfs vir my ’n drukkie gegee. Sy het vir my gesê sy blameer my nie vir die komplikasie nie. Sy het wonderlik gevoel en was opgewonde om sonder dialise te kon leef.

Sy het selfs haar hemp opgetrek om haar krammetjies te wys en gesê sy dra haar litteken soos ’n medalje.

Het ek iets daar verkeerd gedoen? Waarskynlik.

Het ek sedert daardie geval enige veranderings gemaak?

Wel, ek sorg dat ek stadiger te werk gaan met die voor­bereiding van die orgaan wat ingeplant moet word en ek maak seker alles is perfek voor ek met die inplanting begin.

Ek sal waarskynlik ook gouer besluit om die aar te verleng, want dan hoef ek nie so hard aan die nier te trek nie en kan ek steke insit tot by die dikker aar, verder weg van die nier. Ek kan dan ook beter sien wat ek doen.

Nog iets: Ek vergeet nooit, ooit weer my foon nie.

Dankie, Jake, dat jy my pasiënt se lewe gered het. As dinge net effens anders verloop het, kon sy gesterf het.

Ek sou verskriklik sleg gevoel het, en sy sou ’n hele lewe misgeloop het wat sy nou kan geniet – hopelik vir altyd vry van dialise.

'n Geredigeerde weergawe uit When death becomes li
'n Geredigeerde weergawe uit When death becomes life: Notes from a transplant surgeon deur Joshua D. Mezrich (Harper, 'n afdeling va Harpercollins, R195).
’n Geredigeerde uittreksel uit When Death Becomes Life: Notes from a Transplant Surgeon deur Joshua D. Mezrich (Harper, ’n afdeling van HarperCollins, R195). Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, JOHN MANIACI
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.