Die kinders, twee meisies en twee seuns tussen die ouderdom 11 en 15 jaar oud, was glo Sondagmiddag omstreeks 14:00 te voet op pad huis toe toe hulle in ’n reënstorm vasgevang en deur weerlig getref is.

Kapt. Namhla Mdleleni, plaaslike polisiewoordvoerder, sê twee van die seuns en een van die meisies is broer en suster.

Die drie kinders het vermoedelik die ander dogtertjie gaan haal om saam met hulle by hul ouerhuis te kuier.

“’n Storm het skielik uitgebreek waarna die groep kinders deur die weerlig getref is. Die twee meisies is noodlottig beseer,” sê Mdleleni. 

Volgens haar is die seuns in ’n kritieke toestand na ’n nabyliggende hospitaal geneem.

Mdleleni sê die ouers van die kinders was verpletterd oor die nuus oor hul kinders. 

“Jy kan jouself net indink hoe dit moet voel as jy die foon optel en die persoon aan die anderkant van die lyn sê vir jou jou kind is dood.

“Dis ’n tragiese voorval en die ouers is nog besig om die skok te verwerk,” sê sy.

’n Geregtelike doodsondersoek na die dood van die twee meisies is begin. 

Swaar reën en gepaardgaande storms het die afgelope naweek oor groot dele van die land uitgesak.

Queenstown, van waar die vier kinders is, het volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens deur die loop van Sondag in ’n 24 uur-siklus meer as 15 mm reën gehad.