Karin van Straaten (50) van Uitenhage in die Oos-Kaap word steeds in ’n plaaslike hospitaal behandel nadat sy verlede week saam met haar kleinkinders 'n gru-hondeaanval oorleef het.

Lammie sr. (55), Leonard se oupa, vertel Karin het haar eie lewe op die spel geplaas om die twee kleuters te red.

“Die seuns is ontslaan, maar Karin is steeds in die hospitaal. Sy gaan Donderdagoggend eers weer in teater toe om haar wonde skoon te maak. As die dokter dan tevrede is, sal sy hopelik kan huis toe kom,” het Lammie Maandagoggend aan Huisgenoot bevestig.

Karin was Dinsdag 2 Junie besig om wasgoed op te hang toe hul rottweiler eerste hul kleinkind, Leonard (3)  en toe ook sy boetie, Lambert (9) gryp.

Klein Lambert (links) en sy boetie, Leonard van St
Klein Lambert (links) en sy boetie, Leonard van Straaten. Foto: Facebook

“Karin het bo-op Leonard gaan lê . . . Sy het baklei tot sy nie meer kon nie. Sy het geweet as sy sou opgee, is dit verby . . .” het Lammie vertel kort voor Karin Vrydag in die plaaslike Cuyler-hospitaal aan haar regterarm geopereer moes word.

“As my buurman ook nie op daardie oomblik om sy huis gestap het en hul gille gehoor het nie, weet ek ook nie wat op daardie dag vir my sou wag nie.”

Die buurman moes die rottweiler te midde van die aanval doodskiet om hom te kry om Karin en die kinders te los.

Karin, Leonard en Lambert het dieselfde dag by die plaaslike Netcare Cuyler-hospitaal steke oor hul lyf heen vir die tientalle diep bytwonde ontvang. Daar is aanvanklik gevrees Leonard gaan moontlik sy linkeroog of -oor verloor.

Klein Leonard van Straaten. Foto: Facebook
Klein Leonard van Straaten. Foto: Facebook

“Ek kan vandag getuig van ’n ware God, wat jou hoor as jy roep vir hulp,” sê Lammie nog verslae oor die blye oomblik toe hulle hoor Leonard se oog is nie permanent beskadig nie.

Hy vertel sy skoondogter, Bianca (31), het die betrokke oggend die twee seuntjies naby hul huis by hul ouma afgelaai omdat sy dringende sake in die dorp moes afhandel. Sy wou nie die kinders alleen by die huis los nie.

“Die seuntjies het rustig televisie gekyk toe Karin sê hulle moet saamkom sodat sy buite die wasgoed kan ophang.”

Lammie vertel Karin, sy vrou van die afgelope vier jaar, het eers soos altyd eers hul sesjaar oue rottweiler agter die omheining van die swembad gaan toemaak.

Klein Lambert van Straaten (7) Foto: Facebook
Klein Lambert van Straaten (7) Foto: Facebook

“Die twee seuns geniet dit altyd baie om op die grasperk en om die huis te speel. Daar was nog nooit voorheen ’n probleem gewees nie. Hulle was besig om wegkruipertjie te speel toe die hond en Leonard mekaar om ’n draai ontmoet. Die hond moes oor die heining gespring het,” vertel hy.

Lammie vertel dit was toe Leonard vir die hond skrik en skree dat hy hom skielik gegryp het.

“Karin het nader gehardloop. Sy het gedink sy kan dalk Leonard wegkry en tot op die afdak tel, maar daar was nie tyd nie. Sy het vir Lambert geskree om die water te gaan oopdraai, maar dit het gelyk asof die hond tot bedaring kom. Sy het vir Leonard aangesê om doodstil te lê. Lambert het bo op sy ouma kom sit en ook sy boetie gemaan om stil te lê. Maar toe gil Leonard en die hond gryp hulle weer.”

Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin, op hul
Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin, op hul troudag in 2016. Foto: Facebook
Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin. Foto: F
Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin. Foto: Facebook

Dit was op die oomblik dat die buurman wat ’n werkswinkel op sy erf het, besluit het om om sy huis te stap. Hy het toe eers Karin en die kinders se bloedstollende gille gehoor.

“Ek weet nie wat sou gebeur het as hy nie gehoor het nie. Karin het verlede jaar ’n stent in haar hart gekry en ek het ook al ’n hartomleiding gehad. So ek weet, dan is ’n ou se stamina klaar nie wat dit was nie. Sy vertel sy was later so gedaan, sy het gedink sy kon nie meer nie . . .”

Maar Karin het aanhou baklei. Die buurman en sy seun het met ’n gesukkel eindelik tot in die erf gekom om Karin te help.
Die bure het die ambulans en polisie ontbied.

Karin is per ambulans na die Cuyler-hospitaal gebring, waar sy dadelik op ’n drup gesit is. Lammie se seun, Lambert sr. (30), wat ook op tienjarige ouderdom deur ’n boerboel gebyt is, het van die werk huis toe gejaag en die kinders hospitaal toe geneem.

“Leonard is aan sy arms, bene, in sy nek en agter sy kop gebyt. Veral sy linkerogie en -oor het sleg gelyk. Hy is tot op die been op sy kaak gebyt, maar die spesialis het later beslis sy oog is net-net gemis. Lambert en Karin is ook aan albei arms, bene en voete gebyt.”

Lambert en Karin is dieselfde aand ontslaan, nadat hulle steke ontvang het, maar Leonard is eers daardie aand na die Netcare Greenacres-hospitaal oorgeplaas waar daar aan sy gesig geopereer is. Hy is Donderdag ontslaan.

Teen Donderdagmiddag is Karin, wat baie pyn en ongemak verduur het, egter weer opgeneem nadat die dokter gesien het haar regterarm lyk baie sleg.

“Sy moes Vrydag teater toe om die wonde skoon te maak en om te kyk of daar enigiets is om te heg,” vertel Lammie en benadruk Karin moet komende Donderdag weer ingaan teater toe.

“Dit was soos met Marli. Jy dink nooit so iets kan met jou gebeur tot dit gebeur nie.”

Lammie se dogter, Marli (16), ’n eertydse leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, het nege jaar gelede in die oggendure van Goeie Vrydag in Bloemfontein gesterf. Sy was toe in die koshuis terwyl Lammie en Marli se ma, van wie hy intussen geskei is, na Uitenhage verhuis.

Wyle Marli van Straaten. Foto: Facebook
Wyle Marli van Straaten. Foto: Facebook

Marli was die aand ná ’n braai saam met vier ander jongmense, ’n passasier in ’n bakkie, toe hulle teen ’n lamppaal in Eerstelaan bots.

Sy het op die toneel gesterf.

Lammie vertel net soos met sy dogter se dood het hy ook nie dié tragedie verwag nie.

“Al wat ek weet is Karin het haar eie lewe op die spel geplaas. Sy is ’n ystervrou.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe