Hannalie Hepburn, Monique se ma, het Maandagoggend aan Huisgenoot vertel Monique is tans in ’n stabiele toestand in die waakeenheid van die private Sunshine-hospitaal in Benoni.

“Dit gaan baie beter met haar, maar sy kan niks voel op die oomblik nie. Sy is onder baie sterk medisyne om die pyn te verdoof en sy slaap die heeltyd,” vertel sy.

Monique Hepburn is ernstig in die ongeluk beseer.
Monique Hepburn is ernstig in die ongeluk beseer. Foto: Verskaf

“Ek dink sy worstel nog met soveel pyn en om te herstel, geen van die gebeure het nog by haar ingesink nie. Sy en Cornelius was soos broer en suster. Hulle het saam grootgeword en was onafskeidbaar.”

Huisgenoot het vroeër oor die voorval berig, oor wat ’n opwindende uitstappie vir die twee paartjies moes wees, in tragedie geëindig het nog voor dit kon begin.

Monique en haar kêrel, Ruan Swarts (24), het laat die middag saam met haar neef, Cornelius Nortjé (23), en sy meisie, Handri Krause, gery om ’n aand saam uit te geniet. Hulle was skaars 10 km van die huis op die R550-pad, toe hulle reg van voor teen ’n aankomende motor bots, wat glo in die reën ’n vragmotor wou verbysteek.

Monique Hepburn en haar kêrel, Ruan Swarts. Foto:
Monique Hepburn en haar kêrel, Ruan Swarts. Foto: Verskaf

Cornelius en Handri is op slag dood.

Die paartjie Handri Krause en Cornelius Nortjé het
Die paartjie Handri Krause en Cornelius Nortjé het saam in die ongeluk gesterf. Foto: Facebook

Ruan het kopbeserings opgedoen, maar is reeds uit die hospitaal ontslaan. Monique het erge beserings aan haar gesig opgedoen en haar been op drie plekke gebreek. 

Hannalie vertel ’n weldoener, wat op Monique se ondersteuningsblad 'Help Monique' op Facebook van die ongeluk verneem het, het ingegryp en gehelp om vir Monique ’n oorplasing van die Vosloorus-staatshospitaal na die Sunshine-hospitaal te bewerkstellig sodat sy nie langer op ’n operasie vir die omvangryke beserings in haar gesig moes wag nie.

Monique Hepburn na haar operasie. Foto: Verskaf
Monique Hepburn ná haar operasie. Foto: Verskaf

“Die operasie het omtrent agt en ’n half uur geneem. Aanvanklik het die dokter gesê hy glo dit sal net vier uur neem en net nodig wees om twee klein snytjies onder haar oë te maak, maar toe hulle met die operasie begin, het hulle gesien die skade is nóg erger as wat hulle vermoed het.”

Monique Hepburn herstel nou in die Sunshine-hospitaal in Benoni nadat sy 'n gruongeluk oorleef het. Foto: Verskaf

Sy vertel die dokters moes haar onder albei oë van die een punt na die ander oopsny. Hulle het bevind Monique se neus is gebreek, haar een wangbeen gekraak en haar boonste kakebeen het frakture en is so verplaas, dit sit onder haar oë. 

“Hulle moes dit met plate en skroewe probeer regmaak,” vertel Hannalie. Sy sê hulle het tydens dieselfde operasie ook aan Monique se been geopereer. 

’n 'Familievergadering'

Hannalie vertel sy is innig dankbaar vir almal wat hulle sover as familie ondersteun het.

“Elke gebed, elke boodskap, elke paar rand het gehelp om ons tot hier te bring.”

Sy vertel Monique het kort voor die operasie vir haar ma gesê sy wil graag ’n family meeting roep.

Hannalie lag ’n oomblik, maar is gou weer ernstig. “Ek het haar gevra wat is dit wat sy vir almal wil sê. Sy het gesê sy hoop almal het nou hul les geleer dat hulle nie genoeg vir haar sê hulle is lief vir haar nie.”

Sy vertel Monique gaan na verwagting nog ’n maand in die hospitaal wees. In die agtergrond, terwyl Hannalie gesels, huil en babbel Monique se tweejarige dogtertjie saam.

"Sy het gesê sy hoop almal het nou hul les geleer dat hulle nie genoeg vir haar sê hulle is lief vir haar nie.”

Sy vertel ook haar negejarige seuntjie moes vandag, sonder sy ma, weer terug skool toe gaan.

“Dit was 'n bietjie emosioneel vir hom. Hy wou eers nie gaan nie.”

Hannalie sê haar suster, Jofina, het haar seun Cornelius se as Vrydag ontvang. Jofina, wat by Hannalie met Huisgenoot se gesprek gestaan het, was te emosioneel om oor haar enigste kind se dood te praat.

“Hulle het hom daar waar hy by die Ekurhuleni-munisipaliteit in Alberton gewerk het, Jabulani genoem wat 'bly' of 'verheug' beteken. Sy kollegas het in die week sy lewe saam gevier. Vriende en familie het ook vir hom en Handri wit duiwe by ’n parkie losgelaat.”

Sy hoop dat wanneer Monique ontslaan word, hulle as familie van Cornelius kan afskeid neem.

“Hulle het alles saam gedoen. Dit gaan vir haar baie swaar wees.”

Handri het beplan om vanjaar vir sowat 11 maande in Kanada of Amerika by ’n karnival te gaan werk. 

“Hulle wou wanneer sy terugkom saam Ierland toe gaan vir vakansie. Cornelius wou baie graag gaan.”

Vir ’n oomblik is sy stil.

“Hulle was vir mekaar bedoel daai twee. Ek dink een sou dit moeilik sonder die ander kon gemaak het. Maar nou is hulle vir ewig saam.”

Kom neem deel aan die gesprek.

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe