Danksy ’n Huisgenoot-leser kon ons self met Kabouter praat oor wat gelei het tot dié poging om sy liefde terug te wen.

Kabouter het die vyf plakkate wat lui: “Forgive me Pikkewyn” en “Kabouter loves Pikkewyn” self teen die brûe gaan opsit in die hoop om die liefde van sy lewe te oortuig om hom weer ’n kans te gee.

Foto’s van die plakkate is in die sosiale media gedeel en inwoners van die Oos-Rand het onverpoos na die twee gesoek in die hoop om ’n liefdesverhaal met ’n gelukkige einde te vind.

Om sy vervreemde vrou te respekteer wil Kabouter nie sy of haar naam bekend maak nie.

Kabouter sê Pikkewyn het ook die plakkate gesien en hom gekontak. “Sy het gesê baie dankie, dis oulik en dis dit. Ons praat gereeld, want ons het ’n kind saam, maar sy is nog nie bereid om my te vergewe nie.

“Ek en Pikkewyn is al 20 jaar getroud, maar is van mekaar vervreem. Ek mis haar regtig,” vertel Kabouter aan Huisgenoot

Kabouter sê hy het baie lang ure gewerk tydens hul huwelik en sy prioriteite was nie wat dit moes wees nie. 

“Pikkewyn het liefde en my onverdeelde aandag nodig gehad en ek het dit nie vir haar gegee nie. Ek het liefde gekommunikeer in my liefdestaal en nie hoe sy dit nodig gehad het nie. Dit was nie net een ding wat ons laat uitmekaar dryf het nie. Dis jare se goed,” sê hy. 

Kabouter vertel hy moes verlede jaar oorsee gaan werk en was maande lank van die huis af. Al het Pikkewyn vir hom gaan kuier, kon hulle nie hul verskille opsy skuif toe hy terugkom Suid-Afrika toe nie. 

“Sy bly op haar eie en ek op my eie. Ek wou al moed opgee, maar God sê vir my ek moet nog veg; dus is dit wat ek doen. Ek het haar steeds lief met my hele hart,” sê hy.

Kabouter sê hy het die plakkate net vir Pikkewyn se aandag opgesit en het nie gedink dit gaan so ’n groot reaksie ontlok nie.