Hul donker hare is ewe welig, hul stemme klink eenders en hulle voltooi mekaar se sinne. Wanneer hulle lag, is dit ewe aansteeklik en kreukel albei se neus op dieselfde manier op. Jy kan sê Armand en Juan Potgieter is soos vinkel en koljander.

En op die ouderdom van net 18 is dié tweelingbroers boonop besig om dieselfde toekomsdroom te bewaarheid – om hul merk te maak met die gebak waarmee hulle reeds sedert hul skooldae die geld laat inrol.

Die twee spog klaar met hul eie onderneming – ’n koffierestaurant, Bakery Co. Boutique, wat hulle aan die begin van die jaar in hul tuisstad, Polokwane, geopen het. En dis net die eerste van ’n hele rits daarvan oor die land heen, vertel die twee jou asof uit een mond.

Met prentjiemooi koeke wat proe asof dit die handewerk van ’n Franse sjef is, het hulle rede om groot te droom.

“Toe ons 10 was, het ons besef ons wil graag bak. Ons het YouTube-bakvideo’s begin kyk en geëksperimenteer,” vertel Juan, oftewel Player 2, soos die tatoe op sy pols lui. Dis feitlik al manier hoe jy hom van Armand, oftewel Player 1, kan onderskei.

14 het hulle al op bestelling begin bak – alles van kolwyntjies tot verjaardagkoeke. Die geld het hulle in hul onderneming teruggeploeg.

Dit is dié dat hulle ook al met hul eie fabriek kan spog. Dis klein, maar goed toegerus met twee oonde, ’n menger, yskaste en werktafels. Hulle het ook twee werkers aangestel.

Glad nie sleg nie vir twee 18-jariges, pas klaar met matriek en sonder enige formele opleiding in die kuns van fyngebak . . .

Dit het kleintyd in hul ma, Leatitia (43), se kombuis hier in Polokwane begin. Wanneer sy koek gebak het, het die twee tjokkertjies haar grootoog dopgehou en aan die deeg geproe.

Op ’n dag besluit Armand om self sy hand aan ’n baksel te waag. “Dit was bran-muffins,” onthou hy.

“Ek was ses en het vir my ma gesê ek is besig met ’n verrassing. Dit het amper verbrand.”

Ons het YouTube-bakvideo’s begin kyk en geëksperimenteer.
Dekadente kolwyntjies – selfs ’n piña colada-een – en ­fynproewerskoeke soos karamel-, tiramisu- en koffiekoek in espresso gedoop, is waarin dié twee broers uitblink.

Kort voor lank het die tweeling saam in die kombuis gebak en gebrou.

Mettertyd het die motorfiets van ouboet Janneman (nou 21), deesdae ’n verteenwoordiger vir ’n vervaardiger van elektriese toebehore, vir hulle interessanter begin lyk as koekies bak. 

Armand vertel hulle wou as jong tieners ook soos hy wees en het ’n rukkie ’n “bike” gery. “Nee, motorfiets,” help Juan hom reg. Hulle het gou besef dis nie hul ding nie.

“My ma het vir ons gesê ons kan nie net sit en niks doen nie. Sy het gereeld koekies gebak en ons het haar Saterdae in die kombuis gehelp,” vertel Armand. Hy het van kleins af gesê hy wil ’n bakkery hê.

Juan wou hotelbestuurder word. Toe hulle besef hulle het dieselfde idee, het hulle besluit om saam iets te doen.

Hul eerste groot bestelling, nadat hulle op 14 op Facebook begin adverteer het, was vir kolwyntjies en dít vir ’n onderklerewinkel. Gelukkig hoef die kolwyntjies darem nie ’n onderkleretema te gehad het nie, lag die twee. Hulle wou ’n goeie indruk maak en het alles uitgehaal.

Die uiteinde was ’n sjokoladehemel: sjokoladekolwyntjies met sjokoladeganache, sjokolademousse, stukkies sjokolade, sjokoladeversiering en sjokoladestroop as die spreekwoordelike sjokoladekersie op die koek.

“Die tannies het elke Saterdagoggend kom koek en tee by die onderklerewinkel, en ons het besig geword,” vertel Armand.

Maar nie almal was ewe beïndruk met die bloedjong bakkers nie.

Die broers se koffierestaurant, Bakery Co. Boutique, is in Januarie geopen.

“Ons het op 15 ’n konsultasie met ’n bruid gehad,” vertel Juan. “Toe sy ons sien, wou sy nie eens hê ons moes enige van ons idees met haar bespreek nie. Sy het eenvoudig gesê sy vertrou nie twee jong seuns om haar troukoek te bak nie.”

Al was hulle afgehaal, het hulle moedig voortgegaan om hulle vir ’n loopbaan in die kosbedryf voor te berei. In hul laaste drie skooljare het hulle in ’n restaurant as kelners gewerk.

En by ’n bevrorejogurtstalletjie het hulle ondervinding van die sakesy opgedoen.

Dit het hulle geleer om onder druk te werk en klante gelukkig te hou, sê die broers.

Hoe kry hulle dit reg om alles te behartig? Armand sê dit was daaraan te danke dat hulle hul skoolloopbaan by ’n tuisskoolsentrum voltooi het.

“Anders het ons nie tyd gehad om te bak nie.”

In hul matriekjaar het hul ma halt geroep. Dis nou tyd om te leer, het sy gesê. “Ons mag niks gebak het nie,” en die twee lag soos een man. Toe bak hulle skelm.

“Die waskamer is apart van die huis en ons het vieruur soggens opgestaan en my ma se 5 L-menger soontoe gevat,” vertel Armand.

Daarna het hulle die baksel stilletjies in die kombuis in die oond gaan druk. Wanneer hulle soggens seweuur by die tuisskoolsentrum instap, was hul bestellings klaar afgelewer.

Die tweeling het nie lank kopgekrap oor wat hulle ná matriek wil doen nie.

Die idee is gou gebore om ’n “boetiekkoffiewinkel” te open, soos die broers hul koffieplek in ’n oop ruimte in die gang van ’n winkelsentrum beskryf.

“Ons het altyd geweet hulle gaan ’n bakkery oopmaak,” sê Leatitia. “Ons het net nie geweet wanneer nie.”

Sy en haar man, Jan (48), het hul drukkersonderneming verkoop om die seuns se winkel te help finansier.

“Ons glo so sterk in hulle dat ons alles prysgegee het om hulle te help om hul drome te bewaarheid,” sê Jan.

Hy en Leatitia help met die winkel se bestuur en werk soggens daar terwyl die tweeling in die fabriek aan die bak is.

Trouens, Armand en Juan staan elke oggend vieruur op om te bak: 20 koeke per dag vir die winkel en bestellings, en sowat 300 kolwyntjies.

Die broers is beste vriende wat mekaar aanvul.

Trots! Armand en Juan se ouers, Jan en Leatitia, het in die winkel belê om hul seuns se droom te help bewaarheid.

“Ek kan nie versier nie, en Juan kan nie bak nie,” sê Armand.

“Ek kán bak, maar my koeke rys nie so mooi soos Armand s’n nie,” gee Juan toe.

Al lyk hulle op ’n druppel na mekaar, verskil hul persoonlikhede.

“Ek probeer altyd kyk waar ons kan bespaar, maar Juan wil net Tupperware koop,” kla Armand, wat ’n minuut ouer as sy broer is.

Wanneer dinge soms in die kombuis warm raak, stryk hulle gou hul probleme uit. “Jy stap uit, gaan sit om die hoek, sorteer jouself uit en kom terug,” sê Armand.

Inspirasie kry hulle meestal op Instagram en Pinterest; hulle wil nie bloot bestaande resepte naboots nie.

“Ek was eendag lus vir pampoenkoekies en toe kom die idee by my op om pampoen saam met kaneel, neutmuskaat en ’n klein bietjie gemengde speserye in ’n koek te sit,” vertel Armand.

Juan het die versiering vir hul nou reeds gewilde pampoenkoek uitgedink: ’n mengsel van roomkaas en geklopte room met kaneel bo-oor gesprinkel.

Oor vyf jaar wil Armand en Juan lekkernye soos dié in hul eie koffiekroeë oor Suid-Afrika heen voorsit. Eendag wil hulle ook ’n eie kookboek op die rakke hê en hul eie bakprogram op TV.

En met hul werkywer, geesdrif en slag om hemelse koeke op te tower kan die bakboeties se droom net mooi rys.