"Allegra . . . Allegra!” roep pa Hennie na die sesjarige dogtertjie wat in die slaapkamer wegkruip. Netnou nog het sy uitgesien na Huisgenoot se mense wat kom kuier, maar nou is sy te skaam om uit te kom.

“Sy is eintlik nooit so nie; julle sal nou-nou sien,” verduidelik ma Chantal. “Sy is eintlik ’n regte klein performer.”

Al wat werk, is dat mamma kamer toe gaan en plegtig belowe dat sy op pappa se motorfiets afgeneem kan word. En Chantal kry dit reg, want hier kom sy sowaar met die fyn dogtertjie op die heup uitgestap.

Allegra Lategan het destyds bekend geword as die kleinste baba wat tot in daardie stadium in Suid-Afrika gebore is en bly leef het. Vandag is sy ’n pragtige kind met lang blonde hare wat teen haar rug afkrul.

Sodra ’n mens dink dit is nou verby, duik nog iets op... Maar jy bid net dat dinge reg sal verloop en so sal aanhou.
Hennie Lategan

Die bondeltjie energie is ook nou ’n skoolmeisie. Sy vertel opgewonde van haar nuwe swart sandale, en ja, sy hou van Lollos en Lettie. Eendag wanneer sy groot is, wil sy ’n brandweervrou word. Dan hardloop sy buitentoe en klouter op pappa se motorfiets, gereed om vir die kamera te glimlag.  

Dit was ’n ander storie toe sy op 29 Julie 2011 gebore is, want sy het haar opwagting veels te vroeg gemaak. Chantal (toe 29) was net 22 weke swanger en Allegra het met haar koms ’n skamele 515 g geweeg.

Chantal se vrugwater het vier dae voor Allegra se geboorte begin lek en sy het ’n vroeë kraamtoestand begin binnegaan. Sy is in die hospitaal opgeneem en dokters het die kraamtoestand probeer stop, maar dit was vergeefs.

Allegra het met ’n natuurlike geboorte haar opwagting in die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Bloubergstrand gemaak. Haar ma se trouring het om haar voetjie gepas en sy is aanvanklik in die neonatale eenheid in ’n plastiektoebroodjiesakkie gesit wat haar ragfyn vel, wat nog aan die ontwikkel was, moes beskerm en gehidreer moes hou.

Sy is op net 22 weke gebore, maar het baklei om te leef.

Destyds het Huisgenoot berig baba Allegra was met haar geboorte “streng gesproke niks meer as ’n fetus nie” en haar neonatoloog, dr. Ricky Dippenaar, het gewaarsku hy sou die asemhalingstelsel afskakel as sy nie binne 24 uur na wense vorder nie. Fetusse word in die mediese wetenskap eers op 26 weke as lewensvatbaar beskou.

Maar die “madam”, soos haar dokter haar genoem het, het binne enkele dae so kragtig baklei om te leef, hy het self die mediese fonds laat weet as hulle haar nie as lid van die gesin erken en finansier nie, sou hulle skuldig aan moord wees.

Allegra was vyf maande in die hospitaal se neonatale eenheid tot sy kort voor Kersfees vir die eerste keer ontslaan is. Daarom was 17 Januarie vanjaar ’n reusemylpaal.

Allegra, ’n enigste kind, moes vroeg uit die vere wees vir haar eerste skooldag aan die Jan Krielskool in Kuilsrivier vir leerders met spesiale behoeftes. Sy het al kwart oor vyf opgestaan, want die gesin woon in Parklands, Bloubergstrand, sowat 30 km van die skool af.

“Allegra was baie opgewonde en heel tevrede om alleen (by die skool) te bly,” sê Chantal (35), wat ophou skoolhou het om heeltyds na Allegra om te sien.

Hennie (ook 35) werk as terreinbestuurder vir ’n boumaatskappy. Dis nie die eerste keer dat sy skool toe gaan nie, want sy het al van drie af die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremde kinders in Tygerberg-hospitaal bygewoon.

Allegra is ’n totale wonderwerk.

Ouditiewe neuropatie is kort ná haar geboorte by Allegra gediagnoseer; dus was klank vir haar verwronge asof ’n mens onder water met haar praat. Sy het ’n kogleêre inplanting in albei ore gekry wat haar help om te hoor.

“Die grootste ding is maar net die aanpassing omdat dit ’n nuwe skool is. Dit is nuwe mense en ’n mens het mos maar vrese oor die onbekende. Jy wil net hê jou kind moet gelukkig wees,” sê Chantal. Tog sê sy haar spruit kom smiddae met ’n baie groot glimlag huis toe.

Allegra is een van nege kinders in haar klas wat bestaan uit leerders met verskillende behoeftes.

“Sy kom van ’n skool af waar almal kogleêre inplantings of gehoorapparate gedra het en nou is sy al een in die klas daarmee. Maar haar juffrou dra ook ’n gehoorapparaat; dis goed sy sien daar is nog iemand soos sy,” sê Chantal. Al het Allegra se trane soms soggens vlak gesit, meen Hennie sy het goed aangepas en reeds nuwe maats gemaak.

“Wanneer ek laatmiddae tuiskom, kom sy dadelik na my toe. Dan vra sy eers hoe my dag was. Dan moet ek vir haar vra hoe haar dag was en dan vertel sy my wat sy alles gemaak het,” sê Hennie.

Allegra was verheug om skool toe te gaan.

“Sy’s baie gesteld op roetine,” vertel Chantal. “ ’n Mens moet alles in dieselfde volgorde doen, so nie krap dit haar baie om,” sê sy en skud glimlaggend haar kop.

Allegra kry spraakterapie by die skool en een maal per week privaat. Sy kan praat en verstaan wanneer mense met haar gesels, maar soms sukkel sy nog om haarself uit te druk omdat sy nog effens agter kinders van haar ouderdom is.

“Sy is mal oor musiek en dans; daarom het ons haar aan ’n dansskool ingeskryf,” vertel Chantal. Intussen begin sy ook nou aan sport- en kultuuraktiwiteite by die skool deelneem.  

Hulle is verlig oor elke mylpaal wat Allegra al bereik het, veral omdat hulle aan die begin nooit seker was hoe en selfs of haar verstand sou ontwikkel nie.

“Allegra het die dokters ook elke keer verkeerd bewys. Sy moes kruip voor sy kon loop; toe loop sy voor sy kon kruip. Mense het gesê sy sal nie kan fietsry nie, maar sy vat ’n fiets en ry,” sê Hennie.

Allegra is intelligent, sê Chantal. “Ons sukkel nou net met die taal, maar dis te verstane, want sy het twee jaar se agterstand. Dit vat dalk langer voor sy iets snap, maar wanneer sy dit het, het sy dit.”

Chantal sê Allegra is oor die algemeen gesond. “Ons stop haar so vol vitamiene, ’n kiem het nie ’n kans nie,” sê sy laggend. Maar omdat sy gebore is toe haar organe nog nie klaar gevorm was nie, aanvaar hulle nie haar gesondheid as vanselfsprekend nie.

“Sodra ’n mens dink dit is nou verby, duik nog iets op,” sê Hennie. “Maar jy bid net dat dinge reg sal verloop en so sal aanhou.”

Danksy inplantings kan sy hoor.

Allegra het met haar geboorte ’n opening in haar hart gehad omdat dit nog nie heeltemal ontwikkel het nie en gebruik steeds hartmedikasie. Maar dit help nou hoofsaaklik met die behandeling van ’n hemangioom aan haar gesig – ’n litteken wat gevorm het weens bloedvate wat onder haar vel opgehoop het, vertel haar ma. Dié litteken is nou onsigbaar ná laserbehandeling toe sy nagenoeg drie was.

“Sy het ook steeds dermprobleme, waarvoor sy medikasie gebruik sodat sy normaal kan kamer verlaat,” verduidelik Chantal.

Allegra gebruik ook chronies kortisoon om haar vlak van kortisol – ’n hormoon wat die liggaam op stres help reageer, bloedsuiker reguleer en ontsteking beveg – te verhoog en stabiel te hou. Wanneer haar kortisolvlak daal, raak sy baie moeg. Elke ses maande moet sy ’n oorspesialis besoek om die inplantings te verstel en seker te maak sy kry nie oorontsteking nie omdat dit die inplantings kan beskadig.

“Ons hou haar fyn dop en het die pediater op speed dial vir wanneer ons dink iets is dalk fout,” sê Chantal.

En ja, soms ervaar hulle as ouers nog af dae, erken sy. “Dan voel ’n mens net jy het nou genoeg gehad. Maar wanneer ek net na daardie gesiggie kyk en dink hoe ver ons al gekom het, dan pak ek die volgende dag weer aan. ’n Mens sal mos enigiets vir jou kind doen.”

Die Lategan-gesin besoek soms ma’s met vroeggebore babas in die hospitaal om hulle moed in te praat en Allegra se verhaal met hulle te deel.

“Maar ek kan nie vir hulle sê alles sal oukei wees nie. Dit is nie met almal dieselfde nie. Allegra is ’n totale wonderwerk.”

Hennie en Chantal het besluit Allegra is ’n handvol en verdien al hul aandag; hulle beplan nie nog kinders nie.

Dan sê Hennie tevrede: “Ons het reeds twee kinders gekry, ons hondjies, Tino en Kiara. Ons gesin is nou volmaak.”

  • Suid-Afrika se kleinste baba, Jazeel Hlope, is op 21 Junie verlede jaar op 25 weke in Alberton gebore. Sy het net 395 g geweeg. 
Foto's: Corrie Hansen, Verskaf