Verlede jaar met die 20ste herdenking van die moord op Gianni Versace het sy ontwerpersuster, Donatella, haar broer se spook in die oë gekyk.

Vir haar SS18-reeks het sy vir die eerste keer sedert die Italiaanse mode-ikoon se dood in Gianni se groot argief – ’n bergplek van 929 m2 naby Milaan – gaan delf. Toe vra sy sy geliefkoosde supermodelle, onder wie Cindy Crawford en Naomi Campbell, om haar hulde aan sy buitengewone nalatenskap te help bring.

Hand aan hand en in rokke van ritse goue metaalringe gedrapeer het hulle aan die einde van die vertoning op die loopplank by haar aangesluit. Die gehoor en resensente was in ekstase.

Eindelik, het sy gesê, het genoeg tyd verloop dat sy hulde aan haar ouboet kan bring.

Op 15 Julie 1997, in een van die skokkendste moorde op ’n beroemde, het Gianni die vyfde slagoffer van die reeksmoordenaar Andrew Cunanan (27) geword. Hy het op gay mans toegeslaan in ’n tyd toe die meeste van hulle nog in die kas was.

Dona­tella en Gianni, twee jaar voor hy in 1997 vermoor is.

Cunanan het daarna nege dae lank weggekruip voor hy sy eie lewe geneem het sonder om enige leidraad oor sy motief vir die moord op Versace agter te laat. Dié voortslepende raaisel is genoeg om samesweringsteoretici aan te hits.

Die besonderhede daarvan word nou weer alles verstrek in ’n nuwe televisiereeks, The Assassination of Gianni Versace: American Crime Story. Ricky Martin, Penélope Cruz, Darren Criss en Edgar Ramirez vertolk die hoofrolle in die reeks wat nou op Fox (DStv-kanaal 125) uitgesaai word.

Nie almal in die Versace-kringe sien uit na die reeks van nege episodes nie. Dit is sonder die familie se samewerking vervaardig en hul prokureurs staan reg ingeval enige aspek daarvan lasterlik is vir Gianni se nalatenskap, sy oorlewende familie of die Versace-modehuis se reputasie.

Nóg Donatella nóg Santo, die oorlede ontwerper se ouer broer, wil praat oor die reeks, die moord of hul verhouding met Antonio D’Amicom, Gianni se kêrel ten tyde van sy dood. Antonio het jare laas met hulle gepraat.

GIANNI se dood sal enige misdaadskrywer boei.

‘Hy was un signore . . . Soms moes ek my keer om ’n stoel nader te trek en te gaan sit’

Dit was dan ook een van die eerste stories wat ek gevolg het nadat ek in die middel 1990’s na Rome getrek het. Einde verlede jaar het ek ses weke lank tussen Miami en Rome rondgereis om die mense te ontmoet wat ten tyde van die moord daar was.

Volgens hulle het daardie Dinsdag as ’n uiters ongewone dag begin by Casa Casuarina, Gianni se pragtige villa by 1116 Ocean Drive, in die omgewing van South Beach in die kusstad Miami Beach.

Gewoonlik sou Gianni (50) saam met Antonio, sy 38-jarige lewensmaat van amper 15 jaar, by die trap van sy slaapkamersuite met ’n seeuitsig afgestap kom. Die twee sou dan ontbyt geniet op die patio langs die swembad – met sy mosaïek van 24 karaat goud wat in Italië ontwerp is – terwyl hulle deur die oggendkoerante blaai.

Daarna is hulle dikwels saam by die villa weg om op die strand te gaan wandel. Maar op die oggend van sy dood het Gianni vroeër as gewoonlik – en alleen – ondertoe gekom, onthou Charles Podesta, hoof van die ontwerper se huishouding.

Nadat hy met die jare nooit met enige mediamense gepraat het nie, het Arthur Furia, ’n prokureur en vertroueling van Versace, hom aan my voorgestel.

Tonele uit die omstrede TV-reeks oor die moord op Gianni. Édgar Ramírez speel die ontwerper

Charles, wat steeds sy antieksjiek Versace-klere dra, praat met groot lof van sy baas.

“Hy was un signore,” sê hy en gebruik die Italiaanse woord vir heer. Hy was buitengewoon na aan sy baas, sodanig dat dit soms vir hom moeilik was om te onthou hy is ’n werknemer.

“Soms moes ek my keer om ’n stoel nader te trek en te gaan sit,” sê hy vir my. “Hy het almal op hul gemak laat voel.” Charles se stem word in die berugte noodoproep na 911 gehoor toe hy die moord aanmeld, die enigste openbare klankbaan van die voorval.

Sy voetstappe klink op oor die marmervloer terwyl hy hardloop om te gaan kyk of Gianni nog asemhaal. “ ’n Man is geskiet. Asseblief, dadelik, asseblief,” hoor ’n mens Charles sê. Die operateur vra dan nog besonderhede oor wie en waarom.

“Ek weet nie; hy was voor sy huis. Dis Gianni Versace.”

Penélope Cruz vertolk die rol van Donatella.

Luidens talle berigte het Cunanan die ontwerper by sy herehuis in Miami dopgehou en presies geweet wanneer hy alleen daar sou uitkom. Maar volgens die mense wat tydens die moord in die huis was, was dit blote toeval dat Cunanan vir Gianni daardie tyd van die oggend alleen op die trap aangetref het.

Die ontwerper het net ’n paar dae tevore uit Parys in Miami aangekom nadat hy ’n Versace Couture-vertoning in die Ritz gehou het.

Hy het daarna met vlugvoosheid en algemene uitputting gesukkel. Hy en Antonio het in die dae voor die moord nie juis ’n roetine gevolg nie en beslis nie een waarvolgens ’n reeksmoordenaar presiese planne sou kon beraam nie.

Die twee het sedert hul terugkeer net ’n paar keer saam die villa verlaat en het glad nie koerante of tydskrifte gaan koop nie, vertel Antonio. Hy voeg by hy haat dit om oor die dag te praat toe sy “wêreld geëindig het”.

Die sanger Ricky Martin speel Gianni se lewensmaat.

Ek bel Antonio in Italië nadat ek hom opgespoor het deur ’n gemeenskaplike vriend van die stad Brindisi in die suide van Italië in Puglia, die streek van sy herkoms. Ek het hom twee jaar tevore vlugtig op ’n partytjie in Puglia ontmoet en toe het hy gesê hy stel glad nie belang om met joernaliste te praat nie, of hulle nou vriende is of nie.

Antonio is bekommerd die American Crime Story-reeks sal opnuut spanning tussen hom en die Versace-familie veroorsaak.

Daar was onenigheid oor geld en eiendomme wat Gianni in sy testament aan Antonio nagelaat het in ’n tyd toe selfdegeslagpaartjies nie werklik enige regte in Amerika gehad het nie.

Hy bestempel foto’s uit die produksie wat hy gesien het, as belaglik. “Niks goeds sal uit die reeks kom nie,” sê hy vir my. “Dit sal net ou wonde oopkrap en nog pyn veroorsaak.”

Ricky Martin, wat Antonio in die reeks speel, het aan ’n tydskrif gesê hy het ná die verfilming na Gianni se minnaar uitgereik en hom verseker hy sal tevrede wees met die eindresultaat, maar Antonio sê hy sal self oordeel.

Uit wat hy tot dusver gesien het, is selfs die basiese uitbeelding van die moord vergesog. Charles sê byvoorbeeld hy en die villa se hoofsjef was in die dienskombuis agter in die villa besig om ontbyt te maak toe die ontwerper alleen verskyn.

Darren Criss speel Gianni se moordenaar, Andrew Cunanan.

Charles onthou dit was vir hom vreemd.

“Ek onthou die geure daardie oggend in die kombuis en signore Gianni wat skielik sonder Antonio verskyn. Hy het by die kombuis ingeloer om te sê hy gaan nie soos gewoonlik eers eet nie en gaan pleks daarvan tydskrifte op die hoek koop. Ek het bloot gesê: ‘Ons is hier vir jou, signore’, en toe was hy weg.”

Dit was vir Gianni onnodig om daardie oggend na die News Café te gaan, en waarom hy dit tog gedoen het, bly een van vele raaisels. Sy dienspersoneel het altyd gesorg dat die Italiaanse koerante wat die vorige dag in Italië verskyn het, betyds vir ontbyt afgelewer word.

’n Personeellid was trouens met die oggendkoerante in die hand op pad terug na die villa toe hy Gianni raakloop.

Gianni in Januarie 1997 op ’n modevertoning in Parys, kort voor sy dood.

Hy het aangebied om terug te hardloop en die tydskrifte vir hom te gaan haal. Maar die ontwerper wou self na die News Café stap om vyf glanstydskrifte te koop. Hy was daardie dag vroeg op, want ’n modevertoning sou die aand in Rome gehou word, wat ses uur voor Miami is.

Hy het op die nippertjie besluit om dit nie by te woon nie en liewer ná die couture-vertoning in Parys saam met Antonio huis toe te vlieg. Gianni het gou moeg geword ná sy stryd die vorige paar jaar teen binneoorkanker.

Buite Gianni se villa ná die moord.

Tydens daardie siekte was Donatella in 1996 vir die eerste keer aan die roer van sake by die modehuis. In ’n televisieuitsending genaamd Donna sotto le Stelle (Vrou onder die Sterre) teen skemeraand van die Spaanse Trappe in Rome af sou die grootste name in die Italiaanse modebedryf hul skeppings vertoon.

Naomi Campbell sou die vertoning open. Gianni het reeds meermale met Donatella gepraat, wat die Versace-versameling vir die geleentheid behartig het. Hy het duidelik sy kleinsus vertrou, tog was hy behep met die fynste besonderhede.

Die laaste keer dat Donatella met hom gepraat het, was vroeër daardie oggend.

DIT was net voor nege die oggend toe Antonio en Charles die klapgeluid hoor. Hulle het gedink dis vuurwerk voor die huis.

“Dit was ’n vreemde geraas; talle harde klapgeluide die een ná die ander,” onthou Charles, en vertel hoe hulle almal na die voorkant van die villa gehardloop het om te kyk wat aangaan. Charles se moed het in sy skoene gesak toe hy Alberta, ’n personeellid, hoor skree.

“Gianni se bloed was nie oral oor my nie.”

“Ek het geweet iets het gebeur; ek het by die standbeeld in die binnehof omgedraai en teruggehardloop om 911 te bel.”

Hy kan nie die storie sonder trane vertel nie. Hy onthou hoe hy in sy eie motor geklim en agter die ambulans aan hospitaal toe gejaag het. Hy onthou hy het toegekyk toe die dokter in die wagkamer van die noodeenheid die mense in Gianni se binnekring vertel die ontwerper is dood.

“Ek kon sy mond sien beweeg, maar ek kon nie verstaan wat hy sê nie.”

Antonio onthou nog minder.

Hy het tot by die voorste trap gevorder, Gianni se bloeiende liggaam gesien en sy bewussyn verloor. Hy sê iemand het hom daar weggepluk. Hy het nie, soos in die lokprent van die American Crime Story-reeks, sy sterwende minnaar in sy arms vasgehou nie.

n Polisiefoto van Gianni se moordenaar. Ná die moord het hy nege dae lank weg­gekruip en toe sy eie lewe geneem.

“Dis glad nie hoe dit gebeur het nie,” sê hy.

“Gianni se bloed was nie oral oor my nie.”

Die ure daarna het in ’n waas verbygegaan terwyl die personeel en vriende op Donatella en Santo se aankoms met ’n privaat straler uit Rome gewag het. Hulle is daarna reguit na die lykshuis saam met die prokureur Arthur, ook ’n belangrike figuur in Miami se Italiaans-Amerikaanse gemeenskap.

Hy het vir die Versace-familie ’n privaat landing op Miami se internasionale lughawe gereël, hulle na die lykshuis geneem om die lyk te eien en daarna tot in Casa Casuarina geneem, deur ’n agterdeur wat die pers toe nog nie ontdek het nie.

‘Hy was stil en skaam; baie stemmig en elegant . . . Net in sy ontwerpe het die ander kant uitgekom’

Ek ontmoet Arthur in sy kantoor in ’n wolkekrabber in die middestad van Miami. Hy sif deur nuusknipsels en die hardebandboek oor die roudiens in Milaan met foto’s en aanhalings van gaste soos Diana, die prinses van Wallis, en Elton John.

“Hulle wou net vertrek; hulle wou hom laat veras sodat hulle dadelik kon teruggaan Italië toe vir die begrafnis,” vertel Arthur.

Hy het gereël dat die staatsadvokaat in die villa aan Donatello en Santo kom verduidelik dat Cunanan toe nog ook in drie ander state gesoek is en dat geregtigheid dalk sou geskied in dieselfde volgorde as wat die moorde gepleeg is.

Charles het in die Versace-villa aangebly tot dit verkoop is. Hy wou sorg dat selfs in sulke tragiese omstandighede soos sy beskermheer se dood, die huis net so manjifiek sou lyk as toe Gianni nog geleef het. Hy het die “Versace-ervaring” vir enige gaste geskep wat daarheen gekom het.

“Hy was stil en skaam; baie stemmig en elegant,” vertel hy van sy voormalige baas. “Net in sy ontwerpe het die ander kant uitgekom het. Daar sal nooit (weer) iemand soos hy wees nie.”

Gianni se binnekring, van Charles tot Arthur en die voormalige sjefs, bly ongelooflik geheg aan mekaar, deur ’n lojaliteit verbind wat moeilik is om te verklaar. Deur hul blote teenwoordigheid hou hulle die Versace-nalatenskap lewend in Miami, al bly weinig in South Beach oor wat die Versace-naam dra.

Dié handelsmerk se winkel het reeds jare gelede gesluit en selfs Casa Casuarina, wat nou aan ’n privaat hotelonderneming behoort, is ’n roestende dop van sy eertydse, manjifieke self. Die meeste van die duur dekor wat Gianni uit Italië gebring het, is met plastieknabootsings vervang wat nie duursaam is nie.

Die Versace Medusa-brokaat op die plantpotte buite die huis is gekraak. Die eens privaat vertrekke is nou omskep in suites van R15 000 per nag en ’n restaurant genaamd Gianni’s.

Daar word ’n reuse- steurgarnaalkelkie teen R410 en Chinese kaviaar teen R2 500 verkoop. Wat die familie ook al op die ou end van die American Crime Story-reeks sou dink, een ding is seker: Dit sal die spook van Gianni Versace nog langer lewend help hou. 

© BARBIE LATZA NADEAU/THE SUNDAY TIMES CULTURE MAGAZINE/NEWS SYNDICATION; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, GALLO IMAGES/REUTERS