Hannah is weer geestelik en fisiek gesond.
Hannah is weer geestelik en fisiek gesond. Foto: Verskaf

Hannah, van Noordhoek in die Kaap, het haarself so erg van kos weerhou dat sy bitter ondergewig was – maar ’n insident met ’n sny verjaardagkoek het haar so diep getref dat sy daar en dan besluit het om haar gesondheid weer op koers te kry.

Hannah het onlangs ’n boek gepubliseer, Not a Piece of Cake, en is nou – geestelik en fisiek – sterker as ooit. “Teen die einde van gr. 10, in 2016, is ons op ’n vakansie Europa toe. Dit het beteken ek kon nie my sport, swem, beoefen nie.

Dit het my baie angstig gemaak oor alles wat ek eet, want ek het geweet die gewig kan nêrens heen gaan nie. Ek het gedink ek sou net eenvoudig minder eet aangesien ek nie oefening kry nie.

“Ek het basies twee keer ’n dag groente geëet en baie gewig verloor daai vakansie. “Ek het myself gesê ek gaan weer normala eet wanneer ons terug is, want dan gaan ek mos weer swem. Maar iets het al klaar skeefgeloop in my brein, en terug by die huis het ek aangehou om so min te eet.

Hannah in die swembad
Hannah in die swembad. Foto: Verskaf

“My ma wou vir my hulp kry, so ek het ’n dieetkundige gaan sien vir my ma se onthalwe. “Ek wou egter nie regtig doen wat die dieetkundige vir my sê nie. Ek het soort van voorgegee dat ek beter word, maar ek het nie regtig moeite gedoen nie.

“Ek het heeltyd net gedink ek moenie gewig aansit nie. En ek het ophou swem. Ek was te maer en het nie die stamina daarvoor gehad nie. “Op my maerste het ek in die lae 40’s geweeg – sker 20 kg minder as wat normaal sou wees vir my. Ek het ook steeds myself gedwing om oefening te doen.

“My depressie in daardie stadium was so erg dat ek gereeld nie kon skool toe gaan nie. Ek was vasgevang in hierdie bose kringloop vir ’n helse lang tyd.

“Ek het dae lank net myself gedwing om gimnasium toe te gaan en dan by die huis gesit en maak asof ek skoolwerk opvang. Dit het so aangegaan tot nog ’n vakansie, dié keer in Mauritius, toe my gesin regtig kon sien hoe ontsettend deurmekaar en siek ek was.

Hannah en haar vriendin Finn Musson.
Hannah vertel haar vriendin Finn Musson was daar vir haar in haar swaar tye. Foto: Verskaf

“Ek het elke dag gehuil en geweier om te eet wat die ander mense eet. “My ouers het ná dié ramp van ’n vakansie summier besluit om my in ’n kliniek vir eetsteurings in te boek – iets wat altyd ’n opsie was vir as dinge regtig handuit ruk.

“Dit was Junie of Julie in my gr. 11-jaar. Ek was net so uitgeput dat ek sommer net ingestem het om te gaan. “Die kliniek het nie vel gehelp nie. Om die waarheid te sê, dit was dalk die slegste ervaring van my lewe. Ek dink om die ander mense daar te sien het my getraumatiseer, so ek het baie erger begin voel.

“Ek moes drie of vier weke daar bly, maar ek het my sielkundige oorreed om my ná net ’n week daar uit te haal. “Dit was so erg dat ek selfs gewig verloor het in die kliniek.

“Ná die tyd het ek ’n bietjie meer posiief gevoel, want ek kon sien hoe vreeslik erg dit gegaan het met van die ander mense in die kliniek. “Ek het besluit om beter te raak . . . vir omtrent twee weke. Toe val alles weer uitmekaar.

“Die res van die jaar het ek almal vertel ek raak beter, maar ek het eintlik net myself daarvan probeer oortuig. “Ek het geen sosiale lewe gehad nie. Ek het letterlik net groente en ryskoekies geëet. So het dit aangehou tot my 18de verjaardag.

Hannah by haar vriendin na sy 'n toekenning gewen
Hannah by haar vriendin na sy 'n toekenning gewen het ná haar stryd. Foto: Verskaf

“En toe gebeur iets wat alles verander: My vriende het vir my ’n sny koek gegee. Dit het my oë oopgemaak. In daai oomblik het ek besef ek kan nie my hele lewe lank so aanhou nie. Ek moes van myself begin hou. Op daardie dag het ek vir die eerste keer regtig myself toegewy daaraan om my lyf en my verstand gesond te kry.

“Ek het die koek geëet. Dit was lekker. Ek het skuldig gevoel, maar ek het myself vertel ek mag skuldig voel solank ek nie toelaat dat daardie gevoel my oorheers nie.

“Ek is terug na dieselfde dieetkundige na wie ek eers nie geluister het nie. Sy was ongelooflik en het my baie gehelp. Ons het ’n eetplan en weeklikse weegsessies gehad. As ek gewig opgetel het, mag ek ’n bietjie geoefen het.

“Om weer mededingend aan swem deel te neem was ook nog heeltyd ’n groot motivering vir my. “Dit het ’n jaar gevat om weer by ’n gesonde gewig uit te kom. Ek het ’n paar motiveringsboeke gelees, maar dit was eintlik die idee van swem wat my die meeste gehelp het. 

“In die herstelproses het ek my voorgeneem om my nie weer te weeg nie. Dis nou al meer as ’n jaar en ek het steeds nie.

“Ek het my boek, Not a Piece of Cake, geskryf omdat ek op my ergste tye gewens het daar was iets om te lees hieroor deur iemand met wie jong mense kan identifiseer. Ek wou nie so alleen voel nie.”

  • Nota: Hannah het gevra dat ons nie foto’s van haar plaas van terwyl sy met anoreksie gesukkel het nie – dit sou net sensasie skep en kan ander mense negatief beïnvloed.