Bill Gates dra nie ’n sitplekgordel nie. Ek bekommer my oor sy veiligheid terwyl ons op die paaie van Addis Ababa met militêre agterryers weerskante van ons voortsnel.

Sy assistente kom dit óf nie agter nie óf hulle weet hulle moet dit nie noem nie. Die bokke is uit die strate gejaag, die sypaadjies is skoongevee, maar die Microsoftstigter kyk nie by die venster uit nie.

Hy verstrek feite, data en bevolkingsyfers aan my en verduidelik hoeveel lewens hy nog op die vasteland kan red. Die Afrikaleiers ontmoet almal in Ethiopië.

Bill Gates in Afrika
Hy dien ’n rota­virus-inenting toe aan ’n kind in Ghana. Foto: Gallo Images/AFP

Wit Land Rovers met BBP-tekens en nasionale vlae op die enjinkap staan in ’n ry met presidente en premiers, getooi in medaljes en borduursels, wat daaruit bondel.

Lyfwagte gluur, fotograwe skree, dit lyk of die hele vasteland se elite op die trap van die nuwe Afrika-unie-gebou byeenkom. Blaasorkeste speel en vroue dans terwyl 54 vlae in die droë hitte wapper.

Bill daag op, ’n onopvallende 63-jarige Amerikaner in ’n V-nektrui en aanglipskoene. Hulle haas om hom te ontmoet. Hy is die eerste niepolitieke Westerling wat na die Afrika-unie genooi is om twee toesprake te kom lewer en ek kon “vir die lekkerte saamkom”.

Die naasrykste man ter wêreld is $98 miljard (R1,3 biljoen) werd, meer as verskeie van dié lande se BBP (bruto binnelandse produk) saam. Maar dis nie sy liefdadigheidswerk of bekendheid wat hulle loof nie; dis sy raad.

Hy word as ’n goeie man in Afrika beskou, eerder as ’n “Westerse filantroop” of “wit verlosser”.

“Ons soek nie neerbuigende wit mense wat vir ons preek oor waar ons verkeerd gedoen het nie,” sê Paul Kagame, Rwanda se president en voorsitter van die konferensie, vir my.

“Mnr. Gates wil ons gesondheid en IT regruk; enigeen sou hom in hul huis wou hê.”

Ek het ’n week tevore Afrika se tegniesesteun-assistent by sy hoofkantoor in Londen ontmoet om oor die vasteland te praat wat hy die eerste keer in die 1990’s besoek het toe hy reeds miljarde uit Microsoft gemaak het. Melinda (54), sy vrou van die afgelope 25 jaar, het hom gedwing om ’n safari in Kenia te onderneem toe hulle verloof was.

Bill Gates in Afrika
Die magnaat en sy vrou, Melinda, ontmoet Christina Mwin­jipe, ’n boer van Tanzanië. Foto: Facebook/Bill Gates

“Ek het vakansies verpes en was nie mal oor diere nie,” vertel hy. Maar toe hulle op ’n Masaidorpie verwelkom word, het hulle besef hoe groot die verskille tussen hul tegnowêreld aan die Amerikaanse weskus en die dorpenaars se probleme is.

Nie een van hulle wou ’n seiljag hê nie, en binnekort sou hulle ’n heel skaflike huis van $125 miljoen (toe sowat R425 miljoen) in Seattle hê; daarom was hulle vasbeslote om te help.

Die Bill & Melinda Gates-stigting is tot stand gebring met die steun van Bill se miljardêrvriend en brugmaat, Warren Buffett, wat “steeds inval vir ete, die skottelgoed was en kyk hoe sy geld bestee word”.

Al bewonder Bill China se verstommende groeikoers, is dit Afrika wat hom boei.

“Afrika is opwindend, want dit is die jongste vasteland. Dit het meer uitdagings as enige ander vasteland, maar dit is beslis ’n geval van ’n glas wat halfvol is,” sê hy.

Mededingend soos hy van nature is, kan hy nie anders nie as om te noem hy en Melinda het dalk gehelp om 10 miljoen toekomstige sterftes af te weer deur hul vennootskap met Gavi, die wêreldwye alliansie vir inenting en immunisering.

Bill Gates doen navorsing
Bill kyk deur ’n mikro­skoop tydens ’n besoek aan die Liverpool-skool van Tropiese Medisyne in Brittanje. Foto: Gallo images/Reuters

En met die Global Fund, wat ’n einde aan vigs, tuberkulose en malaria wil maak, het hulle nog 27 miljoen gered. Hy weet van niemand wat al meer mense gered het nie. Maar entstowwe is so eenvoudig, doeltreffend en goedkoop, dis verslawend.

“Die groot teenstrydigheid vir my was dat dié entstowwe uitgevind is en kinders steeds van siektes soos die rotavirus sterf terwyl hulle eintlik so maklik gehelp kan word.”

Die internet gaan nie die wêreld red nie, glo hy, en ook nie motors wat hulself bestuur of toeriste wat die ruimte besoek nie, “maar om siekte uit te roei kan dalk”; daarom het die fokus in sy lewe daarna verskuif.

Dis moeilik om hom daaroor te kritiseer. Natuurlik doen hy die regte ding deur nie net sy rykdom nie, maar ook sy tyd daaraan te wy om lewens te red; daarom voel dit gemeen om enige geringe gebreke te beklemtoon.

’n Mens kan sê hy is te droog en analities, maar ek vermoed hy probeer nie te arrogant klink nie. Hy weet hy hoef nie met sy rykdom te koop te loop nie – net Jeff Bezos van Amazon kan hom klop.

Hy het ook nie veel erg aan materiële besittings nie. Hy is een van die min tegno-miljardêrs wat aan ’n privaat skool was.

Sy pa was ’n suksesvolle prokureur, en sy kinderjare in Seattle was reeds gerieflik voor hy met rekenaars “begin peuter het”.

Bill is doodgelukkig met ’n burger en skyfies by sy plaaslike deurry-burgerrestaurant in Seattle en dra ’n horlosie van $10 (R140).

En hy kan nie uitgepraat raak oor Afrika se behoefte aan boeljon of aftrekselblokkies nie. Terwyl ander uitvoerende hoofde verlede maand in Davos, Switserland, genetwerk en partytjie gehou het, het hy die vervaardigers daarvan ontmoet.

“Daar is ’n geleentheid om mikrovoedingstowwe in vleisaftrekselblokkies te sit,” sê hy. “Dit word baie in Afrika gebruik, selfs in die armste huishoudings; daarom is dit ’n goedkoop manier om hul gesondheid te verbeter.”

Toe ek hom weer in Ethiopië ontmoet, het hy ’n haarsny in sy besige program ingepas en nog twee vastelande sonder ’n blaaskans besoek.

‘Afrika is opwindend. Dit het meer uitdagings, maar die glas is halfvol’

Ek gaan na twee gesondheidsklinieke waar sy stigting die medikasie en entstowwe geborg het. Die mediese personeel vertel Bill wil nie die pasiënte se dankbaarheid hê of selfies vir sy 47 miljoen aanhangers op Twitter of fotosessies saam met babas nie; hy wil resultate hê; daarom bly hy agter om te werk.

Dis ’n man wat erken dat hy as uitvoerende hoof van Microsoft al sy werknemers se nommerplate uit sy kop geleer het sodat hy kon kyk hoe laat hulle saans huis toe gaan.

Dit maak Bill woedend wanneer die hoofopskrifte uit Afrika net gaan oor grootoogweeskinders of korrupsie met hulpprojekte.

“Die wêreld floreer op stories, en dis irriterend dat stories oor een lewe wat gered is of ’n klein bedraggie geld wat op ’n korrupte manier bestee word baie beter is as dié oor miljoene mense wat gered word. Dit ontlok meer emosie,” sê hy.

“As ek in ’n rivier spring en ’n kind red, sou dit ernstiger opgeneem word as die miljoene lewens wat ons gered het.” Hy erken sy vrou is meer bedrewe met stories vertel.

Toe ek verlede jaar ’n onderhoud met Melinda gevoer het, het sy nie omgegee om oor haar sekslewe te gesels om te verduidelik hoe belangrik voorbehoeding is nie.

Die blote gedagte laat Bill ineenkrimp. Huil hy ooit?

“Ek huil. As jy vir my ’n storie vertel, is ek meer as die meeste mense geneig om te huil, of as ons ’n fliek of iets kyk. Ek het een aand ’n boek gelees, A Gentleman in Moscow, en was 100 blaaie voor Melinda. Ek het begin huil en sy sê toe: ‘Ag nee’ – sy’t gedink ’n karakter in die boek het gesterf.”

Maar hy sê dis nie van nut om emosioneel te wees nie en lyk ongemaklik met die idee om mense wat hy gehelp het ’n drukkie te gee.

“Die wêreld het 7 miljard mense en ’n dag het net 24 uur. Ek kan hulle nie almal gaan besoek en kyk wat fout is nie. Ek moet seker maak die data is reg wanneer ek saam met vrouegroepe op ’n afgeleë dorpie in Indië sit. Hul stories is waardevol, maar die dinge wat ek moet doen, kom uit die statistieke.”

Hy brei uit. “Ses miljoen kinders sterf steeds wêreldwyd voor hulle vyf jaar oud is. As jy ’n betekenisvolle uitwerking op daardie syfer wil hê, kan jy dit nie van dorp tot dorp of mens vir mens aanpak nie. Die wêreld het die intelligensie en hulpbronne om met inentingsprogramme daardie 6 miljoen tot 3 miljoen per jaar te verminder. Dit sal minder kos as wat ons op hondekos of middels teen haarverlies uitgee.”

Bill is nie ’n ydel man nie en ek vermoed hy kan nie werklik verstaan hoekom enigeen geld aan hul voorkoms sal wil bestee eerder as aan ’n entstof of navorsing en opvoedingsprojekte nie.

Ons gaan na sy eerste konferensie, waar hy dit regkry om drie uur lank te glimlag terwyl hulle gesondheidskwessies bespreek en ek aan die slaap raak. Dit lyk soos toneelspel uit die boonste rakke, maar hy is werklik geboei.

Eindelik gaan ons boontoe na sy inligtingslokaal; die spa en swembad bly onbenut. Wil hy nie vinnig induik nie? “Nee.” Wat van ’n massering? “Beslis nie.”

Hy wil net ’n witbord, ’n rekenaar en papier hê sodat hy vir my ’n paar grafieke kan trek – en ’n blikkie Diet Coke. Toe die tegnoslimkop die eerste keer in Suidoos-Asië en Afrika begin lewens red, het ryk vriende hom op partytjies gevra of dit ’n goeie idee is.

Talle was bekommerd dat as mense se lewe sou verbeter nog meer ambisieuse immigrante na die Weste sou stroom. Maar, sê hy, al oplossing vir ongewenste immigrasie is om te sorg dat die Afrikavasteland ’n aanloklike plek word om ’n gesin groot te maak.

“Die vasteland het sowat ’n miljard mense en die bevolkingsvooruitsig vir 2100 is 4 miljard,” verduidelik hy.

‘Hy het sy geld, sy tyd, meer vakansies saam met sy gesin en selfs sy gesondheid vir Afrika opgeoffer’

“Teen die einde van die eeu sal dit die tuiste van vyf van die wêreld se grootste stede wees; daarom moet ons Afrika ’n goeie plek maak om te leef, en gou.”

Hy ryg die voorbeelde van vordering uit: “Kyk net na die lewensverwagting of geletterdheid. Afrika het in die 1980’s ’n geletterdheidsyfer van 20% gehad; dit staan nou op 75%. Drie keer soveel kinders het in die 1970’s gesterf. “Dis eintlik baie oplosbaar as jy net eers stabiliteit het,” sê hy.

Ons spring later in die kar vir ’n aandete waar hy as eregas tussen twee presidente sit, maar die musiek is so hard dat hy sê hy kan skaars hoor.

Hy is haastig om ná ’n 16 uur lange dag bed toe te gaan, maar wag tog om ’n rustige gesprek met die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, te voer.

Nelson Mandela was ook ’n vriend van hom. Op sy rooster staan hy het nege uur slaap nodig, en dis onderstreep. Wat hou hom snags wakker? Die gedagte aan ’n pandemie, sê hy.

“Dis 100 jaar sedert ons ’n reusegriepepidemie gehad het. Mense reis nou meer, en die tempo waarteen dit kan versprei, sal vinniger wees as jy ’n respiratoriese oordraagbare siekte het. Die syfers kan afgryslik wees.”

Die volgende oggend spreek hy die unie toe, en luister weer ure lank hoflik na ander se lang toesprake. Hy is op baie maniere meer as ’n goeie man in Afrika, ’n 21ste-eeuse sendeling: Hy probeer hulle nie tot ’n godsdiens of geloof, Katolisisme of kapitalisme bekeer nie; hy is net ’n tegnokraat wat hul haakplekke en swak plekke probeer uitstryk, soos hy eens met Microsoft gedoen het.

Ten spyte van al die uitdagings wat die wêreld in die gesig staar, sien Bill, ’n obsessiewe optimis, soveel om oor positief te wees.

“Ek sien die paradoks uit ’n objektiewe oogpunt. Sou jy eerder nou of 20 jaar gelede ’n vrou in die werkplek wou wees? Sou jy eerder vandag of 20 jaar gelede ’n gay mens wou wees? Ek beskou dit as vordering. Ons sal ’n geneesmiddel vir alzheimersiekte vind; ons sal vetsug en diabetes takel. Kinders drink reeds minder. Hulle het seks op ’n later ouderdom. Hulle het ’n beter verhouding met hul ouers. Minder tienermeisies raak swanger.”

Sy drie kinders, Jennifer (22), Rory (19) en Phoebe (16), reis soms saam met hom.

Bill Gates en sy gesin
Bill se drie kinders, Jennifer (links), Rory en Phoebe, vergesel hom en sy vrou, Melinda, soms op hul wêreldreise. Foto: Facebook/Bill Gates

“Melinda vervul die meeste van die ouerlike pligte; sy laat elke kind by ’n gesin oorbly. Ek het al met hulle na krotbuurte gereis waarheen hulle nie wou gaan nie.”

By ’n nuwe bestemming verwag hul pa van hulle om uit te vind wat die BBP en bevolking is. “Ek gee vir hulle basiese statistieke en ’n paar vrae. Ek leer hulle hoe om oplettend te wees oor lande wat ek interessant vind.”

Hy sê sy kinders besef hoe gelukkig hulle is – nie oor hul rykdom nie, want hulle gaan elkeen net $10 miljoen (R140 miljoen) erf met dié dat hul ouers beloof het om die meeste van hul bates weg te gee – maar omdat hulle toegang het tot onderwys, gesprekke met inspirerende volwassenes en, anders as in sy kinderjare, die internet.

“Ek beny my kinders,” sê hy. “My seun kan aanlyn na ’n hof se mening gaan soek en in ’n gesprek weet hy dan baie meer as ek. Dis mag. My kinders maak vir my ’n speellys, en die sosiale netwerke het die voordeel dat dit inligting versprei. Dit kan aanvalle op individue en groepe ontketen, maar weeg dit swaarder as enige voordeel, soos familie wat ver van mekaar is wat in voeling kan bly?”

Hy het eens die grootste tegnomaatskappy ter wêreld bestuur – in 1975 het hy Microsoft saam met Paul Allen begin – maar hy mis dit nie.

“Dit was wonderlik om in jou tienerjare, 20’s, 30’s en 40’s persoonlik rekenaarkodes te skryf, ’n sagtewareplatform te bestuur en vir die wêreld te vertel persoonlike rekenaars is die beste ding wat ooit gebeur het. Ek was nie baie gefokus op die wye wêreld nie.

“Toe, op 38, trou ek en die proses begin, want Melinda het ’n sleutelrol gespeel en ons het met ’n gesin begin.

“Om nou met wetenskaplikes en regerings te praat en Afrika toe te gaan is die grootste pret vir my en die beste manier waarop ek my unieke belangstellings kan uitleef en my hulpbronne gebruik.

“Ek dink daarom nie: ‘Ek wens ek het nou sit en rekenaarkodes skryf en vir anders ouens gesê hul kodes is swak teenoor myne’ nie. Ek het bestuursvaardighede aangeleer en is ’n baie beter kommunikeerder.”

Ek dink dis kodetaal vir: Hy het voorheen op sy personeel geskree, maar stuur nou bloot saaklike e-posse af en toe. Hy kon die politiek betree het.

“Politici het beperkte termyne; ek kan vir altyd aanbly. Ek hoef nie ’n veldtog te voer of geld in te samel nie. Politici moet van 50 dinge kennis neem. Ek het besluit om baie oor min dinge te weet en ek kan vinniger resultate behaal.”

Bill Gates in Afrika
Bill spreek wêreldleiers onlangs toe in die Afrika-unie-gebou in Addis Ababa, Ethiopië. Foto: Gallo images/Reuters

Liefdadigheid, sê hy, is pret. “Dis meer stimulerend as ’n vakansie. Dis nie net vervullend nie; dis interessant. Ek is gelukkig dat ek twee loopbane gehad het. Die feit dat dié een nie ’n winsgedrewe, markaandeelgedrewe ding is nie, maak dit ’n bietjie meer ontspannend.”

Toe ek pres. Kagame weer later sien, sê hy vir my hy dink Bill verdien ’n Nobelprys vir die werk wat hy doen.

“Hoe gee die wêreld iets aan so iemand terug?” vra hy. “Dit sou vir hom geriefliker gewees het om nou net te ontspan. Hy het nie net sy geld nie, maar sy tyd, meer vakansies saam met sy gesin en selfs sy gesondheid vir Afrika opgeoffer. Hy lyk nou ouer, maar hy is ’n peetpa vir hierdie jong vasteland.”

Bill het net 26 minute voor sy vliegtuig gaan opstyg en ons is ver van die lughawe af, maar hy lyk onversteur terwyl ons voortskarrel. Hoe ontspan hy?

“Ek en Melinda mediteer byna daagliks,” sê hy. “Nie kruisbeen of enigiets nie, maar op stoele langs mekaar.”

Hulle het bypassende kantore langs mekaar in Seattle; hulle lees dikwels ’n hele paar uur per dag en kyk Netflix. Hy help met huiswerk en neem sy tienerkinders na sportwedstryde.

Hy sal af en toe ’n groot bedrag geld aan ’n veteraanmotor, ’n manuskrip van Leonardo da Vinci of ’n nuwe plaas bestee, maar hy is versigtig dat dit nie die aandag van die kwessies aftrek waarvoor hy hom beywer nie. Hy regverdig wel die straler, want dit help hom doeltreffender oor vastelande werk.

“Dit was ’n goeie reis,” sê hy vir my voor hy oor die rooitapyt reguit na die vliegtuig stap.

Die motore is reeds aangeskakel. Ek besef hy het die afgelope paar dae skaars uit lugversorgde vertrekke en motors gekom; hy het nie eens die son gevoel nie.

Die bagasie is afgelaai en sy biblioteek met boeke is aan boord. Nou sal hy lees en slaap. Nie een van sy assistente vlieg saam met hom nie; ek vermoed hulle ervaar hom as te intens en het dalk ook die rus nodig.

Daarom is Bill alleen toe hy aan boord van sy straler gaan, en hy lyk soos ’n klein bleeksiel van ’n seuntjie aan die einde van ’n avontuur. 

  • ©The Times Magazine / News Licensing