Van kleins af is Caitlin Rooskrantz al aan die klim en klouter; sy was immers so rats en behendig dat haar tante haar Spider-Woman genoem het.

Maar niemand sou toe kon droom dat dié klein woelwater nog geskiedenis sou maak nie: Caitlin is die eerste Suid-Afrikaanse vrouekunsgimnas wat vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.

Selfs vir Caitlin, van Florida in Roodepoort, het dit na 'n byna onmoontlike droom gevoel. “Om daar uit te kom het altyd so vergesog geklink,” sê die 17-­jarige leerder aan die Hoër Meisie­skool Parktown in Johannesburg. “Ek bedoel, dis die Olimpiese Spele!” roep sy uit.

Op die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Stuttgart, Duitsland, het Caitlin 'n telling van 49,466 punte uit 'n moontlike 50 behaal, al het sy eenkeer op die balanseerbalk gestruikel. 

By haar ma, Veda (links), en afrigter, Ilse Roets
By haar ma, Veda (links), en afrigter, Ilse Roets Pelser. Foto: Fani Mahuntsi

Met haar skitterende vertoning het sy vir haar 'n plek op die Olimpiese Spele van 2020 in Tokio, Japan, verseker.

“Dis ongelooflik,’’ sê Caitlin stralend in 'n glimmende leotard en sweetpakbroek. Sy het net 'n paar uur tevore op die O.R. Tambo-lughawe geland, maar nie eens vlugvoosheid kan die glimlag van haar gesig vee nie. “Dit begin eintlik nou eers insink.”

Haar prestasie het haar Suid-Afrika se jongste sportsensasie gemaak en die heldin van elke jong gimnas in die Johannesburgse Gimnastieksentrum in die voorstad Newlands.

Hier is dit vandag die ene bedrywigheid met gimnaste in kleurryke uitrustings wat aan die opwarm is – bene draai, arms swaai, en soepel lywe word in onwaarskynlike vorms gebuig. 

Maar alles kom tot stilstand toe Caitlin binnegestap kom, pas terug van die byeenkoms waar sy Suid-Afrika se naam hoog gehou het.

Die hele proses om te kwalifiseer was uitdagend, erken sy. “Geen Suid-Afrikaanse vrouekunsgimnas het al vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer nie en daar is altyd gewonder: Kan Suid-Afrika regtig daardie soort ding regkry?”

Maar Caitlin het nou dié vraag beantwoord – met 'n dawerende ja.

Caitlin oefen elke dag van Maandag tot Saterdag by
Caitlin oefen elke dag van Maandag tot Saterdag byna vyf uur lank. Foto: Instagram/ @cait.lin_01

Sy was ses jaar oud toe haar ma, Veda (50), haar vir gimnastieklesse inskryf. “Dit was asof dit by haar ingebore was, want as ’n klein kindjie was sy aktief, soepel en gedurig aan die klim en tuimel,’’ vertel haar ma.

Caitlin se pa, Delmé, 'n onderwyser, is dood toe sy agt was.

Daarna moes Veda haar dogter en seun, Dazzlé (toe 17), op haar inkomste as verpleegster grootmaak. “Al die geld wat ingekom het, was vir skoolgeld, 'n dak oor ons kop en om my motor aan die gang te hou,” vertel Veda. 

Veda is die Gimnastieksentrum en Caitlin se afrigter, Ilse Roets Pelser, baie dankbaar vir hul vrygewigheid en goedhartigheid deur die jare.

Ilse het vir Caitlin 'n borg gekry wat haar maandelikse gimgeld, fisioterapie en sessies by 'n sportsielkundige betaal. 

Vir Caitlin is “om nuwe vaardighede en roetines aan te leer” die opwindendste deel van kunsgimnastiek. Kunsgimnaste voer kort roetines op apparate soos die perd, balanseerbalk en asimmetriese brug uit, asook op die vloer. 

Dit verskil van ritmiese gimnastiekroetines wat dansbewegings op die vloer behels met handapparate soos 'n bal, hoepel of lint. 

Nog 'n lekkerte vir Caitlin is die talle geleenthede om te reis. Sy het al ophou tel hoeveel lande sy die afgelope ses jaar besoek het. 

Haar eerste buitelandse reis was toe sy as 11-jarige vir 'n oefenkamp Australië toe is.

Later daardie jaar, in Desember 2013, is sy na Serwië om die eerste keer in die buiteland deel te neem. Reis het haar horisonne verbreed, maar ook laat besef watter agterstand Suid-Afrikaanse gimnaste het. 

“Ons het altyd gevoel ons is nie so goed soos byvoorbeeld die Amerikaners of Russe nie. Hul afrigtingsgeriewe, hoeveel hulp hulle van hul regering kry . . .”

Sy het geskitter in Stuttgart, waar sy vir die Oli
Sy het geskitter in Stuttgart, waar sy vir die Olimpiese Spele in Japan gekwalifiseer het. Foto:Instagram/ @cait.lin_01

Tog het sy groot kompetisies begin wen. Dit het haar twee jaar gelede laat besef sy het dalk 'n kans om haar Olimpiese droom waar te maak. “Ek het daarna begin mik,” sê sy.

Maar dit was so amper of 'n knie­operasie in 2017 het haar gepootjie.

“My knie was gedurig ’n probleem en ek het besef ek kon dit nie nog druk nie, want ek was besig om ander dele van my lyf seer te maak omdat ek daarvoor geoorkompenseer het.”

Sy moes daarmee vrede maak dat sy nie aan kompetisies kon deelneem nie en moes ongelukkig die kampioenskaps­byeenkoms in Quebec, Kanada, misloop.

“Dit was moeilik,” onthou sy. “Ek onthou my afrigter het vir my gesê die operasie sal my loopbaan maak of breek.” 

Maar sowat nege maande later was Caitlin terug op die balanseerbalk, sterker en meer gemotiveerd as ooit. 

Sy het 'n “liefde-haat-verhouding” met gimnastiek, erken sy. “Dis moeilik en veeleisend – geestelik en liggaamlik.” 

'n Mens doen baie beserings op, sê sy. Daarby verg dit baie tyd om jou roetines te vervolmaak.

Maar met haar uitmuntende vertoning in Stuttgart het sy die soete vrugte van die ure lange oefensessies gepluk. 

Terwyl ons eie gimnastiekster met dié prestasie kitsroem verwerf het, blink Caitlin se oë toe sy vertel sy het haar heldin, Simone Biles (22), op dié byeenkoms in aksie gesien. 

Foto: Instagram/ @cait.lin_01
Foto: Instagram/ @cait.lin_01

Dié Amerikaanse gimnas het daar haar 25ste Wêreldkampioen­skapsmedalje gewen, die meeste nog vir enige gimnas – man of vrou. 

Om Simone te sien oefen en meeding was vir Caitlin inspirerend. 

“Mense sien haar op YouTube of Instagram, maar dis ongelooflik om haar in lewende lywe te sien.

“Sy’s eenvoudig nie normaal nie!” Sy het gehoop sy kon haar heldin ontmoet, maar dis moeilik om enigsins naby Simone te kom, vertel Caitlin.

“Sy is soos 'n glansmens. Sy het selfs 'n sekuriteitswag, want almal wil 'n foto saam met haar hê.”

Terug op eie bodem moet Caitlin tussen oefensessies deur haar matriekeindeksamen aflê. Sy erken die senuwees knaag.

“Maar ek sê vir myself ek was verlede jaar ook gespanne, en dit het goed gegaan.” 

Haar matriekjaar was vir haar veel­eisend, “maar alles kom op tydsbestuur neer”, vertel sy.

‘My afrigter het vir my gesê die operasie sal my loopbaan maak of breek’

Sy oefen elke weekdag en Saterdag­oggende vier en ’n half uur lank. Sondag is haar enigste rusdag.

Haar skool het haar gesteun en ekstra klasse gereël wanneer sy werk misgeloop het omdat sy elders moes deelneem.

Haar vriende is cool, voeg sy by. Hulle verstaan dat sy met haar oefenprogram moet volhou en probeer uitstappies so reël dat sy kan saamgaan.

Noudat sy klaar vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het, is haar volgende doelwit om goed in Tokio te presteer. Daarna wink die Statebondspele in 2022. Tussendeur wil sy graag 'n kort kursus in forensiese sielkunde volg. 

Ma Veda straal van trots oor haar dogter se ongelooflike prestasies. Sy wens net Caitlin se pa het nog geleef om haar te sien uitblink. “Hy het sokker gespeel, was ’n atleet en het gekyk na elke sport waaraan jy kon dink,” vertel sy oor haar oorlede man.

Veda het nog nie die geleentheid gehad om Caitlin in die buiteland te sien optree nie, maar sy is vasbeslote om aanstaande jaar na die Olimpiese Spele in Japan te gaan. 

“Ek weet nie hoe ek daar gaan kom nie, maar ek sal. Ek glo dit regtig.”

Geen opoffering is vir dié ma te groot nie. Sy werk nou deeltyds as 'n verpleegster sodat sy meer tyd het om Caitlin te help en rond te karwei. Daarby is Veda ook met vrywilligerswerk by die Gimnastieksentrum besig.

Caitlin kan nie haar ma se lof genoeg besing nie. “Sy’s my motorbestuurder; sy kook elke aand vir my; sy’s net my alles. Sonder haar sou ek nie gewees het waar ek nou is nie.” 

Hier, op die drumpel van 'n droom wat eens onbereikbaar gelyk het.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe