Loevenstein

’n Mens kan die twee siersteengeboue in die noordelike voorstede van Kaapstad nie miskyk nie. Tussen gegoede gesinshuise met lowergroen tuine reik die Seesig- en Tafelsigwoonstelblok in Loevenstein 12 verdiepings hoog in die lug op.

Seesig, wat snaaks genoeg geen uitsig op die see bied nie, se naam sal nou sinoniem word met een van die grusaamste moorde nog in Suid-Afrika.

Lynette Volschenk (32), ’n plattelandse vrou van Velddrif aan die Weskus wat as tekenaar by ’n ingenieursfirma in Bellville gewerk het, se verminkte liggaam is op Donderdag 22 Augustus omstreeks 11:00 in haar bloedbesmeerde woonstel, no. 1001 op die 10de verdieping van die Seesig-woonstelblok, aangetref. 

woonstel
Lint versper die ingang na haar woonstel. Foto: John Rodgers

Teen druktyd was dit onbekend of sy opgekap of opgesaag is, maar van haar liggaamsdele is in verskeie swartsakke in ’n woonstel in die gebou gevind, het die polisiewoordvoerder Noloyiso Rwexana aan Huisgenoot bevestig.

Wat die wrede lot wat haar getref het nog skokkender maak, is dat die vermeende moordenaar ook ’n jong inwoner van Seesig was – ’n buurman wat op die negende verdieping gewoon het.

woonstelblok
Die Seesig-woontstelblok. Foto: John Rodgers

Vier dae ná die gru-ontdekking verskyn Kyle Shaun Ruiters (21) op ’n grou Maandagoggend in die landdroshof in Bellville op aanklag van moord.

In sy swart-en-blou sweetpaktop staan hy kalm en uitdrukkingloos in die beskuldigdebank. Hy is glo in Lynette se woonstel betrap terwyl hy die bebloede mure geverf het en is toe in hegtenis geneem. Hy moet op 2 September weer in dieselfde hof verskyn.

“Hy het soos ’n baie chilled ou gelyk,” vertel ’n mede-inwoner van die Seesig-woonstelblok en skud sy kop in ongeloof.

Toe ons mense in die stil straat voor die woonstelblok oor die grugebeure uitvra, waai hulle ons verskrik weg.

kyle
Die verdagte Kyle Ruiters. Foto: Netwerk24/Jaco Marais

Die veiligheidswagte skop vas toe buitestanders by die groot elektriese hekke probeer inglip, maar eindelik stem ’n inwoner in om ons in die woonstelblok in te nooi.

Voor in die ingangsportaal staan ’n malvaplant sonder blomme in ’n pot langs ’n bord met elke inwoner se voorletter en van daarop. Lynette se naam is reeds verwyder.

Sy het soos ’n liewe mens gelyk.

Links in die voorportaal staan ’n vernielde kaktus onder die ritse houtposbusse. Hier het hy al in Lynette vasgeloop, vertel die inwoner.

“Ek het haar nie geken nie, maar ’n mens maak mos maar geselsies wanneer jy iemand in die voorportaal kry. Sy het soos ’n liewe mens gelyk.”

Hy het die Donderdagmiddag pas sy motor voor die gebou parkeer toe hy agterkom die woonstelblok is in rep en roer.

“Blykbaar het twee van haar kollegas na haar gaan soek toe sy nie by die werk opdaag nie. Wraggies, toe kry hulle die man in haar woonstel besig om die mure te verf.

’n Mens dink by jouself: Hoe sny jy iemand se lyf in vier stukke op?

“Hy sê toe glo Lynette het hom gevra om skoon te maak. Die man het toe vir hom gesê: ‘Nee, nee, ek ken vir Lynette; hier is iets aan die gang.’ En hy het toe sommer net daar ’n foto van die man geneem. Ek het gesien hoe wys hy dit vir die polisie. En dis toe dat hulle glo op die dele van haar liggaam afkom . . .

“Ek het gehoor daar was vier stukke. ’n Mens dink by jouself: Hoe sny jy iemand se lyf in vier stukke op?” Hy skud sy kop verdwaas.

Volgens gerugte is Lynette se lyk met ’n ystersaag en ’n mes opgesny. Haar liggaamsdele is toe in swart- en ander plastieksakke gesit. Die polisie het haar kop glo ’n dag later in ’n inkopiesak in die bosse naby die woonstelblok gevind.

‘ ’n Mens dink by jouself: Hoe sny jy iemand se lyf in vier stukke op?’

Op die 10de verdieping is die stukkie gang op pad na no. 1 001 vuilgetrap waar sy die afgelope vyf jaar gewoon het. Geel polisielint wat aan die venster se handvatsel en die traliehek vasgebind is, stuit jou in jou spore.

Langs die matjie voor die deur sien jy ’n paar gebruikte forensiese plastiekhandskoene, en links van die deur staan ’n potplant en gieter.

Leun jy oor die polisielint, sien jy die woord “Welcome’’ as deel van ’n keramiekversiering met twee hondjies daarop aan die traliehek.

Dan besef jy hierdie deur was vir Lynette die ingang tot wat sy as haar veilige hawe beskou het. Beweeg jy een verdieping ondertoe na no. 911, is ook dié woonstel met geel lint as ’n misdaadtoneel afgesper.

Woonstel no. 911

Hier het Kyle saam met sy tante adv. Theresa Ruiters gewoon wat hom as jong seun aangeneem en grootgemaak het. Dit was volgens alle aanduidings doodgewone jeugjare, want hy was ’n leerder aan die Hoër Seunskool Wynberg, een van die voorste Kaapse skole, en het vir die Westelike Provinsie yshokkie gespeel.

Theresa was voorheen die regsverteenwoordiger van Adam Woest, een van die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord van nege mense by Sizzlers, ’n gay masseerklub in Kaapstad.

Sy wil geen onderhoude toestaan terwyl die polisieondersoek na die moord op Lynette aan die gang is nie, het sy aan Huisgenoot gesê.

Velddrif

Sowat 160 km noord van Seesig hang ’n koue grysheid vandag oor Velddrif, Lynette se tuisdorp aan die Weskus. Klein veldblommetjies roer in die wind.

In Smitstraat staan haar grootwordhuis verlate. Die blindings van die grys baksteenhuis is dig toegetrek. ’n Groen skuit waarop ’n wit anker geverf is, staan op ’n waentjie in die voortuin. ’n Buurvrou beduie ons moet eerder om die hoek gaan klop.

“Haar beste vriendin woon daar,” sê sy. Yolandi Tolken (33), hier beter bekend as Yollie, verduidelik Lynette se ouers is sedert die tragedie in die Kaap.

Lynette en haar bestie
Lynette en haar skoolvriendin Yolandi Tolken. Foto: Verskaf

“Dit ruk jou steeds,” sê sy en gaan op die bank sit. Haar grysblou oë is troebel terwyl sy oor haar beste vriendin praat.

“Ons is al van sub A af vriende. Oor die 20 jaar . . . Sy is soos my suster. Dit is soos om familie te verloor,” sê sy.

“Ek kon haar nie Woensdagaand in die hande kry nie, maar het gedink sy is maar besig met studie. Sy het enigiets geleer wat sy kon. Sy was baie slim en het baie ambisie gehad.”

Toe Yollie Donderdagmiddag in die sosiale media lees wat met Lynette gebeur het, het sy eers gedink iemand het die kat aan die stert beet.

“Ek het vir tannie Jeanette (Lynette se ma) gebel en gesê ek hoor allerhande stories. Sy het vir my gesê dat alles wat ek gehoor het waar is.

Sy was te goed vir hierdie wêreld.

“Ek onthou ek het na my ma toe gestap en vir haar gesê Lynette is vermoor. Daarna kan ek niks meer onthou nie.

“Ek kry vreeslike angsaanvalle. En as ek so moet voel . . . Ek kan nie eens dink waardeur hulle (Lynette se familie) moet gaan nie.”

Yolandi
Yolandi sê Lynette se dood is vir haar swaar om te aanvaar. Foto: Corrie Hansen

Sy sit haar hande oor haar oë, haal haar bril af en vee die trane weg.

“Sy was te goed vir hierdie wêreld.”

Dan onthou sy hoe hulle nagte om sit en televisie kyk het.

“Grey’s Anatomy was ons gunsteling. Ons het altyd gesê ons is soos Meredith en Christina (twee hoofkarakters wat beste vriendinne is). En ons het báie soesji geëet.”

As Lynette haar vermeende moordenaar geken het, is Yollie seker sy sou daarvan geweet het.

“Hoe het hy toegang tot die woonstel gekry?” wonder sy. Lynette was baie veiligheidsbewus.

“Die woonstel het ’n veiligheidshek gehad en sy het die deur gesluit gehou.”

Die Maandag voor Lynette se dood het sy Yollie gelukgewens met haar verjaardag en daarna het hulle vir die laaste keer op WhatsApp gesels.

“Wie ook al sê ’n mens moet vergewe,” sê Yollie, “moet net weet dit is nie so maklik nie . . .”

  • Francois le Roux, Lynette se swaer en die Volschenk-familiewoordvoerder, sê aan Huisgenoot die familie het nog nie eens begin om die gebeure te verwerk nie. “Ons kies in dié stadium ’n media blackout. Die familie wil eers hul lewe weer in orde probeer kry en sien dat geregtigheid geskied.”
  • Kyle se voormalige skoolhoof Jan de Waal het bevestig hy was ’n leerder aan die Hoër Seunskool Wynberg, maar wou nie kommentaar lewer nie.
  • Ook Ben Denysschen van die Westelike Provinsie- yshokkievereniging het bevestig dat Kyle ’n speler was sonder om verder kommentaar te lewer.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.