So lank as wat sy kan onthou, het sy geweet hoe sy aan die buitekant lyk, pas nie by hoe sy aan die binnekant voel nie. Selfs as tweejarige seun het sy haar ma se hoë­hakskoene aangetrek en deur die huis gewaggel – en gelukkiger gevoel as wat sy ooit in ’n kortbroek en T-hemp was.

Destyds was sy Ryan, en 22 jaar lank was sy vasgevang in ’n liggaam wat sy gevoel het nie aan haar behoort nie.

Maar waar sy nou op die balkon van haar huis in Boksburg, Gauteng, sit, is Ryanne Bold (25) eindelik tevrede en volkome haarself: ’n pragtige vrou, stralend en elegant in ’n gestreepte katpak met swart hoëhakskoene daarby.

Langs haar sit haar man, Jonathan (27). Ryanne hou sy hand vas terwyl sy met Huisgenoot gesels oor haar reis van man tot vrou wat haar meer as R300 000 van haar eie geld gekos het.

Nie ’n maklike pad nie

Haar kinderjare was ’n gedurige nagmerrie van afknouery en diskriminasie; van haar man se vriende het hom teen haar probeer draai toe hulle van haar verlede uitvind; en haar mediese fonds wou nie vir haar geslagsverandering betaal nie, want sy het beperkte dekking gehad.

Tog was daar ook aanvaarding en steun tydens haar oorgang na die mens wat sy altyd wou wees.

Vandag wil sy haar storie vertel met die hoop dat sy ander mense wat hulle in ’n soortgelyke situasie bevind, sal inspireer en aanmoedig.

“Dis regtig onregverdig dat mense jou sommerso beoordeel,” sê sy.

“Ek het nooit enigiets gedoen om enigiemand anders kwaad aan te doen nie.”

Ryanne se skooldae was moeilik. Sy het nie aan sport deelgeneem nie, en omdat daar iets “anders” aan haar was, is sy genadeloos geterg.

Ryanne as seun.

“Ek het skoolberaders ­besoek, want ek is verskriklik geboelie,” vertel sy. “Hulle het die ‘diagnose’ gemaak dat ek gay is.”

Kinders sou “gay seun” vir haar skree en sy het elke dag mishandeling verduur. Toe sy in gr. 5 was, het ’n gr. 7-seun haar kop teen ’n muur gestamp.

“My lewe was ’n volslae hel,” sê sy.

“Ek het een jaar van hoërskool bygewoon, en naby die einde daarvan het ’n ander ma my ma gebel en gesê: ‘Jy moet jou kind uit die skool haal.’ ”

Haar ma, Annerie (51), en stiefpa, Colin (62), het haar daarna tuis onderrig. Ryanne het ure in haar kamer deurbring en alles wat sy kon aanlyn gelees oor trans­gender-wees.

Toe sy 22 was, het sy haar ma van haar plan vertel om ’n geslagsverandering te ondergaan. Annerie was nie verbaas nie.

“Sy het dit verwag,” sê Ryanne.

Afskeidspartytjie vir Ryan

Sy het toe haar base by die onderneming waar sy destyds gewerk het van haar plan vertel om chirurgie te ondergaan. Hulle was ondersteunend, het haar toestemming gegee om lang tye met verlof te wees en gereël dat sy kliënte in haar nuwe gedaante herontmoet.

“Ek het my oornag hervoorgestel. Die een dag het ek as ’n man gaan werk; die volgende dag was ek ’n vrou,” sê sy. Haar kollegas het selfs vir “Ryan” ’n afskeidspartytjie gehou.

Voor die operasie het Ryanne laser­behandelings begin kry om hare aan sommige dele van haar liggaam te verwyder, haarverlengings aan ander laat insit en voorgeskrewe hormone geneem om haar borste te laat ontwikkel.

In Februarie 2015 het sy ’n orgiëk­tomie– die verwydering van albei testikels – ondergaan en in Desember daardie jaar het sy na Kaapstad gevlieg om die rekonstruktiewe chirurg dr. Kevin Adams te raadpleeg.

'Sy's op pad uit'

Sy was vyf dae in die hospitaal aan ’n kateter, met ’n “sokkie” van gaas in haar nuutgevormde vaginale kanaal om te keer dat die wande aan mekaar vasgroei.

Toe ontwikkel komplikasies en was sy nie in staat om te urineer nie. Sy moes ’n noodoperasie ondergaan om weer ’n kateter te laat insit. Sy is twee dae voor Kersfees ontslaan en het na Johannesburg teruggevlieg.

Enkele dae later, op die dag ná Kersdag, het sy in ’n poel bloed wakker geword en is sy hospitaal toe gehaas.

“My uretra het van die vel weggeskeur. My bloeddruk het na iets belagliks soos 35 oor 40 gedaal, en ek het die paramedikus hoor sê: ‘Sy’s op pad uit,’ ” vertel ­Ryanne.

Sy raak emosioneel toe sy terugdink aan daardie skokoomblik. Sy is na die teater gehaas en vier dae in die hoësorgeenheid gehou, waar sy vier bloedoortappings moes kry.

“Tien dae daarna is die kateter ver­wyder – en dit was die einde van enige fisieke probleme.”

Met elke verbygaande dag het Ryanne gemakliker in haar nuwe lyf gevoel. En toe ontmoet sy en Jonathan mekaar in April 2016 op ’n partytjie.

“Ek het net hierdie pragtige meisie sien inkom. My asem was weg­geslaan,” sê Jonathan, wat in die veiligheidsbedryf werk.

Ryanne en Jonathan het mekaar kort ná haar operasie ontmoet.

Daardie aand het hulle die eerste keer gesoen. Nadat hulle twee weke lank in ’n verhouding was, het hy heel toevallig van haar verlede uitgevind.

Hulle het die naweek op Brits, Noordwes, by Jonathan se neef deurgebring. Die ouens het krieket gespeel, en terwyl Jonathan op die veld was, was ­Ryanne op die paviljoen toe iemand vermoedelik haar drankie dokter en sy siek word.

“Ek het haar na die naaste hospitaal geneem en moes haar mediesefondskaart en ID gee,” vertel Jonathan. “Dis toe dat hulle vir my sê die mens op haar ID is nie dieselfde mens nie. Hulle het gesê haar ID is vir ’n meneer.”

Ryanne wou dadelik die verhouding beëindig. Sy het gedink Jonathan sou niks meer met haar te doen wou hê nie, maar sy reaksie het haar verras.

“Ek het gesê: ‘Jy gaan nêrens nie,’ ” vertel Jonathan. “Ek het vir haar gesê: ‘Ek is lief vir jou oor wie jy is. Wat ook al gebeur, ons kan dit uitwerk.’ ”

’n Week later het hulle in ’n woonstel in Centurion ingetrek.

Maar Jonathan se vriende was nie so aanvaardend nie. Sy foon is bestook met boodskappe van mense wat hom aanspoor om Ryanne te los, want sy is nie “ ’n regte vrou” nie.

Toe hulle hom nie kon oorreed nie, het hulle Jonathan se pa in die hande gekry.

“Hy het hewig ontsteld geraak, maar my nooit daaroor gekonfronteer nie,” sê Jonathan. “My ma was ook ontsteld en het gevoel ek moes haar vertel het, maar ons wou dit stil hou.”

“Dit was nie oor ons dit ’n geheim wou hou nie,” sê Ryanne. “As jy my leer ken vir wie ek regtig is, hoekom moet jy oor my verlede weet?”

Nadat hulle drie maande uitgegaan het, het Jonathan Ryanne se ma se toestemming gekry om haar die jawoord te vra. En in November 2016 is die twee op ’n klein plegtigheid in Muldersdrift, wes van Johannesburg, getroud.

Hulle is getroud ná ’n warrelwindromanse van net ’n paar maande – ondanks die reaksie van baie van Jonathan se vriende oor Ryanne se verlede.

Ouerskap

Hulle wil nou ’n baba aanneem.

“Ons het ses uur van berading oor,” sê Ryanne opgewonde. “Wanneer dit klaar is en ons as voornemende ouers goedgekeur is, sal ons enigiets van een dag tot vier jaar vir ’n baba wag.”

Vir eers kry die egpaar se worshond al die aandag, maar hulle beplan om ’n baba aan te neem sodra die aansoekproses afgehandel is.

Ryanne, wat nou in die invoer-uitvoerbedryf by ’n logistiekonderneming werk, is optimisties oor die toekoms.

Sy glo as sy openlik praat, sal mense haar meer aanvaar en dat ander mense wat dieselfde dinge beleef as wat sy ervaar het ook gemakliker in hul vel sal voel en vry om te wees wie hulle werklik is.

“Toe ek 18 was, wou ek my eie lewe neem. En kyk nou. Jy moet doen wat jy moet doen om jou geluk te vind.” 

Foto's: Rowyn Lombard, Verskaf